hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moses stuur verkenners uit

1. Die Here het toe vir Moses gesê:

2. “Stuur mans uit om die land Kanaän te gaan verken wat Ek aan die Israeliete gaan gee. Stuur van elke stam een van hulle leiers uit.”

3. Moses het gemaak soos die Here gesê het. Hy het daar van die Paranwoestyn af mans na Kanaän toe uitgestuur. Elkeen van hulle was ’n leier in Israel.

4. Hulle was: Sammua, seun van Sakkur uit die stam Ruben,

5. Safat, seun van Gori uit die stam van Simeon,

6. Kaleb, seun van Jefunne uit die stam Juda,

7. Jigal, seun van Josef uit die stam Issaskar,

8. Hosea, seun van Nun uit die stam Efraim,

9. Palti, seun van Rafu uit die stam Benjamin,

10. Gaddiël, seun van Sodi uit die stam Sebulon,

11. Gaddi, seun van Susi uit die stam Manasse,

12. Ammiël, seun van Gemalli uit die stam Dan,

13. Setur, seun van Migael uit die stam Aser,

14. Nagbi, seun van Wofsi uit die stam Naftali,

15. Geüel, seun van Maki uit die stam Gad.

16. Dit is die name van die mans wat Moses uitgestuur het om die land te gaan verken. Moses het Hosea, die seun van Nun, se naam verander na Josua.

17. Toe hy hulle uitstuur om die land Kanaän te gaan verken, het Moses vir hulle gesê: “Gaan van hier af reg deur die Negevwoestyn noord na die heuwelgebied.

18. Kyk hoe die land is. Kyk of die inwoners sterk of swak is, of hulle min of baie is.

19. Kyk of die land waarin hulle woon goed of sleg is. Kyk of die dorpe waarin hulle woon oop is en of dit met mure versterk is.

20. Let op of die grond ryk of arm is, boomryk is of nie. Wees dapper en bring van die vrugte van die land saam terug.” Dit was juis in die tyd toe die eerste druiwe geoes is.

21. Hulle het toe die land gaan verken, van die Sinwoestyn af deur tot by Regob by Lebo-Hamat.

22. Die mans het deur die suidelike woestyn gegaan en by Hebron aangekom. Enak se nasate, Agiman, Sesai en Talmai, het daar gewoon. Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou.

23. Hulle het daarna by die Eskolspruit aangekom. Daar het hulle ’n tros druiwe gepluk. Hulle moes dit aan ’n stok tussen twee van hulle dra. Hulle het daar ook granate en vye gepluk.

24. Die naam van die plek is toe na Eskol herdoop, na aanleiding van die tros druiwe wat die Israeliete daar gepluk het.

Die verkenners doen verslag

25. Aan die einde van die 40 dae het die mans van die verkenningstog af teruggekom.

26. Hulle het by Moses, Aäron en die Israeliete aangekom waar hulle by Kades in die Paranwoestyn staan. Hulle het aan die Israeliete verslag gedoen en vir hulle die vrugte gewys wat hulle saamgebring het.

27. Die mans het aan Moses rapporteer: “Ons het na die land gaan kyk waarheen jy ons gestuur het. Dit is ’n baie vrugbare land. Hier is van sy vrugte.

28. Die mense wat in die land woon, is egter baie sterk. Hulle het groot stede met verdedigingsmure om. Ons het ook Enak se nageslag daar gesien.

29. Die Amalekiete bly in die Negevwoestyn. Die Hetiete, Jebusiete en Amoriete bly in die heuwelgebied. Die Kanaäniete woon langs die Middellandse See en in die Jordaanvallei.

30. Kaleb het egter die volk probeer gerusstel. Hy het gesê: “Laat ons optrek en die land gaan oorneem. Ons is daartoe in staat.”

31. Die ander mans wat saam met hom gegaan het, het egter gesê: “Ons durf nie teen hulle optrek nie. Hulle is sterker as ons.”

32. Hulle het toe ’n gerug begin versprei oor die land wat hulle gaan verken het: “Die land waarna ons gaan kyk het, is ’n land wat sy inwoners opeis. Al die volke wat ons daarin gesien het, is besonder groot mense.

33. Ons het Enak se nageslag daar gesien. Hulle is reuse. Ons het voor hulle soos sprinkane gelyk.”