hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 4 Bybel vir Almal (ABA)

Jesus en die Samaritaanse vrou

1. Jesus het geweet dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer dissipels kry as Johannes en dat Hy meer dissipels doop as Johannes.

2. Maar Jesus het nie self mense gedoop nie, sy dissipels het hulle gedoop.

3. Jesus het toe weggegaan uit die provinsie Judea en hy het teruggegaan na die provinsie Galilea.

4. Hy moes deur die provinsie Samaria gaan.

5. Hy kom toe by die stad Sigar in Samaria. Sigar was naby die stuk grond wat Jakob vir sy seun Josef gegee het.

6. Die put van Jakob was daar. Jesus was moeg omdat hulle ver geloop het en Hy het by die put gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag.

7. ’n Vrou uit Samaria het daar kom water skep. Jesus het vir haar gevra: “Gee asseblief vir my water om te drink.”

8. Jesus was alleen, want sy dissipels het in die stad gaan kos koop.

9. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Jesus: “Jy is ’n Jood! Hoekom vra jy vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?”Sy het dit gesê omdat die Jode nie saam met die Samaritane wou wees nie.

10. Jesus het vir die vrou gesê: “Jy weet nie wat God vir die mense wil gee nie. Jy weet ook nie wie dit is wat nou vir jou water vra om te drink nie. Jy weet nie, en daarom vra jy nie vir My nie, en daarom kan Ek nie vir jou water gee nie, water wat ’n mens waarlik laat lewe.”

11. Die vrou sê toe: “Meneer, jy het niks waarmee jy water kan skep nie, en hierdie put is diep. Waar sal jy die water kry wat ’n mens waarlik laat lewe?

12. Jy is nie beter as ons voorvader Jakob nie. Hy en sy seuns en sy diere het almal hier water gedrink en hy het hierdie put vir ons gegee.”

13. Jesus het vir haar gesê: “Elkeen wat van hierdie put se water drink, sal weer dors word.

14. Maar wanneer iemand drink van die water wat Ek vir hom gee, dan sal hy nooit weer dors word nie. Die water wat Ek vir hom gee, sal binne-in hom word soos ’n fontein wat vir hom die ewige lewe gee.”

15. Die vrou sê toe vir Jesus: “Meneer, gee vir my van daardie soort water. Dan sal ek nie weer dors word nie en dan sal ek nie weer hier water moet kom haal nie.”

16. Jesus het vir haar gesê: “Gaan roep jou man en kom terug hiernatoe!”

17. Die vrou het vir Hom gesê: “Ek het nie ’n man nie.”Toe sê Jesus: “Jy praat die waarheid, jy het nie ’n man nie.

18. Jy het vyf mans gehad en die man by wie jy nou bly, is nie jou man nie. Jy praat die waarheid.”

19. Die vrou sê toe vir Jesus: “Meneer, ek sien jy is ’n profeet.

20. Ons voorvaders het God aanbid op hierdie berg, maar julle Jode sê Jerusalem is die regte plek waar ons God moet aanbid.”

21. Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, glo My, daar sal ’n tyd kom wanneer mense die Vader nie hier op die berg sal aanbid nie, en ook nie in Jerusalem nie.

22. Julle Samaritane aanbid God, maar julle ken Hom nie. Ons Jode ken Hom, want die Redder is ’n Jood.

23. Ek het gesê daar sal ’n tyd kom, en die tyd is nou hier. Nou sal die Heilige Gees die mense help om God reg te aanbid. Die Vader wil graag mense hê wat Hom so aanbid.

24. God is Gees. Daarom moet die mense wat Hom aanbid, vra dat die Gees hulle moet help om God reg te aanbid.”

25. Die vrou sê toe: “Ek weet daar sal ’n Messias kom. Die mense noem Hom ook die Christus. Wanneer Hy hier is, dan sal Hy vir ons alles vertel wat ons moet weet.”

26. Jesus sê toe vir haar: “Dit is Ek, Ek wat nou met jou praat.”

Ander mense van Samaria glo ook in Jesus

27. Jesus se dissipels het teruggekom. Hulle het gesien Jesus praat met ’n vrou en hulle was verbaas. Maar nie een van hulle het vir Hom gevra wat Hy van haar wil hê of hoekom Hy met haar praat nie.

