hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 1 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Na die dood van Agab het Moab teen Israel gerebelleer.

2. Op ’n dag het Ahasia deur die bokamer se traliewerk van die paleis in Samaria geval en homself ernstig beseer. Hy stuur toe boodskappers met die opdrag: “Gaan raadpleeg vir Baäl-Sebub die god van Ekron om te verneem of ek van hierdie besering sal herstel.”

3. Maar die engel van die Here het vir Elia die Tisbiet gesê: “Gaan die boodskappers van die koning van Samaria tegemoet en vra vir hulle: ‘Hoekom gaan julle na Baäl-Sebub die god van Ekron om te vra of die koning gesond sal word? Is daar dan geen God in Israel nie?

4. Daarom sê die Here: ‘Jy sal nie opstaan uit die bed waarop jy lê nie. Jy sal sekerlik sterf.’” Elia het gegaan en die boodskap afgelewer.

5. Toe die boodskappers terugkom by die koning, vra hy vir hulle: “Hoekom is julle so gou terug?”

6. Hulle antwoord hom: “’n Man het ons teëgekom en gesê: ‘Gaan terug na die koning wat vir julle gestuur het en gee hom hierdie boodskap van die Here: Hoekom stuur jy boodskappers na Baäl-Sebub die god van Ekron om te vra of jy gesond sal word? Is dit omdat daar geen God in Israel is nie? Omdat jy dit gedoen het, sal jy nie opstaan uit die bed waarop jy lê nie. Jy sal sekerlik sterf.’”

7. “Wie is hierdie man?” vra die koning. “Hoe lyk hierdie man wat julle teëgekom het en hierdie boodskap gestuur het?”

8. Hulle antwoord hom: “Dit was ’n harige man met ’n leergordel om sy middel.”“Dit is Elia die Tisbiet!” roep die koning uit.

9. Toe stuur hy ’n offisier met 50 soldate om Elia te vang. Hulle het hom gekry waar hy bo-op ’n heuwel gesit het. Die offisier sê vir hom: “Man van God, die koning het beveel dat jy moet afkom.”

10. Maar Elia antwoord hom: “As ek dan ’n man van God is, laat daar vuur uit die hemel kom en jou en jou 50 manne verteer!” Daar kom toe vuur uit die hemel wat die offisier en sy 50 manskappe verteer het.Toe stuur die koning ’n ander offisier met 50 soldate. Die offisier sê vir hom:

11. “Man van God, die koning sê jy moet dadelik afkom!”

12. Elia antwoord hom: “As ek dan ’n man van God is, laat daar vuur uit die hemel kom en jou en jou 50 manne verteer!” Weereens het daar vuur van God uit die hemel gekom en die offisier en sy manskappe verteer.

13. Die koning stuur toe ’n derde keer ’n offisier met 50 soldate. Maar hierdie keer het die offisier gekom en op sy knieë voor Elia geval. Hy het by hom gepleit: “O man van God, spaar asseblief my lewe en die lewe van hierdie 50 manne, u dienaars.

14. Kyk net hoe het die vuur uit die hemel die eerste twee offisiere en hulle manskappe verteer! Asseblief, spaar tog nou my lewe!”

15. Toe sê die engel van die Here vir Elia: “Jy hoef nie vir hom bang te wees nie. Klim af en gaan gerus saam met hom.” Elia het opgestaan en afgegaan na die koning toe.

16. Elia sê vir die koning: “Dit is wat die Here sê: Hoekom stuur jy boodskappers na Baäl-Sebub die god van Ekron om te vra of jy gesond sal word? Is dit omdat daar geen God in Israel is wat jy kan raadpleeg nie? Omdat jy dit gedoen het, sal jy nie opstaan uit die bed waarop jy nou lê nie. Jy sal sekerlik sterf.”

17. Ahasia het toe gesterf net soos die Here deur Elia aangekondig het. Omdat Ahasia nie ’n seun gehad het nie, het sy broer Joram hom opgevolg. Dit het in die tweede regeringsjaar van Joram seun van Josafat, koning van Juda, gebeur. Die ander gebeurtenisse tydens Ahasia se regering is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.