hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Blyplek vir die Leviete

1. Terwyl hulle nog op die Moabsvlakte langs die Jordaan reg teenoor Jerigo gestaan het, het die Here vir Moses gesê:

2. “Beveel die Israeliete om van hulle grond vir die Leviete te gee sodat hulle dorpe kan hê om in te bly. Hulle moet ook die veld rondom die dorpe vir hulle gee.

3. Die Leviete sal dan hulle eie blyplekke hê. Die veld rondom sal weiplek wees vir hulle beeste, kleinvee en hulle ander diere.

4. Die weiveld wat julle vir die Leviete gee, moet tot ten minste 450 meter ver buite die muur van die dorp gaan.

5. Meet van die buitekant van die dorp 900 meter af in al die rigtings – oos, suid, wes en noord – met die dorp reg in die middel. Dit sal die groter gebied rondom die dorp wees.

6. “Van die dorpe wat julle vir die Leviete gee, moet ses dorpe aangewys word waarheen iemand kan vlug wat ’n ander mens doodgemaak het. Behalwe hierdie ses moet julle ook nog 42 ander dorpe vir die Leviete gee.

7. In totaal moet julle dus 48 dorpe met hulle oop gebied rondom vir die Leviete gee.

8. “Die dorpe wat julle vir hulle afstaan, moet uit die Israeliete se eie grondgebied kom. Die groter stamme moet meer dorpe afstaan en die kleiner stamme minder. Elke stam moet aan die Leviete blyplek gee in verhouding tot die grond wat hy gekry het.”

Plekke om heen te vlug

9. Die Here het toe vir Moses gesê:

10. “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle deur die Jordaan getrek het en in Kanaän by,

11. moet julle bepaalde dorpe aanwys waar iemand wat ’n ander mens sonder opset doodgemaak het asiel kan gaan kry.

12. Die persoon sal hier beskerming teen die wraak van die vermoorde se familie kry. Die persoon mag nie tereggestel word voordat hy voor die regters verskyn het nie.

13. Julle moet op ses plekke besluit.

14. Drie van hulle moet oos van die Jordaan wees en drie aan die westekant in Kanaän.

15. Hierdie ses plekke moet beskerming gee vir Israeliete, vreemdelinge en enigiemand wat tydelik tussen julle woon. Enigeen wat ’n ander een per ongeluk doodgemaak het, kan daarheen vlug.”

Reëls vir iemand wat ’n ander

doodmaak

16. “As iemand ’n ander een met ’n stuk yster slaan en hy gaan dood, het hy moord gepleeg. Die moordenaar moet beslis tereggestel word.

17. As iemand ’n ander een met ’n groot klip in sy hand doodgemaak het, is dit moord. Hy moet beslis doodgemaak word.

18. As hy hom met ’n stuk hout doodgeslaan het, is dit moord. Hy moet tereggestel word.

19. Die slagoffer se naaste familielid moet sy dood wreek. Hy moet die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.

20. As iemand ’n ander doelbewus stamp of hom voorlê en met iets gooi, en die persoon gaan dood,

21. of hom moedswillig met die vuis slaan sodat hy sterf, moet hy tereggestel word. Hy is skuldig aan moord. ’n Naaste familielid van die slagoffer moet sy dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.

22. “As iemand egter sonder opset en sonder dat hy dit vooraf beplan het, iemand anders omstamp sodat hy sterf, of hom per ongeluk met iets raak gooi sonder dat hy dit bedoel het,

23. of as iemand sonder dat hy mooi kyk iemand teen wie hy niks het nie met ’n klip raak gooi dat hy daarvan doodgaan,

24. moet die regters in die saak tussen die aangeklaagde en die naaste familielede uitspraak lewer volgens hierdie riglyne.

25. Die regters moet die beskuldigde beskerm teen die familie wat wil wraak neem. Hulle moet hom terugstuur na die plek van asiel waarheen hy gevlug het. Hy moet daar bly totdat die hoëpriester, wat vir sy amp met olie gesalf is, die dag doodgaan.

26. “As die persoon wat die ander doodgemaak het, die gebied verlaat van die plek waarheen hy vir asiel gevlug het,

27. en die familielid wat die dood moet wreek, loop hom raak buite die gebied waar hy vrywaring geniet, mag die familielid hom doodmaak. Hy sal nie skuldig wees aan moord nie.

28. Die man wat die ander se dood veroorsaak het, moet in die plek van asiel bly totdat die hoëpriester sterf. Hy kan eers nadat die hoëpriester dood is, teruggaan na sy eie grond waar hy vandaan kom.

29. “Hierdie riglyne staan vas vir julle en vir julle nageslag, waar julle julle ook al bevind.

30. “Enige persoon wat skuldig bevind word dat hy iemand anders doodgemaak het, moet tereggestel word. Hy mag egter nooit op grond van slegs een getuie tereggestel word nie.

31. “Julle mag nooit ’n afkoopboete aanvaar vir ’n moordenaar wat skuldig bevind is nie. Hy moet beslis doodgemaak word.

32. Julle mag ook nie afkoopgeld aanvaar vir iemand wat na ’n plek van asiel gevlug het sodat hy kan terugkom na sy plek van herkoms voordat die hoëpriester dood is nie.

33. Julle moenie die land besoedel waarin julle woon nie. Moord besoedel die land. Die moord wat gepleeg is, kan ook nie anders versoen word as deur die teregstelling van hom wat die moord gepleeg het nie.

34. Julle moenie die land waarin julle woon onrein maak nie. Ék bly ook daar. Ek is die Here wat tussen die Israeliete bly.”