28. Die vrou het haar waterkruik daar gelos en sy het teruggegaan na die stad. Sy het vir die mense gaan sê:

29. “Julle moet kom kyk! Daar is ’n Man wat vir my alles vertel het wat ek gedoen het. Ek wonder of Hy die Christus is.”

30. Die mense het uit die stad na Jesus toe gekom.

31. Voordat die mense daar gekom het, het die dissipels vir Jesus gesê: “Rabbi, U moet iets eet.”

32. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Ek het kos om te eet, maar julle weet nie wat dit is nie.”

33. Toe vra die dissipels vir mekaar: “Het iemand miskien kos vir Hom gebring?”

34. Jesus het vir hulle gesê: “My kos is om te doen wat God wil hê Ek moet doen. God het My na die wêreld gestuur. Ek moet alles klaar doen wat Hy gesê het.

35. Wanneer julle na die koringlande kyk, dan sê julle: ‘Oor vier maande sal die koring ryp wees, dan kan ons die koring afsny.’ Maar Ek sê vir julle: Kyk na die mense wat daar aankom, hulle is soos koring wat klaar ryp is.

36. Die man wat die koring afsny, kry nou al klaar sy beloning, want hy maak ’n oes bymekaar vir die ewige lewe. Dan sal die man wat saai en die man wat die koring afsny, saam bly wees.

37. Dit is waar wat die mense altyd sê: ‘Een man saai die koring en ’n ander man kom sny dit af.’

38. Ek het julle gestuur om koring te gaan afsny, maar julle het dit nie gesaai nie. Ander mense het gesaai, maar julle maak die koring bymekaar.”

39. Baie van die Samaritane in daardie stad het in Jesus geglo omdat die vrou vir hulle gesê het Jesus het vir haar alles vertel wat sy gedoen het.

40. Toe die Samaritane by Jesus kom, het hulle vir Hom gevra om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly.

41. Nog baie meer Samaritane het in Jesus geglo toe hulle gehoor het wat Hy alles sê.

42. Hulle het vir die vrou gesê: “Ons het eers geglo omdat jy vir ons vertel het van Jesus. Maar nou het ons self na Hom geluister. Nou weet ons Hy is die Redder van die wêreld.”

Jesus maak ’n belangrike amptenaar se seun gesond

43. Twee dae later het Jesus na die provinsie Galilea gegaan.

44. Jesus het eendag gesê ’n profeet se eie mense dink nie hy is belangrik nie.

45. Toe Jesus in Galilea kom, was die Galileërs baie vriendelik met Hom. Hulle was ook by die fees in Jerusalem en hulle het alles gesien wat Hy daar gedoen het.

46. Jesus het weer na Kana in Galilea gegaan. Dit is die stad waar Hy die water in wyn verander het. In die stad Kapernaum was daar ’n amptenaar van die koning. Sy seun was baie siek.

47. Die amptenaar het gehoor dat Jesus van die provinsie Judea na Galilea gekom het. Hy het na Jesus toe gegaan. Hy het vir Jesus gevra om na Kapernaum te kom en sy seun gesond te maak, want sy seun was baie siek, hy was amper dood.

48. Jesus het vir hom gesê: “Julle wil altyd wondertekens en wonderwerke sien. As julle dit nie sien nie, dan wil julle nie glo nie!”

49. Die amptenaar van die koning sê toe vir Jesus: “Here, kom asseblief gou voor my seuntjie sterf!”

50. Jesus het vir hom gesê: “Jy mag huis toe gaan. Jou seun sal nie sterf nie.”Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het en hy het huis toe gegaan.

51. Terwyl hy huis toe gaan, het sy slawe by hom gekom. Hulle het vir hom gesê sy kind is gesond.

52. Die man het vir sy slawe gevra wanneer die kind beter geword het, en hulle het gesê: “Gistermiddag eenuur, toe het hy nie meer koors gehad nie.”

53. Die pa het toe besef dit was dieselfde tyd toe Jesus vir hom gesê het: “Jou seun sal nie sterf nie.”Hy en almal in sy huis het toe in Jesus geglo.

54. Dit was die tweede wonderteken wat Jesus in Kana gedoen het. Hy het dit gedoen nadat Hy uit Judea in Galilea gekom het.