hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 9 Bybel vir Almal (ABA)

Jesus laat ’n blinde man sien

1. Toe Jesus verder loop, het Hy ’n man gesien wat blind was vandat hy gebore is.

2. Die dissipels het vir Jesus gevra: “Rabbi, wie se skuld is dit dat hierdie man blind was toe hy gebore is? Is dit hý wat sonde gedoen het of is dit sy ouers wat sonde gedoen het?”

3. Jesus het gesê: “Nee, dit is nie hierdie man of sy ouers wat sonde gedoen het nie. Hy is blind, want God wil hom gebruik om vir die mense te wys wat God kan doen.

4. God het My na die wêreld gestuur. Hy wil hê ons moet vir die mense wys wat Hy kan doen terwyl dit nog dag is. Die nag kom en in die donker kan niemand werk nie.

5. Terwyl Ek by die mense in die wêreld is, is Ek die lig vir hulle.”

6. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en Hy het klei gemaak met die spoeg. Hy het die klei aan die blinde man se oë gesmeer en

7. vir hom gesê: “Gaan was jou in die Siloam-dam.”Die woord Siloam beteken “God het Iemand gestuur.” Die blinde man het gegaan en hy het homself gewas. Toe hy terugkom, kon hy sien.

8. Die mense wat langs die blinde man gewoon het en die ander mense wat hom geken het toe hy ’n bedelaar was, het gevra: “Is dit die man wat altyd gesit en bedel het?”

9. Party mense het gesê: “Ja, dit is hy.”Ander mense het gesê: “Nee, dit is iemand anders wat lyk soos die blinde man.”Toe sê die blinde man: “Dit is ek!”

10. Die mense het vir hom gevra: “Wat het gebeur dat jy kan sien?”

11. Die man het gesê: “’n Man het klei gemaak en hy het dit aan my oë gesmeer. Die man se naam is Jesus. Toe het hy vir my gesê ek moet my in die Siloam-dam gaan was. Ek het dit gedoen en toe kon ek sien.”

12. Hulle het vir hom gevra: “Waar is daardie man?”Hy sê toe: “Ek weet nie.”

Die Fariseërs vra baie vrae vir die man wat blind was

13. Die mense het die man wat voorheen blind was, na die Fariseërs toe geneem.

14. Dit was ’n Sabbatdag toe Jesus klei gemaak het en die blinde man laat sien het.

15. Die Fariseërs het ook vir hom gevra hoekom hy nou kan sien. Hy het vir hulle gesê: “’n Man het klei op my oë gesit, ek het my gewas en ek kon sien.”

16. Party Fariseërs het gesê: “Die man wat dit gedoen het, kom nie van God nie, want hy werk op die Sabbatdag.”Ander Fariseërs het gesê: “Iemand wat hierdie wondertekens doen, is nie ’n sondaar nie.”Die Fariseërs het baie met mekaar gestry.

17. Toe vra die Fariseërs weer vir die man wat blind was: “Wat dink jy van die man wat jou laat sien het?”Die man wat blind was, het gesê: “Ek dink hy is ’n profeet.”

18. Die man was eers blind en hy kon nou sien, maar die Jode wou dit nie glo nie. Toe roep hulle die ouers van die man wat nou kon sien

19. en hulle vra vir sy ouers: “Is hierdie man julle seun? Is dit waar dat hy blind was toe hy gebore is? Hoekom kan hy nou sien?”

20. Sy ouers het gesê: “Ons weet hy is ons seun. Ons weet hy was blind toe hy gebore is.

21. Maar ons weet nie hoekom hy nou kan sien nie. Ons weet ook nie wie hom laat sien het nie. Julle moet vir hom vra. Hy is nie meer ’n kind nie, hy kan self praat. Hy kan self vir julle sê wat gebeur het.”

22. Die man se ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode. Die Jode het klaar besluit: As iemand sê hy glo dat Jesus die Christus is, dan mag hy nooit weer in die sinagoge kom nie.

23. Dit is hoekom die man se ouers gesê het: “Hy is nie meer ’n kind nie, hy kan self praat. Julle moet vir hóm vra.”

24. Die Jode roep toe weer die man wat blind was. Hulle het vir hom gesê: “Jy moet God eer en jy moet die waarheid praat. Ons weet hierdie man Jesus is ’n sondaar.”

25. Die man het gesê: “Ek weet nie of Jesus ’n sondaar is nie, maar ek weet ek was blind, en nou sien ek.”

26. Die Jode het vir hom gesê: “Wat het Jesus vir jou gedoen? Hoe het hy jou laat sien?”

27. Die man het vir hulle gesê: “Ek het dit klaar vir julle vertel, en julle het nie geluister nie. Hoekom wil julle dit weer hoor? Wil julle Jesus se dissipels word?”

28. Die Jode het kwaad geword en gesê: “Jy is ’n dissipel van daardie man. Ons is nie, ons is dissipels van Moses.

29. Ons weet God het met Moses gepraat, maar ons weet nie van waar hierdie man kom nie.”

30. Die man wat blind was, het vir hulle gesê: “Ek verstaan julle nie. Julle weet nie van waar Jesus kom nie, maar hy het my laat sien.

31. Ons weet God luister nie na sondaars nie. God luister na mense wat Hom dien en wat doen wat Hy wil hê.

32. Ons het nooit voorheen gehoor van iemand wat ’n blinde mens laat sien het nie, ’n mens wat blind was toe hy gebore is.

33. Hierdie man kom van God, daarom kon hy dit doen.”

34. Toe sê die Jode vir die man wat blind was: “Jy is nog altyd ’n sondaar, vandat jy gebore is! Jy kan nie vir ons leer nie.”Toe het hulle hom uitgeskop uit die sinagoge.

Mense wat besef dat hulle blind is, en mense wat dink dat hulle kan sien

35. Jesus het gehoor dat die Jode die man uit die sinagoge uitgeskop het, die man wat blind was, maar wat Hy laat sien het. Toe Jesus hom sien, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?”

36. Die man het gesê: “Meneer, sê asseblief vir my wie is die Seun van die mens sodat ek in Hom kan glo.”

37. Jesus het vir die man gesê: “Jy sien Hom. Ek is die Seun van die mens, Ek wat met jou praat.”

38. Die man het gesê: “Ek glo, Here!”Toe het hy Jesus aanbid.

39. Jesus het gesê: “Ek het na die wêreld gekom om mense te oordeel. Die mense wat besef dat hulle blind is, sal sien. En die mense wat dink dat hulle kan sien, sal blind word.”

40. Die Fariseërs wat by Jesus was, het gehoor wat Jesus sê. Toe sê hulle vir Hom: “Ons is nie blind nie.”

41. Jesus het vir hulle gesê: “As julle besef het dat julle blind is, dan het julle nie sonde gedoen nie. Maar nou sê julle dat julle kan sien. Daarom bly julle skuldig.”