hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die daaglikse offers

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Gee die volgende opdragte aan die Israeliete: ‘Sorg dat julle my offer op die tyd bring wat daarvoor bepaal is. Die offer wat julle vir My op die vuur bring, is my kos. Ek hou baie daarvan.’

3. “Sê vir hulle: Julle moet gereeld, dag vir dag, vir die Here twee gesonde jaaroud lammers as vuuroffer bring.

4. Een moet in die oggend en die ander een in die aand geoffer word.

5. Saam met elke lam moet julle ’n graanoffer bring van een en ’n half kilogram meel gemeng met een liter olyfolie.

6. “Dit was die gereelde brandoffer wat reeds by die Sinaiberg as vuuroffer gebring is, ’n vreugde vir die Here.

7. Saam met die lam moet julle ’n drankoffer van een liter wyn bring. Julle moet dit by die heiligdom uitgiet as ’n offer vir die Here.

8. Die tweede lam word in die aand gebring saam met ’n maaltydoffer en drankoffer net soos die offer van die oggend. Dit is ’n vuuroffer wat vir die Here vreugde verskaf.”

Offers op die Sabbat

9. “Op die Sabbatdag moet jy twee gesonde jaaroud lammers offer. Dit moet gedoen word saam met ’n graanoffer van drie kilogram meel wat met olie gemeng is en ’n drankoffer.

10. Dit is die brandoffer vir elke Sabbat bo en behalwe die gereelde brandoffer en sy drankoffers.”

Offers elke maand

11. “Op die eerste dag van elke maand moet julle brandoffers vir die Here bring van twee gesonde jong bulle, een ram en sewe jaaroud lammers.

12. Saam met elke bul moet julle ’n maaltydoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie. Saam met elke ram gaan ’n offer van drie kilogram meel met olie gemeng.

13. Saam met elke lam gaan ’n offer van een en ’n half kilogram meel gemeng met olie. Dit is ’n vuuroffer vir die Here, ’n brandoffer waarvan Hy baie hou.

14. Die drankoffer saam met elke bul bestaan uit twee liter wyn, saam met elke ram een en ’n derde liter wyn, en saam met die lammers een liter wyn.

15. Hierdie offers moet dwarsdeur die jaar op die eerste dag van elke maand gebring word.”

Paasfeesoffers

16. “Op die veertiende dag van die eerste maand moet die Paasfees tot eer van die Here gevier word.

17. Op die vyftiende dag van die maand begin ’n fees wat sewe dae lank duur. Gedurende hierdie fees mag julle net kos sonder suurdeeg eet.

18. Op die eerste dag van die fees moet julle ’n gewyde byeenkoms hou. Julle mag dan nie met julle gewone werk aangaan nie.

19. Julle moet dan vir die Here ’n vuuroffer bring. Dit is ’n brandoffer van twee gesonde jong bulle, ’n gesonde ram en sewe gesonde lammers van ’n jaar oud.

20. Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie. Saam met die offer van die ram bring julle drie kilogram meel.

21. Saam met elkeen van die sewe lammers bring julle een en ’n half kilogram meel.

22. Julle moet ook nog ’n bokram as sonde-offer bring om versoening vir julleself te doen.

23. Julle moet hierdie offers bo en behalwe die gereelde brandoffers bring van elke môre.

24. Op elkeen van die sewe dae moet julle die graanoffer bring as ’n vuuroffer wat vir die Here vreugde gee. Die offers moet bo en behalwe die gereelde brandoffer en drankoffer gebring word.

25. Op die sewende dag moet julle weer ’n gewyde byeenkoms hou. Ook op hierdie dag mag julle nie julle gewone werk doen nie.”

Offers by die Fees van die Weke

26. “Op die eerste dag van die Fees van die Weke bring julle ’n offer uit die nuwe graan wat geoes is. Op hierdie dag moet daar ’n gewyde byeenkoms vir die Here wees. Julle mag nie op daardie dag julle gewone werk doen nie.

27. Julle moet op daardie dag ’n buitengewone brandoffer vir die Here bring wat vir Hom vreugde gee. Dit bestaan uit twee jong bulle, ’n ram en sewe lammers wat ’n jaar oud is.

28. Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van vyf kilogram meel wat met olie gemeng is. Saam met die ram bring julle ’n offer van drie kilogram meel.

29. Saam met elkeen van die sewe lammers bring julle een en ’n half kilogram meel.

30. Offer ook nog ’n bokram as sonde-offer om vir julle versoening te bring.

31. Julle moet hierdie buitengewone offers saam met die drankoffers bring. Dit is bo en behalwe die gereelde brandoffer en die graanoffer. Julle moet seker maak dat die offerdiere gesonde diere is.”