hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die tekens van die trompette

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Maak vir jou twee trompette van uitgerolde silwer. Gebruik hulle om die gemeenskap bymekaar te roep. Dit moet ook die teken wees om die kamp af te slaan.

3. As al twee gelyk blaas, sal dit die teken wees dat almal by die ingang van die tabernakel bymekaar moet kom.

4. Wanneer net een blaas, is dit die teken dat net die leiers van die stamme na jou toe moet kom.

5. “Wanneer jy een keer hard blaas, sal die kamp aan die oostekant eerste begin oppak om te trek.

6. Wanneer jy die tweede keer blaas, sal die kamp aan die suidekant begin gereedmaak om te gaan. Jy moet dan ’n tweede teken blaas om te begin beweeg.

7. Wanneer jy die gemeenskap bymekaar wil roep, moet jy weer ’n ander soort sein gee.

8. Net Aäron se seuns, die priesters, mag die trompet blaas. Dit is ’n onveranderlike reëling vir al die geslagte.

9. “Wanneer julle in julle land aankom en oorlog maak teen julle vyande, moet julle die oproep na die oorlog op hierdie trompette blaas. Die Here julle God sal dan aan julle dink en julle die vyand laat oorwin.

10. By feestelike geleenthede, op die jaarlikse feesdae, en aan die begin van elke maand, ook wanneer julle brandoffers en vrede-offers bring, moet julle op die trompette blaas. Dit sal julle aan julle God laat dink. Ek is die Here julle God.”

Die volgorde waarin hulle getrek

het

11. Op ’n dag in die middel van die lente het die wolk bo die tabernakel opgelig. Dit was op die twintigste in die tweede jaar na hulle uit Egipte weg is.

12. Die Israeliete het opgepak en weggetrek uit die Sinaiwoestyn uit. Die wolk het toe in die Paranwoestyn gaan stilstaan.

13. Dit was die eerste keer dat hulle op bevel van die Here begin trek het. Hy het sy bevele vir hulle deur middel van Moses gegee.

14. Die mense onder die vaandel van Juda, wat deur Nagson gelei is, het eerste begin marsjeer.

15. Issaskar was onder leiding van Netanel, die seun van Suar.

16. Die Sebulonstam was onder leiding van Eliab, seun van Gelon.

17. Die tabernakel is afgeslaan. Die Gersoniete en die Merariete het dit vervoer.

18. Die mense onder die vaandel van Ruben het volgende vertrek. Hulle is aangevoer deur Elisur, die seun van Sedeür.

19. Selumiël, seun van Suri-Saddai, het die stam van Simeon gelei.

20. Eljasaf, seun van Reüel, het die stam van Gad gelei.

21. Die Kehatiete het daarna begin trek. Hulle het die toerusting van die tabernakel vervoer. Teen die tyd dat hulle by die eindbestemming aangekom het, was die tabernakel alreeds opgeslaan.

22. Die groepe onder die vaandel van Efraim was volgende aan die beurt. Hulle is gelei deur Elisama, seun van Ammihud.

23. Die stam van Manasse se leier was Gamliël, seun van Pedasur.

24. Die Benjaminiete is gelei deur Abidan, seun van Gidoni.

25. Die groepe onder die vaandel van Dan, het laaste vertrek. Hulle het die agterhoede van die hele kamp gevorm. Hulle leier was Agiëser, seun van Ammi-Saddai.

26. Pagiël, seun van Okran, het die stam van Aser gelei.

27. Enan se seun Agira het die stam van Naftali gelei.

28. Dit was die volgorde waarin die Israeliete kamp opgebreek en gemarsjeer het.

Moses vra Hobab om saam te

gaan

29. Moses het op ’n keer vir sy swaer Hobab, die seun van Reüel die Midianiet, gesê: “Ons is op pad na die land wat die Here ons God vir ons belowe het. Gaan saam met ons. Ons sal vir jou goed wees. Die Here het vir ons goeie dinge belowe.”

30. Hobab het geantwoord: “Nee, ek wil nie. Ek wil eerder teruggaan na my eie land en mense toe.”

31. Moses het hom toe gesoebat: “Moenie ons in die steek laat nie. Jy ken die woestyn waar ons moet kamp. Jy kan ons help kyk waar ons moet staan.

32. Trek saam met ons. Ons sal al die goeie dinge wat die Here vir ons gee, met jou deel.”

Israel vertrek vanaf Sinai

33. Hulle is van die berg van die Here af weg. Hulle het drie dae lank getrek. Die ark van die Here se verbond is drie dae ver voor hulle uit om te soek vir ’n plek waar hulle kan kamp opslaan.

34. Die wolk van die Here het bo hulle gehang wanneer hulle van hulle kampplek af vertrek het.

35. Wanneer die ark begin beweeg het, het Moses uitgeroep: “Trek op, Here! Laat u vyande voor U uit wegskarrel! Laat hulle vlug voor u aanval!”

36. Wanneer die ark weer op sy plek neergesit is, het hy gesê:“Kom terug, Here,na die duisendtalle van Israel!”