hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 6 Bybel vir Almal (ABA)

Jesus gee vir baie mense kos

1. Jesus het na die ander kant van die See van Galilea gegaan. Die mense het dit ook die See van Tiberias genoem.

2. Baie mense het saam met Jesus gegaan, want hulle het die wondertekens gesien toe Hy siek mense gesond gemaak het.

3. Jesus het teen die berg opgegaan en Hy en sy dissipels het daar gaan sit.

4. Die Joodse Paasfees was naby.

5. Jesus het gesien baie mense kom na Hom toe. Toe sê Hy vir Filippus: “Waar gaan ons brood koop vir al hierdie mense om te eet?”

6. Jesus het dit gesê omdat Hy wou kyk wat Filippus gaan doen. Jesus het klaar geweet wat Hy gaan doen.

7. Filippus het vir Jesus gesê: “As ons 200 silwer geldstukke het, sal dit te min wees om vir elkeen van hierdie mense ’n stukkie brood te koop.”

8. Simon Petrus se broer, Andreas, was een van Jesus se dissipels. Hy het vir Jesus gesê:

9. “Hier is ’n seuntjie wat vyf garsbrode en twee visse het, maar dit is te min vir so baie mense.”

10. Jesus het vir die dissipels gesê: “Julle moet vir die mense sê hulle moet gaan sit.”Daar was genoeg gras waarop die mense kon sit. Daar was baie mense. Die mans was omtrent 5 000.

11. Toe het Jesus die brood geneem. Hy het gebid en vir God dankie gesê vir die brood. Jesus het die brood gegee vir die mense wat daar sit. Hy het ook vir hulle van die vis gegee. Daar was baie kos, die mense kon genoeg eet.

12. Toe die mense genoeg geëet het, sê Jesus vir sy dissipels: “Julle moet al die stukkies kos optel wat oorgebly het. Ons moet dit nie mors nie.”

13. Die dissipels het die stukkies bymekaargemaak. Daar het twaalf mandjies vol oorgebly nadat die mense van die vyf garsbrode geëet het.

14. Die mense het gesien dat Jesus ’n wonderteken gedoen het. Hulle sê toe: “Nou weet ons Hy is die Profeet wat na die wêreld toe kom.”

15. Die mense wou Jesus gryp en Hom koning maak. Maar toe Jesus dit sien, het Hy weer weggegaan na die berg. Hy het alleen gegaan.

Jesus loop op die see

16. Dit het aand geword, en Jesus se dissipels het na die see gegaan.

17. Hulle het in ’n boot geklim en hulle het probeer om oor die see na die stad Kapernaum te gaan. Later was dit donker en Jesus het nog nie na hulle toe gekom nie.

18. Die branders op die see was wild, want daar het ’n sterk wind gewaai.

19. Toe die dissipels omtrent 25 of 30 stadioi geroei het, sien hulle vir Jesus. Hy het op die see geloop en Hy het naby die boot gekom. Die dissipels het bang geword,

20. maar Jesus het vir hulle gesê: “Dit is Ek! Julle moenie bang wees nie.”

21. Toe wou die dissipels hê Jesus moet in die boot klim. Dadelik daarna het hulle met die boot by die plek aangekom waarnatoe hulle wou gaan.

Die mense soek vir Jesus

22. Die volgende dag het die mense wat nog anderkant die see was, gesien daar is net een bootjie. Hulle het geweet Jesus het nie saam met sy dissipels in die boot geklim nie, die dissipels het alleen weggegaan.

23. Daar het ook ander bootjies van die stad Tiberias aangekom naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here Jesus gebid en vir God dankie gesê het.

24. Die mense het gesien Jesus en sy dissipels is nie daar nie. Hulle het toe in die bootjies geklim en hulle het na die stad Kapernaum gegaan om vir Jesus te soek.

Jesus is die brood wat geestelike lewe gee

25. Toe die mense vir Jesus daar in Kapernaum kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het U hiernatoe gekom?”

26. Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle soek My, maar nie omdat julle die wondertekens gesien het wat Ek doen nie. Julle soek My omdat julle so lekker brood geëet het.

27. Julle moenie net werk om kos te kry nie, kos wat sleg word. Julle moet alles doen om die kos te kry wat goed bly tot in die ewige lewe. Ek, die Seun van die mens, sal vir julle daardie soort kos gee. Ek kan dit doen, want God die Vader het gesê Ek mag dit doen.”

28. Toe vra die mense vir Jesus: “Wat moet ons doen as ons wil doen wat God wil hê?”

29. Jesus het vir hulle gesê: “As julle wil doen wat God wil hê, dan moet julle in My glo, want God het My na die wêreld gestuur.”

30. Toe sê die mense vir Jesus: “Watter wonderteken sal jy doen sodat ons dit kan sien en in jou kan glo? Wat sal jy doen?

31. Ons voorvaders het manna in die woestyn geëet. In die Ou Testament is geskryf:“Hy het vir hulle brood gegeeom te eet,die brood wat uitdie hemel kom.”

32. Jesus het vir die mense gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle dink dit is Moses wat vir julle die brood gegee het wat uit die hemel gekom het. Nee, dit is my Vader wat nou vir julle die regte brood gee wat uit die hemel kom.

33. Die brood wat God gee, is Iemand wat uit die hemel kom om vir die mense van die wêreld die ware lewe te gee.”

34. Die mense het vir Jesus gevra: “Meneer, jy moet altyd vir ons van hierdie brood gee.”

35. Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood wat die lewe gee. Almal wat na My toe kom, sal nooit geestelik honger word nie. Almal wat in My glo, sal nooit geestelik dors word nie.

