hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Water uit die rots by Meriba

1. Die Israeliete het in die vroeë lente in die Sinwoestyn aangekom. Hulle het by Kades kamp opgeslaan. Mirjam is daar dood en begrawe.

2. Daar was nie genoeg water vir die mense om te drink nie. Hulle het toe op Moses en Aäron toegesak.

3. Hulle het in opstand gekom teen Moses en vir hom gesê: “Ons moes maar liewer saam met die ander voor die Here doodgegaan het!

4. Hoekom het julle die Here se mense na hierdie woestyn toe gelei sodat ons hier saam met ons vee kan doodgaan?

5. Waarom het julle ons uit Egipte weggevat en ons na hierdie onleefbare plek gebring? Hier is nie landerye of vyebome of granate nie. Hier is nie eers water om te drink nie!”

6. Moses en Aäron is van die mense af weg na die ingang van die tabernakel toe. Daar het hulle vooroor gekniel. Die magtige teenwoordigheid van die Here het na hulle gekom.

7. Die Here het vir Moses gesê:

8. “Gaan vat die stok voor die altaar. Jy en Aäron moet al die mense bymekaarkry. Terwyl hulle kyk, moet jy die rots beveel om water te gee. Daar sal genoeg water uit die rots kom sodat die mense en hulle diere hulle versadig kan drink.”

9. Moses het gemaak soos die Here gesê het en die stok by die ark gaan haal.

10. Moses en Aäron het die mense by die rots bymekaargekry. “Luister, julle opstandige mense,” het hy vir hulle gesê. “Moet daar vir julle water uit die rots kom?”

11. Moses het sy hand opgelig en twee keer met die stok teen die rots geslaan. Daar het toe water uitgeborrel. Al die mense en hulle vee het gedrink totdat hulle versadig was.

12. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Julle het my nie genoeg vertrou om vir die Israeliete te wys hoe heilig Ek is nie. Jy sal daarom nie hierdie mense inlei in die land wat Ek vir julle sal gee nie.”

13. Vandaar die naam “Waters van Meriba”, want die Israeliete het daar met die Here getwis. Daar het Hy vir hulle gewys hoe heilig Hy is.

Edom weier Israel toegang

14. Moses het van Kades af boodskappers na die koning van Edom gestuur: “Jou broersvolk Israel sê: Jy weet watter ontberings ons gely het.

15. Ons voorouers het afgegaan na Egipte toe. Ons het baie jare in Egipte gewoon. Egipte het ons voorouers baie sleg behandel.

16. Ons het die Here om hulp gesmeek. Hy het ons gebede verhoor en sy engel na ons toe gestuur. Hy het ons uit Egipte gelei. Ons is nou by Kades op die grens van jou land.

17. “Gee tog toestemming dat ons deur jou land kan trek. Ons sal nie deur jou veld of jou wingerde trek nie. Ons sal ook nie water uit jou putte gebruik nie. Ons sal op die Hoofweg van die Konings bly sonder om links of regs af te wyk totdat ons dwarsdeur jou gebied is.”

18. Die koning van Edom het hulle geantwoord: “Julle mag nie deur my gebied trek nie! Ek sal met my weermag teen julle uittrek!”

19. Die Israeliete het hom laat weet: “Ons sal met die grootpad langs hou. As ons of ons vee van jou water drink, sal ons daarvoor betaal. Ons wil werklik niks anders doen nie as net om deur jou gebied te trek.”

20. Hy het teruggeantwoord: “Julle trek nie hier deur nie!” Edom het toe met ’n groot en goed gewapende weermag uitgetrek om teen hulle te veg.

21. Omdat Edom geweier het om Israel toestemming te gee om deur sy gebied te trek, het Israel van hom af weggeswenk.

22. Hulle is toe weg van Kades af en die groep Israeliete het by die Horberg aangekom.

Aäron se dood

23. By die Horberg, op die grens van Edom, het die Here vir Moses en Aäron gesê:

24. “Aäron gaan nou by sy vaders versamel word. Hy sal nie ingaan in die land wat Ek vir die Israeliete gaan gee nie. Julle twee wou mos nie na my luister by die water van Meriba nie.

25. Vat nou vir Aäron en sy seun Eleasar saam met jou en klim uit teen die berg Hor.

26. Trek Aäron se ampsklere uit. Trek dit dan vir sy seun Eleasar aan. Aäron sal daar sterf en met sy vaders verenig word.”

27. Moses het gemaak soos die Here gesê het. Terwyl die volk staan en kyk, het hulle teen die Horberg uitgeklim.

28. Moses het Aäron se klere uitgetrek en sy seun Eleasar dit laat aantrek. Aäron het daar op die kruin van die berg gesterf. Moses en Eleasar het toe van die berg afgeklim.

29. Toe die mense sien dat Aäron dood is, het die hele Israel 30 dae lank oor hom gerou.