hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7 Bybel vir Almal (ABA)

Jesus se broers glo nie in Hom nie

1. Jesus het toe na baie plekke in die provinsie Galilea gegaan. Hy wou nie na die provinsie Judea gaan nie, want die Jode wou Hom daar doodmaak.

2. Die Jode se Hutte-fees was naby.

3. Jesus se broers het vir Hom gesê: “Jy moet hier weggaan en na Judea gaan. Dan kan jou dissipels die wonderwerke sien wat jy doen.

4. Dit help nie ’n mens doen iets waar niemand dit kan sien nie, want dan moet jy nie dink almal sal weet van jou nie. Wanneer jy hierdie wonderwerke doen, moet jy dit só doen dat al die mense kan sien dit is jý wat dit doen.”

5. Jesus se broers het nie in Hom geglo nie.

6. Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is nog nie my tyd nie. Julle doen met julle tyd wat julle wil.

7. Die mense van die wêreld kan julle nie haat nie, maar hulle haat My, want Ek sê hulle doen slegte dinge.

8. Julle kan na die fees gaan. Ek gaan nie na die fees nie, want dit is nog nie my tyd nie.”

9. Nadat Jesus dit alles vir sy broers gesê het, het Hy in die provinsie Galilea gebly.

Jesus by die Hutte-fees

10. Jesus se broers het na die fees gegaan. Later het Jesus self ook na die fees gegaan, maar die mense het dit nie geweet nie.

11. Daar by die fees het die Jode na Jesus gesoek. Hulle het gevra: “Waar is daardie man?”

12. Die mense het baie oor Jesus gepraat. Party mense het gesê: “Jesus is ’n goeie man.”Ander mense het gesê: “Nee, hy lieg vir die mense.”

13. Die mense het nie hard gesê wat hulle van Jesus dink nie, hulle wou nie hê die Jode moet dit hoor nie, want hulle was bang vir die Jode.

14. Op die vierde dag van die fees het Jesus na die tempel gegaan en Hy het vir die mense begin leer.

15. Die Jode was verbaas. Hulle het gesê: “Niemand het vir hierdie man geleer nie. Hoe weet hy so baie dinge?”

16. Jesus het vir hulle gesê: “Dit wat Ek vir julle leer, kom nie van My nie. Dit kom van God wat My na die wêreld gestuur het.

17. Iemand wat doen wat God wil hê, sal weet of die dinge wat Ek vir julle leer, van God kom en of dit van Myself kom.

18. Iemand wat vir ander mense dinge leer wat van homself kom, doen dit sodat die mense kan dink hy is belangrik. Ek doen dit nie. Ek wil hê dat die mense moet weet God is belangrik, God wat My na die wêreld gestuur het. Daarom kan die mense My glo. Ek is nie vals nie.

19. Moses het vir julle wette gegee, maar nie een van julle doen wat die wette sê nie. Hoekom probeer julle My doodmaak?”

20. Die mense het vir Jesus gesê: “Jy is mal, niemand probeer jou doodmaak nie.”

21. Jesus het vir hulle gesê: “Ek het net een wonderwerk gedoen, en julle is verbaas omdat Ek dit op die Sabbatdag gedoen het.

22. Moses het vir julle geleer om julle seuns te besny. Maar dit was nie net Moses nie, julle voorvaders het dit ook gedoen. En julle besny ook partymaal seuns op die Sabbatdag.

23. Julle besny iemand op die Sabbatdag om gehoorsaam te wees aan die Wette van Moses. Hoekom is julle nou kwaad vir My wanneer Ek ’n mens se hele liggaam op die Sabbatdag gesond maak?

24. Julle moenie na iemand se buitekant kyk en dan sê hy doen verkeerd nie. Julle moet regverdig wees.”

Die mense wonder of Jesus die Christus is

25. Party van die mense in Jerusalem het gesê: “Daar is die man, die mense wil hom doodmaak.

26. Hier praat hy nou voor al die mense en niemand sê hy praat verkeerd nie. Miskien dink die leiers hy is die Christus.

27. Maar hierdie man kan nie die Christus wees nie, want ons weet van waar hy kom. Wanneer die Christus kom, dan sal niemand weet van waar Hy kom nie.”

