hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 1 Bybel vir Almal (ABA)

Die Woord het mens geword

1. Die Woord was daar voor alles begin het. Die Woord was by God en die Woord was self God.

2. Hy was in die begin by God.

3. God en die Woord het alles gemaak. God het niks alleen gemaak nie. Hy en die Woord het alles gemaak.

4. Die Woord het die lewe gebring, en hierdie lewe was die lig vir die mense.

5. Hierdie lig skyn in die donker, en die donker kon nie die lig doodmaak nie.

6. God het ’n man gestuur, sy naam was Johannes.

7. Hy het gekom om vir die mense te vertel van die lig, sodat almal wat dit hoor, kon glo.

8. Johannes was nie self die lig nie, maar hy moes vir die mense kom vertel van die lig.

9. Die Woord was die ware lig. Hy moes vir al die mense lig bring. Hy het klaar begin om na die wêreld te kom.

10. Die Woord was in die wêreld. God en die Woord het die wêreld gemaak, maar die mense van die wêreld wou nie die Woord ken nie.

11. Hy het na sy eie mense toe gekom, maar hulle het Hom nie aanvaar nie.

12. Party mense het Hom aanvaar en hulle het in Hom geglo. Hy het vir hulle gesê hulle mag kinders van God wees.

13. Elke mens het ’n pa, maar die kinders van God het nóg ’n pa. Hulle Vader is God self.

14. Die Woord het mens geword en Hy het by ons kom woon. Toe ons die wonderlike dinge sien wat Hy doen, het ons geweet dat Hy God is. Niemand anders was soos die Woord nie, net Hy het van die Vader gekom. Hy het vir ons gewys dat God altyd genadig is.

15. Johannes het vir die mense vertel van die Woord. Hy het gesê: “Hy is die Een, ek het van Hom gepraat toe ek vir julle gesê het: ‘Iemand sal kom nadat ek gekom het. Maar Hy is belangriker as ek, want Hy was daar lank voor my.’ ”

16. Die Woord is vol genade. Ons het genade gekry van Hom, baie genade.

17. Moses het die wette gebring, maar Jesus Christus het die genade gebring wat nooit ophou nie.

18. Niemand het vir God gesien nie, nog nooit nie. Maar Jesus Christus het vir ons duidelik kom sê hoe God is. Niemand anders is soos Jesus nie, Hy is self God en Hy is altyd naby die Vader.

Die Jode probeer uitvind wie Johannes die Doper is

19. Die Jode het priesters en Leviete uit Jerusalem na Johannes toe gestuur. Hulle het vir hom gevra: “Wie is jy?”Johannes het toe vir hulle vertel.

20. Hy het nie stilgebly daaroor nie, hy het reguit met hulle gepraat en gesê: “Ek is nie die Christus nie.”

21. Toe vra hulle vir Johannes: “Wie is jy? Is jy Elia?”En hy sê: “Nee, ek is nie Elia nie.”Toe vra hulle: “Is jy die profeet?”Hy het geantwoord: “Nee.”

22. Hulle het vir hom gesê: “Wie is jy? Sê vir ons, want ons moet dit gaan vertel vir die mense wat ons gestuur het. Wat sê jy oor jouself?”

23. Johannes het gesê: Ek is die man wat indie woestyn skree en sê:Maak die pad gereed vir die Here!Dit is wat die profeet Jesaja gesê het.

24. Die Jode het die mense na Johannes toe gestuur. Party van die mense was Fariseërs.

25. Die Fariseërs het vir Johannes gesê: “Jy sê jy is nie die Christus of Elia of die profeet nie. Hoekom doop jy die mense?”

26. Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water. Maar daar is Iemand by julle, julle ken Hom nie.

27. Hy is die Een wat sal kom nadat ek gekom het. Hy is baie belangrik, ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie.”

