hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Buitengewone reëlings vir die

Paasfees

1. Die Here het ’n opdrag aan Moses in die Sinaiwoestyn in die vroeë lente gegee. Dit was in die tweede jaar nadat hulle uit Egipte weg is. Hy het vir hom gesê:

2. “Die Israeliete moet die Paasfees op die regte tyd hou.

3. Julle moet die Paasfees vier op die veertiende dag van hierdie maand, teen aandskemer. Julle moet dit vier volgens die voorskrifte en reëls wat Ek vir julle gegee het.”

4. Moses het toe vir die Israeliete gesê om die Paasfees te hou.

5. Hulle het dit in die Sinaiwoestyn gevier op die veertiende dag van die eerste maand, teen aandskemer. Hulle het dit gehou presies soos die Here vir Moses beveel het.

6. Daar was egter mans wat onrein was omdat hulle aan ’n lyk moes vat. Hulle kon nie die Paasfees op daardie dag vier nie. Hulle het toe met Moses en Aäron daaroor kom praat.

7. Hulle het gesê: “Ons is onrein, want ons moes met ’n lyk werk. Waarom moet ons daarvan uitgesluit word om die Here se offer op hierdie tyd saam met die res van Israel te bring?”

8. Moses het gesê: “Wag net hier dat ek vir die Here kan vra wat Hy oor julle geval sê.”

9. Die Here het Moses geantwoord:

10. “Sê vir die Israeliete: As dit tyd is vir die Paasfees en iemand het onrein geword omdat hy ’n lyk moes hanteer, of hy is ver weg van die huis af, mag hy nog steeds die Paasfees vier.

11. Hulle moet dit egter ’n maand later vier op die veertiende dag teen skemeraand. Hulle moet op daardie dag die Paaslam eet saam met die ongesuurde brood en die bitter kruie.

12. Daar mag niks daarvan oor wees teen die volgende oggend nie. Hulle mag ook nie die lam se bene breek nie. Hulle moet verder al die gewone voorskrifte vir die Paasfees volg.

13. “Dié wat nie onrein is nie, en nie weg is van die huis af nie, en nogtans nalaat om die Paasfees te vier, sal uit my volk verban word. Hulle het nie op die bepaalde tyd die Here se offer gebring nie. Hulle sal die gevolge van hulle oortreding moet dra.

14. As iemand wat van buite die land kom, tydelik by julle oorbly en ook die Paasfees vir die Here wil vier, moet hy presies dieselfde voorskrifte en reëls volg. Een en dieselfde stel reëls geld vir sowel die vreemdeling as die permanente inwoner van die land.”

Israel trek agter die wolk aan

15. Die dag toe die tabernakel opgerig is, het ’n wolk daaroor kom hang. Gedurende die nag het dit gelyk soos ’n bondel vuur.

16. So het dit altyd gebly: ’n wolk in die dag en iets wat soos vuur lyk in die nag.

17. Wanneer die wolk van die tent af opgelig het, het die Israeliete kamp opgebreek en dit gevolg. Waar die wolk gaan staan het, daar het die Israeliete kamp opgeslaan.

18. Op bevel van die Here het die Israeliete getrek en op sy bevel weer kamp opgeslaan. So lank as wat die wolk oor die tabernakel bly hang het, het hulle daar bly kamp.

19. As die wolk vir ’n lang tyd oor die tabernakel bly hang het, het die Israeliete net daar gebly en nie verskuif nie.

20. Dit het soms gebeur dat die wolk net vir ’n paar dae oor die tabernakel stilgestaan het. So het hulle op die Here se bevel stilgestaan en weer verder getrek as Hy so beveel het.

21. Soms het dit gebeur dat die wolk net oornag op een plek bly staan het en die volgende oggend weer begin beweeg het. Of dit egter dag of nag was, hulle het begin trek as die wolk begin beweeg.

22. Die Israeliete het op ’n plek gebly waar die wolk oor die tabernakel gehang het, of dit nou vir twee dae, of ’n maand, of selfs langer was. Hulle het nie van daar af weggegaan nie. Sodra die wolk egter van die tabernakel af oplig, het hulle agterna getrek.

23. So het hulle volgens die Here se besluit gekamp of getrek. Hulle het volgens die bevele opgetree wat die Here deur Moses vir hulle gegee het.