hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Leviete aangestel om die

priesters te help

1. Toe die Here met Moses by Sinaiberg gepraat het, het hy en Aäron reeds ’n nageslag gehad.

2. Aäron se seuns was Nadab, die oudste, en ook Abihu, Eleasar en Itamar.

3. Hulle is gesalf om priesters te wees.

4. Nadab en Abihu is egter dood omdat hulle in die Sinaiwoestyn verkeerde vuur vir die Here geoffer het. Hulle is dood sonder enige nageslag. Eleasar en Itamar was dus die enigste om saam met Aäron die priesterwerk te doen.

5. As gevolg hiervan het die Here vir Moses gesê:

6. “Roep die stam van Levi op en stel hulle aan om saam met Aäron as priesters te dien.

7. Hulle sal Aäron en die gemeenskap in die tabernakel bystaan en daar bepaalde take verrig.

8. Hulle sal na die toerusting van die tabernakel omsien en namens die Israeliete daar werk.

9. Stel nou die Leviete aan as Aäron en sy seuns se helpers. Uit die Israeliete sal hulle hom voltyds bystaan.

10. Stel Aäron en sy seuns in beheer van die werk van die priesters. Enigiemand anders wat daar naby kom, sal doodgemaak word.”

11. Die Here sê toe verder vir Moses:

12. “Ek aanvaar die Leviete uit al die Israeliete as die plaasvervangers vir die seuns wat eerste gebore word. Die Leviete sal aan My behoort.

13. Al die seuns wat eerste gebore word, behoort mos aan My. Sedert Ek al die oudste seuns van die Egiptenaars doodgemaak het, het Ek die eerste een wat van mense en diere gebore word in Israel vir Myself opgeëis. Hulle behoort aan My.”

14. Die Here sê toe verder vir Moses daar in die woestyn:

15. “Tel die Leviete volgens hulle familiename en stamgroepe. Tel al die manlike persone van ’n maand en ouer.”

16. Hy het gemaak soos die Here vir hom gesê het en hulle getel.

17. Levi het drie seuns gehad: Gerson, Kehat en Merari.

18. Die afstammelinge van Gerson was Libni en Simi.

19. Die Kehatgroep se nageslag was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël.

20. Merari se mense was Magli en Musi. Dit was al Levi se afstammelinge.

21. Die Gersoniete het bestaan uit die familiegroepe van Libni en Simi.

22. Hulle manspersone ouer as ’n maand wat getel is, was altesaam 7 500.

23. Hierdie groep het aan die westekant van die tabernakel gebly.

24. Eljasaf seun van Lael was hulle leier.

25. Die Gersoniete se werk was om by die tabernakel te sorg vir die seile wat bo-oor die tent kom, die afskorting by die ingang van die tent,

26. die afskorting rondom die binnehof en die gordyn by die ingang van die binnehof, die tenttoue en die onderhoud daarvan.

27. Die Kehatgroep het bestaan uit Amram, Jishar, Hebron en Ussiël.

28. Hulle manspersone bo ’n maand oud was altesaam 8 600. Hulle moes na die heiligdom omsien.

29. Hierdie groep het aan die suidekant van die tabernakel gebly.

30. Elisafan, die seun van Ussiël, was hulle leier.

31. Hulle moes omsien na die ark, die tafel, die kandelaar, die altare, die gereedskap wat in die heiligdom gebruik is, die voorhangsel en al die werk wat daar gedoen is.

32. Aäron se seun, die priester Eleasar, was aan die hoof van al die Leviete wat die heiligdom moes versorg.

33. Merari se nageslag was Magli en Musi.

34. Hulle manlike persone bo ’n maand oud was 6 200.

35. Hulle het noord van die tabernakel gebly. Hulle leier was Suriël, die seun van Abigajil.

36. Hulle werk was om te sorg vir die rame waaroor die tent getrek is, die dwarslatte wat dit vasgehou het, die regop pale en hulle voetstukke, al hulle toebehore en die onderhoud wat daaraan gedoen moes word.

37. Hulle moes ook sorg vir die pale van die binnehof rondom die tent, hulle voetstukke, hulle ankerpenne en hulle tenttoue.

38. Moses, Aäron en sy seuns wat namens die Israeliete by die tabernakel diens moes doen, het aan die oostekant van die heiligdom gebly, aan die kant waar die son opkom. Hulle moes die heiligdom oppas. Enigiemand anders wat daar gekom het, moes doodgemaak word.

39. Al die manlike persone uit Levi wat Moses en Aäron op bevel van die Here getel het, was altesaam 22 000.

Plaasvervangers vir die oudste

seuns

40. Toe sê die Here vir Moses: “Tel nou al die eersgebore seuns onder die Israeliete wat ouer as ’n maand is. Skryf hulle name op.

41. Die Leviete sal vir hulle instaan. Ek is die Here. Die Leviete se vee sal ook instaan vir die eersgebore vee van die Israeliete.”

42. Soos die Here vir hom gesê het, het Moses al die oudste seuns in Israel getel.

43. Al die oudste seuns wat getel is, was 22 273.

44. Toe sê die Here vir Moses:

45. “Laat die Leviete instaan vir al die oudste seuns in Israel. Vat ook die Leviete se vee as plaasvervangers vir die vee wat eerste gebore is. Die Leviete behoort aan My. Ek is die Here.

46. Daar is 273 meer oudste seuns in Israel as die Leviete. Koop hulle los.

47. Vat vyf stukke silwer vir elkeen van hulle. Elke geldstuk moet volgens die standaardgewig van die tempel wees.

48. Gee die geld vir Aäron en sy seuns as ’n losprys vir die persone wat te veel is.”

49. Moses het toe die geld bymekaargekry om dié wat te veel was, los te koop.

50. Die geld wat hy bymekaargekry het, was ongeveer vyftien en ’n half kilogram silwer.

51. Soos die Here vir Moses gesê het, het hy gemaak. Hy het die silwer vir Aäron en sy seuns gegee om daarmee die oudste seuns los te koop.