hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Kehatiete se werk

1. Die Here het toe vir Moses en Aäron gesê:

2. “Neem ook ’n sensus op van die Kehatiete onder die Leviete, volgens hulle afsonderlike familie- en stamgroepe.

3. Tel almal wat tussen 30 en 50 jaar oud is, wat in die tabernakel diens kan kom doen.

4. “Die Kehatiete sal in die tabernakel met die heel heiligste dinge werk.

5. Wanneer julle kamp afslaan om verder te trek, moet Aäron en sy seuns die afskortingsgordyn kom afhaal en oor die ark van die verbond trek.

6. Daar bo-oor moet hulle ’n laag gebreide vel trek en dít weer met ’n stuk blou materiaal toemaak. Dan moet hulle weer die drapale insteek.

7. “Hulle moet dan ’n blou doek bo-oor die tafel gooi waarop die brode gesit word. Hulle moet die borde, die lepels, die bakke, die drinkbekers en die brode bo-op die doek neersit.

8. Hulle moet dan daar bo-oor ’n rooi doek gooi en ’n stuk materiaal van gebreide bokvel bo-oor alles. Dan moet hulle die drapale weer deur die tafel se ringe steek.

9. “Hulle moet ’n donkerblou stuk materiaal vat en die kandelaar daarmee toegooi, saam met sy ligstaanders, die snuiters en die oliehouers wat daarvoor gebruik word.

10. Die kandelaar met sy toebehore moet dan ook in ’n gebreide vel toegedraai word. Dit moet alles op ’n draagbaar gesit word.

11. “Bo-oor die goue wierookaltaar moet hulle ’n blou doek gooi en dit weer met ’n stuk gebreide vel bo-oor toemaak. Hulle moet dan ook sy drapale weer deursteek.

12. Al die ander gereedskap wat by die heiligdom gebruik word, moet dan in ’n blou doek toegedraai word. Dit word weer in ’n vel gebreide leer toegedraai. Dit word dan ook op ’n draagbaar gesit.

13. “Krap die as van die altaar af en gooi ’n rooi doek daaroor.

14. Al die gereedskap wat by die altaar gebruik word, die vuurpanne, die hake, die grafies en die aspanne, dit alles moet bo-op die doek neergesit word en dit weer met ’n vel gebreide leer toegemaak word. Dan moet sy drapale weer deurgesteek word.

15. Wanneer Aäron en sy seuns alles van die heiligdom en die dinge wat daarby hoort, klaar toegemaak het en die kamp opgebreek het, sal die Kehatiete kom om dit te dra. Hulle mag aan niks wat heilig is raak nie, anders sal hulle doodgaan. Dit is dan alles van die tabernakel wat die Kehatiete moet vervoer.

16. “Eleasar, die priester Aäron se seun, is verantwoordelik vir die olie van die kandelaar, die geurige wierook, die daaglikse graanoffer en die salfolie. Die hele tabernakel en alles wat daarin gebruik word, is Eleasar se verantwoordelikheid.”

17. Die Here sê toe vir Moses en Aäron:

18. “Julle moenie toelaat dat die Kehatiete uit die Leviete verdwyn nie.

19. Julle moet sorg dat hulle nie sterf nie, maar bly lewe wanneer hulle die heel heiligste goed kom haal: Aäron en sy seuns moet saam met hulle kom en vir elkeen afsonderlik wys wat hy moet dra.

20. Hulle mag nooit op hulle eie na die heilige voorwerpe kom kyk nie, want dan sal hulle sterf.”

Die Gersoniete se werk

21. Die Here het vir Moses gesê:

22. “Tel ook die Gersoniete volgens hulle familie- en stamgroepe.

23. Tel dié tussen 30 en 50 jaar wat geskik is om in die tabernakel te kom diens doen.

24. “Die Gersoniete se werk is om dinge aan te dra.

25. Hulle moet die gordyne van die tabernakel dra, die tent en die velle wat bo-oor kom, die boonste laag van gebreide ramsvelle, en die gordyn wat by die deur van die tent kom.

26. Hulle moet ook die materiaal van die binnehof rondom die tabernakel en die altaar dra, asook die toue saam met alles wat daarvoor gebruik word. Die Gersoniete moet dit alles vervoer.

27. Aäron en sy seuns sal vir die Gersoniete sê wat hulle moet doen, of dit nou drawerk of ander werk is. Hulle sal besluit wat elkeen moet dra.

28. Dit is dan die werk wat die Gersoniete by die tabernakel moet doen. Hulle staan direk onder leiding van Itamar, die priester Aäron se seun.”

Die werk van die Merarigroep

29. “Tel nou ook die Merarigroep volgens hulle familie- en stamgroepe.

30. Tel almal tussen 30 en 50 wat by die tabernakel kan werk.

31. “Hulle werk sal ook wees om te help met die vervoer van die tabernakel. Hulle sal die rame, die dwarslatte en die regop pale met hulle voetstukke vervoer.

32. Die regop pale van die binnehof rondom die tabernakel met hulle voetstukke, die tentpenne, die toue en alles wat daarmee saam gebruik word, is hulle verantwoordelikheid. Jy moet vir elkeen afsonderlik sê wat hy moet versorg.

33. Dit is die werk wat die Merariete moet doen by die tabernakel. Itamar, die priester Aäron se seun, hou toesig oor hulle.”

Die Levietegroepe getel

34. Moses, Aäron en die leiers van die gemeenskap het die Kehatiete volgens hulle familie- en stamgroepe getel.

35. Dit was almal tussen 30 en 50 wat by die tabernakel moes werk.

36. Hulle was altesaam 2 750.

37. Dit was dus die somtotaal van al die Kehatiete wat by die tabernakel moes werk. Moses en Aäron het hulle getel soos die Here vir Moses gesê het.

38. Die Gersoniete is volgens hulle familie- en stamgroepe getel.

39. Dit was almal tussen 30 en 50 wat by die tabernakel diens moes doen.

40. Hulle getal was 2 630.

41. Dit was dus al die Gersoniete wat verpligtings by die tabernakel gehad het. Moses en Aäron het hulle getel soos die Here gesê het hulle moes doen.

42. Ook die Merariete is volgens hulle familie- en stamgroepe getel.

43. Dit was almal tussen 30 en 50 wat tabernakelpligtig was.

44. Hulle was 3 200.

45. Dit was almal van die Merariete wat diens moes doen. Moses en Aäron het hulle getel soos die Here vir hulle gesê het.

46. So het Moses en Aäron en die leiers van die gemeenskap al die Leviete volgens hulle familie- en stamgroepe getel.

47. Dit was almal tussen 30 en 50 jaar oud wat by die tabernakel moes werk.

48. Hulle was almal bymekaargetel 8 580.

49. Soos die Here hom beveel het, het Moses vir elkeen afsonderlik sy werk uitgedeel en gesê waarvoor hy verantwoordelik is. Moses het elkeen getel soos die Here vir hom gesê het.