hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hiskia regeer oor Juda

1. In die derde jaar van koning Hosea seun van Ela se bewind in Israel het Hiskia seun van Agas koning van Juda geword.

2. Hy was 25 toe hy koning geword het en het 29 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Abi dogter van Sagaria.

3. Hy het gedoen wat reg was vir die Here, net soos sy voorvader Dawid gedoen het.

4. Hy het die heidense hoogtes verwyder, die heilige klippilare stukkend geslaan en die Asjerapale afgekap. Hy het ook die bronsslang wat Moses gemaak het, stukkend geslaan omdat die Israeliete dit tot op daardie stadium met brandoffers vereer het. Die bronsslang is Negustan genoem.

5. Hiskia het op die Here, die God van Israel, vertrou. Daar was nie ’n koning in Juda soos hy nie, nie vóór hom of ná hom nie.

6. Hy het in alles getrou gebly aan die Here sonder dat hy afgedwaal het. Hy het al die gebooie wat die Here vir Moses gegee het, gehoorsaam.

7. Die Here was met Hiskia en hy was suksesvol in alles wat hy gedoen het. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en was nie meer aan hom onderdanig nie.

8. Hy het ook die Filistyne verslaan, of dit buitepos was of vestingstad, en hulle tot so ver as Gasa en sy grondgebied onderwerp.

9. In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia was Hosea seun van Ela in sy sewende regeringsjaar in Israel. In daardie jaar het koning Salmaneser van Assirië Israel aangeval en die stad Samaria beleër.

10. Na drie jaar, gedurende die sesde jaar van koning Hiskia se bewind en die negende jaar van koning Hosea se regering in Israel, is Samaria verower.

11. Die koning van Assirië het al die inwoners van Israel na Assirië toe weggevoer en hulle in Galag, langs die Gaborrivier in Gosan en die stede van die Mediërs hervestig.

12. Dit het gebeur omdat hulle nie geluister het na die Here hulle God nie. Hulle het sy verbond en al die gebooie wat die Here deur sy dienaar Moses gegee het, verbreek. Hulle wou nie daarna luister of dit gehoorsaam nie.

Assirië val Juda binne

13. In die veertiende jaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië gekom en al die vestingstede van Juda aangeval en verower.

14. Koning Hiskia stuur toe ’n boodskap aan die koning van Assirië in Lakis: “Ek het verkeerd gedoen. Ek sal betaal watter bedrag u eis, as u maar net die aanval sal staak.” Die koning van Assirië eis toe ’n boete van meer as tien ton silwer en omtrent een ton goud van koning Hiskia van Juda.

15. Hy het al die silwer wat in die tempel van die Here en in die skatkamers van die paleis te vind was, gebruik om die boete te betaal.

16. Hy het selfs op daardie tydstip die goud wat hy self aan die deure en die kosyne van die Here se tempel aangebring het, afgestroop en dit alles aan die Assiriese koning gegee.

17. Nogtans het die koning van Assirië sy hoofbevelvoerder, sy hoofamptenaar en sy hoofadjudant met ’n groot leër vanuit Lakis gestuur na koning Hiskia in Jerusalem. Hulle het tot by Jerusalem opgeruk en stelling ingeneem by die kanaal van die boonste dam, naby die pad na die Bleikveld toe.

18. Hulle roep toe na koning Hiskia, maar die koning stuur die volgende beamptes na hulle toe: die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna, en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf.

Sanherib dreig Jerusalem

19. Die hoofadjudant van die Assiriese koning stuur toe hierdie boodskap aan koning Hiskia: “Dit is wat die groot koning van Assirië sê: Waarop vertrou jy dat jy so hoopvol is?

20. Dink jy dat blote woorde weerstand kan bied teen militêre strategie en krag? Op wie vertrou jy dat jy teen my in opstand kom?

21. Is dit op Egipte? Egipte is ’n versplinterde riet wat onder jou gewig breek en ’n gat deur jou hand steek. Dit is wat die farao van Egipte doen met almal wat op hom staatmaak!

22. “Maar dalk sal julle sê: ‘Ons vertrou op die Here ons God!’ Is Hy dan nie die Een vir wie koning Hiskia beledig het nie? Dis mos al sy hoogtes en altare wat Hiskia afgebreek het en beveel het: ‘Elkeen in Juda moet net by hierdie altaar in Jerusalem aanbid!’

23. “Ek sal jou sê! My meester, die koning van Assirië, sal ’n ooreenkoms met jou aangaan: As jy 2 000 ruiters kan voorsien, sal ek jou 2 000 perde gee om op te ry.

24. Hoe sal jy weerstand kan bied teen een afdeling, die swakste van my heer se troepe, selfs met die hulp van Egipte se strydwaens en perderuiters?

25. Wat meer is, dink jy ons het jou land binnegeval sonder die goedkeuring van die Here? Die Here self het vir ons gesê: ‘Trek op en verwoes die land!’”

26. Toe sê Eljakim seun van Gilkija, Sebna en Joag vir die hoofadjudant: “Asseblief, praat met ons in Aramees, want ons verstaan dit goed. Moenie in Judees praat nie, want die verdedigers op die muur sal dit verstaan.”

27. Maar die hoofadjudant antwoord: “Dink julle my koning het my net na julle en julle koning toe gestuur met hierdie boodskap? Nee, die manskappe op die muur moet dit hoor, want hulle sal net soos julle hulle eie ontlasting eet en hulle eie urine drink!”

28. Toe gaan staan hy en skree hard in Judees: “Luister na die boodskap van die groot koning van Assirië!

29. Dit is wat die koning sê: Moenie toelaat dat koning Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie uit my mag red nie.

30. Moenie dat hy julle oorreed om op die Here te vertrou deur te sê: ‘Die Here sal ons beslis red! Hy sal nie toelaat dat hierdie stad in die mag van die koning van Assirië oorgegee word nie.’

31. “Moenie na Hiskia luister nie! Dit is wat die koning van Assirië sê: Maak vrede met my en kom oor na my toe. Dan sal ek toelaat dat elkeen van sy eie wingerdstok en vyeboom eet en uit sy eie put water drink.

32. Dan sal ek kom en julle na ’n ander land soos hierdie een van julle neem. Dis ’n land met koring en wyn, kos en wingerde, olyfbome en heuning. Kies nou die lewe in plaas van die dood!“Moenie na Hiskia luister wanneer hy sê ‘Die Here sal ons red!’ nie.

33. Het die gode van enige ander nasie ooit hulle mense uit die mag van die koning van Assirië gered?

34. Waar is die gode van Hamat en Arpad? En waar is die gode van Sefarwajim, Hena en Awwa? Het enige gode Samaria uit my mag gered?

35. Watter god van enige nasie was in staat om sy land uit my mag te red? Noem net één! Wat laat julle dink dat die Here vir Jerusalem sal red?”

36. Maar die manskappe het stilgebly en hom nie geantwoord nie, want koning Hiskia het hulle beveel om nie te praat nie.

37. Toe het die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf teruggegaan na Hiskia toe. Hulle het hulle klere geskeur en hom vertel wat die Assiriese stafhoof gesê het.