hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Manasse regeer in Juda

1. Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het en hy het 55 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Gefsiba.

2. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het die afskuwelike gebruike van die heidennasies wat die Here voor die Israeliete uit die land gedryf het, nagevolg.

3. Hy het die hoogtes wat sy pa, Hiskia, vernietig het, weer opgebou. Hy het Baälaltare en Asjerapale opgerig net soos koning Agab van Israel gedoen het. Hy het ook voor al die hemelliggame gebuig en hulle aanbid.

4. Hy het selfs afgodsaltare opgerig in die tempel van die Here, die plek waarvan die Here gesê het: “In Jerusalem wil Ek my Naam vestig.”

5. Hierdie altare ter ere van al die hemelliggame het hy in die twee voorhowe van die Here se tempel gebou.

6. Manasse het selfs sy eie seun as offer verbrand. Hy het toordery, waarsêery en goëlery beoefen en het geeste geraadpleeg. Hy het baie dinge gedoen wat verkeerd was vir die Here en Hom uitgetart.

7. Manasse het ook ’n Asjerapaal gemaak en dit opgerig in die tempel, die plek waarvan die Here vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “My Naam moet vir altyd vereer word in hierdie tempel in Jerusalem, die stad wat Ek uit al die stamme van Israel gekies het.

8. Die Israeliete moet my gebooie gehoorsaam, al die gebooie wat Ek deur my dienaar Moses gegee het. Dan sal Ek hulle nie uit hierdie land wat Ek vir hulle voorvaders gegee het, in ballingskap laat gaan nie.”

9. Maar die mense het geweier om te luister. Manasse het hulle nog meer kwaad laat doen as die heidense volke wat die Here vernietig het toe die Israeliete die land binnegekom het.

10. Toe het die Here deur sy dienaars die profete gesê:

11. “Koning Manasse van Juda het baie afstootlike dinge gedoen. Hy is meer goddeloos as die Amoriete wat voor Israel in die land gewoon het. Hy het die mense van Juda gelei om afgodery te pleeg.

12. Daarom, so sê die Here, die God van Israel: Ek bring soveel onheil oor Jerusalem en Juda dat die twee ore van hulle wat dit hoor, sal tuit.

13. Ek sal Jerusalem oordeel met dieselfde maatstaf wat Ek vir Samaria gebruik het en waarmee Ek die familie van Agab geoordeel het. Ek sal Jerusalem uitvee soos ’n mens ’n skottel uitvee en dit onderstebo draai.

14. Dan sal Ek die oorblyfsel van my volk verwerp en hulle oorgee as buit vir hulle vyande.

15. Want hulle het gedoen wat vir My verkeerd was, en het My uitgetart vandat hulle voorouers uit Egipte gekom het tot vandag toe.”

16. Manasse het ook so baie onskuldige bloed vergiet dat hy Jerusalem van hoek tot kant daarmee vol gemaak het. Dit was benewens die sonde wat hy Juda laat doen het. Dit alles was verkeerd vir die Here.

17. Die ander gebeurtenisse tydens Manasse se regering, alles wat hy gedoen het, asook die sondes wat hy gepleeg het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.

18. Toe hy sterf, is hy in die tuin van die paleis begrawe, die tuin van Ussa. Na hom het sy seun Amon koning geword.

Amon regeer in Juda

19. Amon was 22 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Mesullemet, die dogter van Garus uit Jotba.

20. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy pa Manasse gedoen het.

21. Hy het die voorbeeld van sy pa nagevolg deur dieselfde afstootlike afgode te dien as wat sy pa gedien het.

22. Hy het die Here, die God van sy voorouers, verlaat en nie die Here se voorskrifte gevolg nie.

23. Amon se eie dienaars het teen hom saamgesweer en die koning in sy paleis vermoor.

24. Maar die burgers van die land het almal wat teen koning Amon saamgesweer het, doodgemaak. Hulle het sy seun Josia in sy plek koning gemaak.

25. Die ander gebeurtenisse tydens Amon se regering en wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.

26. Hy is begrawe in die grafkelder in die tuin van Ussa. Sy seun Josia het hom as koning opgevolg.