hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 21 Bybel vir Almal (ABA)

Jesus verskyn aan sewe dissipels

1. Nadat Jesus met Tomas gepraat het, het Jesus weer aan die dissipels verskyn. Dit was by die See van Tiberias en dit het so gebeur:

2. Daar was ’n paar dissipels bymekaar. Hulle was Simon Petrus, Tomas, sy ander naam was “Tweeling,” Natanael van die stad Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus, en nog twee van Jesus se dissipels.

3. Simon Petrus het vir die ander dissipels gesê: “Ek gaan visvang.”Hulle sê toe vir hom: “Ons gaan saam met jou.”Hulle het gegaan en hulle het in die boot geklim, maar hulle het daardie nag niks vis gevang nie.

4. Toe dit oggend word, het Jesus langs die see gestaan, maar die dissipels het nie geweet dit is Jesus nie.

5. Jesus vra toe vir hulle: “My vriende, het julle iets gevang om te eet?”Hulle sê vir Hom: “Nee, ons het nie.”

6. Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet die visnet regs van die boot uitgooi, dan sal julle iets vang.”Hulle het die visnet uitgegooi in die water. Daar was toe so baie visse in die net dat hulle dit nie kon intrek nie.

7. Die dissipel vir wie Jesus lief was, sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!”Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy bo-kleed aangetrek, want hy het nie al sy klere aangehad nie. Hy het in die see gespring en na Jesus toe gegaan.

8. Die ander dissipels het met die boot gekom en hulle het die visnet gesleep wat vol visse was. Dit was nie ver na die land nie, omtrent 200 el.

9. Die dissipels het uit die boot geklim. Hulle sien toe ’n vuur op die strand, en daar was vis op die kole. Daar was ook brood.

10. Jesus het vir hulle gesê: “Bring van die vis wat julle nou gevang het.”

11. Simon Petrus het in die boot geklim en hy het die visnet op die land getrek. Die visnet was vol groot visse, daar was 153 visse. Daar was baie visse in die net, maar die visnet het nie geskeur nie.

12. Jesus het vir hulle gesê: “Kom eet julle oggend-ete!”Die dissipels wou nie reguit vir Hom vra wie Hy is nie, hulle het geweet dit is die Here.

13. Jesus kom toe en Hy neem van die brood en gee dit vir hulle. Hy het ook vir hulle van die vis gegee.

14. Dit was die derde maal dat Jesus aan die dissipels verskyn het nadat God Hom weer laat lewe het.

Jesus en Petrus

15. Toe die dissipels klaar oggend-ete geëet het, sê Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, is jy lief vir My, meer as die ander dissipels?”Petrus het gesê: “Ja, Here, U weet ek is lief vir U!”Jesus sê toe vir hom: “Dan moet jy my skape laat wei, jy moet sorg vir my mense.”

16. Jesus het die tweede maal vir Petrus gevra: “Simon, seun van Johannes, is jy lief vir My?”Petrus sê vir Hom: “Ja, Here, U weet ek is lief vir U!”Jesus sê toe vir hom: “Dan moet jy ’n herder wees vir my mense.”

17. Jesus het die derde maal vir Petrus gevra: “Simon, seun van Johannes, is jy lief vir My?”Petrus het baie hartseer geword omdat Jesus die derde maal vir hom gevra het of hy lief is vir Hom. Hy sê toe vir Jesus: “Here, U weet alles! U weet Ek is lief vir U!”Jesus sê toe vir hom: “Dan moet jy sorg vir my mense.

18. Petrus, Ek sê vir jou, en dit is seker: Toe jy jonk was, het jy self jou klere vasgemaak en jy het gegaan waar jy wil. Maar jy sal oud word en jy sal jou hande uitsteek en iemand anders sal jou klere vasmaak en hy sal jou wegneem na ’n plek waar jy nie wil wees nie.”

19. Toe Jesus dit gesê het, het Hy verduidelik hoe Petrus later sal sterf en vir God sal eer. Toe het Jesus vir Petrus gesê: “Kom saam met My!”

Jesus en die dissipel vir wie Jesus lief was

20. Petrus het omgedraai. Hy sien toe die dissipel vir wie Jesus lief was, kom ook saam. Dit was dieselfde dissipel wat langs Jesus gesit het toe hulle geëet het en wat vir Jesus gevra het: “Here, sê vir ons wie is dit wat vir U sal verraai.”

21. Toe Petrus die dissipel sien vir wie Jesus lief was, vra hy vir Jesus: “Here, wat sal gebeur met daardie dissipel?”

22. Jesus het vir hom gesê: “As Ek wil hê hy moet lewe totdat Ek kom, dan is dit nie jou probleem nie. Ek het gesê jý moet saam met My kom.”

23. Die dissipels het toe gedink die dissipel vir wie Jesus lief was, sal nooit doodgaan nie. Maar hulle was verkeerd. Jesus het nie gesê daardie dissipel sal nie doodgaan nie. Jesus het vir Petrus gesê: “As Ek wil hê hy moet lewe totdat Ek kom, dan is dit nie jou probleem nie.”

24. Die dissipel vir wie Jesus lief was, is die dissipel wat alles vertel het wat in hierdie boek geskryf is, hy het dit alles geskryf. Ons weet dit is waar wat hy vertel het.

25. Jesus het ook baie ander dinge gedoen, maar ’n mens lees nie daarvan in hierdie boek nie. As ’n mens oor dit alles ook wil skryf, dan dink ek daar sal nie genoeg plek in die wêreld wees vir al die boeke nie.