28. Jesus het vir die mense in die tempel geleer en Hy het hard gesê: “Julle sê julle ken My en julle weet van waar Ek kom. Dit is nie waar nie. Ek het nie self besluit om na die wêreld te kom nie, God het My gestuur. Wat Hy doen, is reg. Maar julle ken Hom nie.

29. Ek ken Hom, want Ek kom van Hom. Dit is Hy wat My gestuur het.”

30. Toe het die mense probeer om Jesus te vang, maar niemand kon dit doen nie. Dit was nog nie sy tyd nie.

31. Baie van die mense het in Hom geglo. Hulle het gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy dan meer wondertekens doen as hierdie man? Nee.”

Die priesterleiers en die Fariseërs stuur wagte om Jesus te vang

32. Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Jesus sê. Daarom het die priesterleiers en die Fariseërs wagte gestuur om Jesus te vang.

33. Jesus het vir hulle gesê: “Ek sal nog ’n kort tydjie by julle wees. Dan gaan Ek terug na God toe wat My na die wêreld gestuur het.

34. Julle sal My soek, maar julle sal My nie kry nie. Julle sal nie kan gaan waar Ek sal wees nie.”

35. Toe het die Jode vir mekaar gesê: “Waarnatoe sal hy gaan waar ons hom nie sal kry nie? Gaan hy miskien by die Grieke woon en vir hulle leer?

36. Wat beteken dit wanneer hy sê: ‘Julle sal My soek en My nie kry nie,’ en ‘Julle sal nie kan gaan waar Ek sal wees nie’?”

Jesus praat oor die Heilige Gees

37. Die laaste dag van die fees was die belangrikste dag. Op daardie dag het Jesus opgestaan en hard gesê: “As iemand dors is en hy wil lewe, dan kan hy na My toe kom en water kom drink wat die ewige lewe gee.

38. Dit sal wees soos daar in die Ou Testament geskryf is:“As iemand in My glo,dan sal die water soos fonteineuit hom vloei,die water wat die ewige lewe gee.”

39. Toe Jesus dit gesê het, het Hy van die Heilige Gees gepraat. Almal wat in Jesus geglo het, het later die Heilige Gees ontvang. God het eers vir hulle gewys dat Jesus ook God is, daarna het hulle die Gees ontvang.

Die mense stry oor Jesus

40. Toe party van die mense hoor wat Jesus sê, sê hulle: “Hierdie man is regtig die Profeet.”

41. Party mense het gesê: “Hy is die Christus.”Maar ander mense het gesê: “Nee, die Christus sal nie kom nie uit die provinsie Galilea nie.

42. In die Ou Testament is geskryf dat die Messias van die nageslag van Dawid kom. Daar is ook geskryf dat die Messias van Betlehem kom, die dorpie waar Dawid gewoon het.”

43. Toe het die mense gestry oor Jesus.

44. Party van hulle wou Hom vang, maar niemand kon dit doen nie.

Die leiers glo nie in Jesus nie

45. Die wagte het teruggegaan na die priesterleiers en die Fariseërs. Die priesterleiers en die Fariseërs het vir die wagte gevra: “Hoekom het julle nie vir Jesus gebring nie?”

46. Die wagte het gesê: “Ons het nog nooit iemand hoor praat wat soos Jesus gepraat het nie.”

47. Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Jesus het vir julle ook gelieg, en julle het dit geglo.

48. Glo een van die leiers of die Fariseërs in Jesus? Nee, niemand nie!

49. Maar hierdie mense wat in Jesus glo, ken nie die Ou Testament nie. God sal hulle straf.”

50. Nikodemus wat vroeër in die nag na Jesus toe gekom het, was een van die Fariseërs. Hy sê toe vir die Fariseërs en die priesterleiers:

51. “Ons wette sê ons moet eers na iemand luister en ons moet presies weet wat hy gedoen het, dan kan ons hom oordeel.”

52. Die Fariseërs sê toe vir Nikodemus: “Jy praat nou soos iemand wat uit die provinsie Galilea kom. Gaan lees in die Ou Testament en jy sal sien dat ’n profeet nooit uit die provinsie Galilea kom nie.”

Jesus vergewe ’n vrou wat egbreuk gepleeg het

53. [Al die mense het na hulle huise gegaan,