28. Dit het alles gebeur in die stad Betanië anderkant die Jordaan-rivier. Johannes het die mense daar gedoop.

Jesus is die Lam wat die sonde van die wêreld wegneem

29. Die volgende dag het Johannes gesien Jesus kom na hom toe. Johannes sê toe hard: “Kyk, daar is die Lam wat God vir ons gee! Hy sal die sonde van die wêreld wegneem.

30. Ek het van Hóm gepraat toe ek gesê het: ‘Ek het gekom, en ná my sal ’n Man kom. Hy is belangriker as ek, want Hy was daar lank voor my.’

31. Ek het Hom nie geken nie, maar ek het gekom om die mense van Israel met water te doop sodat hulle sal weet wie Hy is.”

32. Johannes het ook gesê: “Ek het gesien die Heilige Gees kom soos ’n duif uit die hemel en bly op Hom.

33. Ek het Hom nie geken nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Jy sal sien die Gees kom af en bly op Hom. Dit is Hy wat die mense met die Heilige Gees sal doop.’

34. Ek het dit self gesien. Daarom sê ek vir julle: Hierdie Man is die Seun van God.”

Jesus se eerste dissipels

35. Die volgende dag het Johannes en twee van sy dissipels weer daar gestaan.

36. Johannes het gesien Jesus loop verby. Johannes het hard gesê: “Kyk, daar is die Lam wat God vir ons gee!”

37. Die twee dissipels het gehoor wat Johannes gesê het. Daarom het hulle begin om Jesus te volg.

38. Jesus het omgedraai en Hy het gesien hulle volg Hom. Hy vra toe vir hulle: “Wat soek julle?”Hulle het geantwoord: “Rabbi, waar woon U?”’n Rabbi is iemand wat vir mense leer hoe om God te dien.

39. Jesus sê toe vir hulle: “Kom kyk!”Hulle het gegaan en hulle het die plek gesien waar Hy woon. Dit was omtrent vier-uur die middag. Hulle het daardie hele dag by Jesus gebly.

40. Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee dissipels wat gehoor het wat Johannes gesê het en wat toe saam met Jesus gegaan het.

41. Andreas het eers sy broer Simon gaan soek en hy het vir Simon gesê: “Ons het die Messias gekry!”Messias beteken “Christus.”

42. Andreas het vir Simon na Jesus toe gebring. Toe Jesus vir Simon sien, sê Hy: “Jy is Simon seun van Johannes. Jou naam sal nou Sefas wees.” Petrus is die Griekse woord vir Sefas.

Filippus en Natanael volg vir Jesus

43. Die volgende dag het Jesus besluit om na die provinsie Galilea te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!”

44. Filippus het in Betsaida gewoon. Dit was dieselfde stad waar Andreas en Petrus gewoon het.

45. Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Moses het in sy boeke geskryf oor die Man wat sal kom, en die profete het ook oor Hom geskryf. Ons het Hom gekry! Sy naam is Jesus. Hy is die seun van Josef en Hy kom van die stad Nasaret.”

46. Maar Natanael het vir hom gesê: “Nasaret? Kan daar uit Nasaret iets kom wat goed is?”Filippus sê toe vir hom: “Kom kyk!”

47. Jesus het vir Natanael gesien nader kom en Hy het gesê: “Hierdie man is ’n ware Israeliet! Hy is nie vals nie.”

48. Natanael vra toe vir Jesus: “Hoe weet U dit? Ken U my?”Jesus sê vir hom: “Ek het jou daar onder die vyeboom gesien voordat Filippus jou geroep het.”

49. Natanael het vir Jesus gesê: “Rabbi, U is die Seun van God! U is die Koning van Israel!”

50. Jesus het vir hom gesê: “Jy glo in My omdat Ek vir jou gesê het Ek het jou daar onder die vyeboom gesien, maar jy sal nog dinge sien wat baie wonderliker is!”

51. Jesus het ook vir hom gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle sal sien die hemel gaan oop en die engele van God gaan van My na God toe, en hulle kom van Hom na My toe, na My, die Seun van die mens.”