hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 3 Bybel vir Almal (ABA)

Jesus en Nikodemus

1. Daar was ’n Fariseër, Nikodemus. Hy was ’n leier van die Jode.

2. Hy het in die nag na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet God het U gestuur om vir die mense te leer hoe om Hom te dien. Die wondertekens wat U doen, kan ’n mens net doen as God hom help.”

3. Jesus het hom geantwoord: “Ek sê vir jou, en dit is seker: ’n Mens moet eers weer gebore word, dan sal hy weet God is sy Koning.”

4. Nikodemus sê toe vir Hom: “Maar hoe kan ’n mens gebore word as hy klaar groot is? ’n Mens kan nie ’n tweede maal in sy ma ingaan en weer gebore word nie.”

5. Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Iemand moet eers uit water en uit Gees gebore word, dan sal hy weet God is sy Koning.

6. Wanneer iemand gebore word uit ’n mens, dan is hy ’n mens. Maar wanneer iemand gebore word uit die Heilige Gees, dan is hy ’n mens wat ’n gees het wat waarlik lewe.

7. Moenie verbaas wees dat Ek vir jou sê julle moet weer gebore word nie.

8. Die wind waai waar hy wil. Jy kan die wind hoor, maar jy weet nie van waar dit kom en waarnatoe dit gaan nie. So is dit ook wanneer iemand uit die Gees gebore word.”

9. Nikodemus het vir Jesus gevra: “Hoe gebeur dit?”

10. Jesus het gesê: “Jy is iemand wat vir die mense van Israel leer om God te dien. Hoekom verstaan jy dit nie?

11. Ek sê vir jou, en dit is seker: Ek en die mense wat aan My behoort, praat van dinge waarvan ons weet. Ons vertel van dinge wat ons self gesien het, maar julle glo niks wat ons vertel nie.

12. Ek het met jou gepraat oor iets wat op die aarde gebeur, en jy het dit nie geglo nie. Sal julle dan glo wanneer Ek vir julle vertel van die dinge wat in die hemel gebeur? Nee, julle sal dit ook nie glo nie.

13. Onthou, niemand het van die aarde na die hemel gegaan nie, net Ek het dit gedoen, Ek, die Seun van die mens, wat uit die hemel na die aarde gekom het.

14. Moses het die slang hoog aan ’n paal gehang in die woestyn. So moet die mense ook vir My, die Seun van die mens, hoog aan ’n kruis hang.

15. Dan sal elkeen wat in My glo, die ewige lewe hê.”

Elkeen wat in Jesus glo, sal nie verlore gaan nie

16. God is lief vir die mense, daarom het Hy sy Seun gegee. Daar is niemand soos die Seun nie. Elkeen wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie, maar sal die ewige lewe hê.

17. God het sy Seun na die mense toe gestuur, maar nie om die mense te straf nie. Nee, God het Hom gestuur om hulle te red.

18. Niemand anders is soos die Seun nie. As iemand in die Seun glo, dan straf God hom nie. Maar God straf nou elkeen wat nie in die Seun van God glo nie.

19. So skei God die mense van mekaar. Die lig het na die wêreld gekom, maar die mense was lief vir die donker, nie vir die lig nie. Hoekom? Hulle was lief vir die donker omdat hulle slegte dinge doen.

20. Iemand wat slegte dinge doen, hou nie van die lig nie. Hy kom nie na die lig toe nie, want hy wil nie hê die mense moet sien wat hy doen nie.

21. Maar iemand wat lewe soos God wil hê, kom na die lig, want hy wil hê die mense moet sien dat hy gehoorsaam is aan God.

Johannes die Doper praat weer oor Jesus

22. Daarna het Jesus en sy dissipels na die provinsie Judea gegaan. Hy het ’n kort tydjie daar saam met sy dissipels gebly en Hy het mense gedoop.

23. Johannes was ook besig om mense te doop by Enon naby die stad Salim, want daar was baie water. Die mense het daarnatoe gekom, en hy het hulle gedoop.

24. Johannes was toe nog nie in die tronk nie.

25. ’n Paar van Johannes se dissipels het met ’n Jood begin stry oor hoe ’n mens rein kan word.

26. Hulle het na Johannes toe gegaan en hulle het vir hom gesê: “Rabbi, daar was ’n Man by jou anderkant die Jordaan-rivier. Jy het vir die mense vertel van Hom. Daardie Man doop nou mense, en almal gaan na Hom toe.”

27. Toe sê Johannes: “Dit is God wat so besluit het.

28. Julle het gehoor ek het voorheen gesê ek is nie die Christus nie. God het my vóór die Christus gestuur.

29. Onthou, die bruidegom is die een wat die bruid kry. Die bruidegom se vriend wat staan en wag, is baie bly wanneer hy hoor die bruidegom kom. Daarom is ek nou so bly.

30. Daardie Man moet meer en meer belangrik word, maar ek moet minder belangrik word.”

Jesus is baie belangrik

31. Jesus kom uit die hemel en daarom is Hy belangriker as al die mense. Iemand wat van die aarde kom, is van die aarde, en hy praat oor die dinge op die aarde. Iemand wat van die hemel kom, is belangriker as almal.

32. Hy vertel van die dinge wat Hy gesien en gehoor het, maar niemand wil glo wat Hy vertel nie.

33. Iemand wat glo wat Hy vertel, wys hy glo dat God regtig God is.

34. God het die Seun gestuur. Die Seun sê vir die mense wat God vir Hom gesê het, want God gee sy hele Gees vir Hom.

35. Die Vader is lief vir die Seun en Hy het alles vir die Seun gegee, sodat die Seun oor alles en almal kan regeer.

36. Elkeen wat in die Seun glo, het die ewige lewe. Maar elkeen wat ongehoorsaam is aan die Seun, sal nie die lewe kry nie. God sal aanhou om hom te straf.