36. Maar Ek het klaar vir julle gesê dat julle sien wat Ek doen, maar julle glo nie in My nie.

37. Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom. Ek sal iemand wat na My toe kom, nooit wegjaag nie.

38. Ek het uit die hemel gekom, nie om self te besluit wat Ek wil doen nie, maar om te doen wat die Vader wil hê Ek moet doen, die Vader wat My gestuur het.

39. Die Vader wat My gestuur het, wil hê Ek moenie een van die mense wat Hy vir My gegee het, laat verlore gaan nie. Hy wil hê Ek moet hulle op die laaste dag weer laat lewe.

40. My Vader wil hê elkeen wat My sien en wat glo in My, die Seun, moet die ewige lewe kry. Ek sal hulle almal op die laaste dag weer laat lewe.”

41. Die Jode was baie ontevrede en hulle het oor Jesus begin kla. Hulle het nie daarvan gehou dat Jesus gesê het Hy is die brood wat uit die hemel kom nie.

42. Die Jode het vir mekaar gesê: “Jesus is die seun van Josef, ons ken sy pa en sy ma. Hy kan nie sê dat hy uit die hemel kom nie.”

43. Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet ophou kla.

44. My Vader het My na die wêreld gestuur. As die Vader iemand nie trek nie, dan kan daardie persoon nie na My toe kom nie, en Ek sal hom op die laaste dag weer laat lewe.

45. Een van die profete in die Ou Testament het geskryf:“Hulle sal almalGod se leerlinge wees.“Dit beteken dat elkeen wat na die Vader luister en wat by Hom leer, na My toe kom.

46. Dit beteken nie dat iemand anders ook die Vader gesien het nie. Net Ek het die Vader gesien, Ek wat van God kom.

47. Ek sê vir julle, en dit is seker: Elkeen wat in My glo, sal altyd lewe.

48. Ek is die brood wat die ewige lewe gee.

49. Julle voorvaders het manna geëet in die woestyn, maar hulle het later gesterf.

50. Maar die brood wat uit die hemel kom, is anders. Elkeen wat van hierdie brood eet, sal nooit sterf nie.

51. Ek is die brood wat self lewe en wat ook lewe gee. Ek kom uit die hemel. As iemand van hierdie brood eet, dan sal hy altyd lewe. Die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die mense van die wêreld altyd kan lewe.”

52. Die Jode het toe baie met mekaar gestry en gesê: “Hoe kan Jesus vir ons sy liggaam gee om te eet?”

53. Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is die Seun van die mens. As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, dan sal julle nie altyd lewe nie.

54. Iemand wat my liggaam eet en my bloed drink, sal altyd lewe. Ek sal hom op die laaste dag weer laat lewe.

55. Dit sal gebeur, want my liggaam en my bloed is die ware kos.

56. Wanneer iemand my liggaam eet en my bloed drink, dan is Ek by hom en hy is by My.

57. Die Vader lewe. Hy het My gestuur en Hy laat My lewe. So laat Ek ook almal lewe wat my liggaam eet.

58. Julle moet verstaan dat die brood wat uit die hemel gekom het, heeltemal anders is as die manna wat julle voorvaders in die woestyn geëet het. Hulle het nie aangehou lewe nie, hulle het gesterf, maar iemand wat hierdie brood uit die hemel eet, sal altyd lewe.”

59. Jesus het al hierdie dinge oor die brood wat uit die hemel kom, vir die mense geleer in die sinagoge in Kapernaum.

Jesus se woorde laat mense altyd lewe

60. Baie van Jesus se dissipels het gehoor wat Hy sê oor die brood uit die hemel. Hulle sê toe: “Die dinge wat Jesus sê, is baie moeilik om te verstaan. Ons wil dit nie hoor nie.”

61. Niemand het dit vir Jesus gesê nie, maar Hy het geweet dat sy dissipels kla. Hy het vir hulle gevra: “Hou julle nie van die dinge wat Ek sê nie?

62. Wat sal julle sê wanneer julle sien dat Ek, die Seun van die mens, teruggaan na die hemel waar Ek voorheen was?

63. Dit is die Heilige Gees wat vir julle waarlik weer laat lewe. Julle kan dit nie self doen nie. Wanneer Ek met julle praat, dan kom die Gees na julle toe en Hy laat julle waarlik lewe.

64. Maar party van julle glo nie in My nie.”Jesus het van die begin af geweet wie nie in Hom sal glo nie. Hy het ook van die begin af geweet wie Hom sal verraai.

65. Jesus het ook vir hulle gesê: “Dit is hoekom Ek vir julle gesê het niemand kan self na My toe kom nie. Die Vader bring hom na My toe.”

66. Hieroor het baie van Jesus se dissipels teruggegaan. Hulle wou nie langer saam met Jesus gaan nie.

67. Toe vra Jesus vir die twaalf dissipels: “En julle, wil julle ook weggaan?”

68. Simon Petrus het vir Jesus gesê: “Nee, Here, daar is niemand na wie toe ons kan gaan nie. Die dinge wat U sê, laat mense altyd lewe.

69. Ons glo en weet dat U die Heilige is wat van God kom.”

70. Jesus het vir hulle gesê: “Ek het twaalf van julle gekies om dissipels te wees, maar een van julle is ’n duiwel!”

71. Jesus het gepraat van Judas, die seun van Simon Iskariot. Judas was een van Jesus se dissipels, maar hy het later vir Jesus verraai.