hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 16 Bybel vir Almal (ABA)

1. “Ek het dit alles vir julle gesê sodat julle nie moet ophou glo nie.

2. Die mense sal julle wegjaag uit die sinagoges. Daar sal ’n tyd kom wanneer die mense julle sal doodmaak en dan sal hulle dink hulle dien God.

3. Hulle sal dit doen, want hulle ken nie die Vader nie en ook nie vir My nie.

4. Ek sê dit alles vir julle, want wanneer die tyd kom en hulle doen dit, dan wil Ek hê julle moet onthou Ek het gesê dit sal gebeur.”Jesus het ook vir die dissipels gesê: “Ek het nie al hierdie dinge in die begin vir julle gesê nie, want Ek was by julle.

Die Heilige Gees sal die dissipels help

5. Nou gaan Ek terug na die Vader wat My na die wêreld gestuur het, maar nie een van julle vra vir My waarnatoe Ek gaan nie.

6. Julle het baie hartseer geword omdat Ek al hierdie dinge vir julle gesê het.

7. Maar Ek vertel vir julle die waarheid: Dit is goed vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, dan sal die Helper, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie. As Ek weggaan, dan sal Ek Hom na julle toe stuur.

8. Wanneer die Helper kom, dan sal Hy vir die mense van die wêreld bewys dat hulle verkeerd dink oor sonde, en oor wie reg is voor God, en oor die oordeel van God.

9. Hulle dink verkeerd oor sonde, want hulle glo nie in My nie.

10. Hulle dink verkeerd oor wie reg is voor God, want Ek gaan na die Vader toe en julle sal My nie meer sien nie.

11. Hulle dink verkeerd oor die oordeel van God, want God het klaar die Satan, die leier van die mense van die wêreld, ge-oordeel.

12. “Daar is nog baie ander dinge wat Ek vir julle wil sê, maar dit is te moeilik vir julle om nou te verstaan.

13. Wanneer die Helper kom, die Heilige Gees wat vir julle sal wys wat die waarheid is, dan sal Hy vir julle alles vertel van die waarheid. Hy sal nie self dink wat Hy vir julle moet vertel nie. Nee, Hy sal vir julle vertel wat Hy by My en by die Vader hoor. Hy sal julle help om die dinge te verstaan wat nog met julle sal gebeur.

14. Die Helper sal wys dat Ek God is, want alles wat Hy vir julle sal sê, kom van My.

15. Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My. Dit is hoekom Ek sê alles wat die Heilige Gees vir julle sal sê, kom van My.”

Die dissipels sal nie meer hartseer wees nie

16. Jesus het ook vir die dissipels gesê: “Dit sal nie meer lank wees nie, dan sal julle My nie sien nie. Daarna sal dit ook nie lank wees nie, dan sal julle My weer sien.”

17. Party van Jesus se dissipels het vir mekaar gesê: “Ons verstaan nie wat Jesus sê nie. Hy sê dit sal nie meer lank wees nie, dan sal ons Hom nie sien nie, en daarna sal dit nie lank wees nie, dan sal ons Hom weer sien. Wat beteken dit wanneer Hy sê Hy gaan na die Vader toe?

18. Hy sê ‘nie lank nie.’ Wat beteken dit? Ons verstaan dit nie.”

19. Jesus het geweet wat hulle vir Hom wil vra. Hy het toe vir hulle gevra: “Vra julle vir mekaar wat dit beteken dat dit nie lank sal wees nie, dan sal julle My nie sien nie en dat dit daarna nie lank sal wees nie, dan sal julle My weer sien?

20. Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle sal huil en treur, maar die mense van die wêreld sal bly wees. Julle sal eers hartseer wees, maar later sal julle nie meer hartseer wees nie, julle sal bly wees.

21. Wanneer ’n vrou ’n kind kry, dan het sy pyn, want dit is die tyd wanneer haar baba moet kom. Maar wanneer die baba klaar gebore is, dan dink sy nie meer aan die pyn nie, want sy is bly dat sy ma geword het.

22. Julle het ook nou pyn, maar wanneer Ek julle weer sien, dan sal julle bly wees. Dan sal niemand julle weer ongelukkig kan maak nie.

23. “Daardie dag sal julle nie meer vir My iets vra nie. Ek sê vir julle, en dit is seker: Daardie dag kan julle vir die Vader enige iets vra omdat julle aan My behoort, en Hy sal dit vir julle gee.

24. Julle mag enige iets vra omdat julle aan My behoort. Tot nou toe het julle nog niks gevra nie. Julle moet vra, en julle sal kry. Dan sal julle regtig baie bly wees.

25. Voorheen het Ek voorbeelde gebruik wanneer Ek iets vir julle verduidelik het, maar daar sal ’n tyd kom wanneer Ek nie meer voorbeelde sal gebruik nie. Dan sal Ek vir julle reguit van die Vader vertel.

26. Daardie dag sal julle self vir die Vader dinge vra, omdat julle aan My behoort. Ek sal dit nie vir die Vader vra nie, dit sal nie nodig wees nie.

27. Die Vader self is lief vir julle, want julle is lief vir My en julle glo dat Ek van God kom.

28. Ek het weggegaan van die Vader en Ek het na die mense van die wêreld toe gekom. Nou gaan Ek weer weg van die mense van die wêreld, Ek gaan terug na die Vader toe.”

29. Die dissipels het vir Jesus gesê: “Nou praat U reguit. U gebruik nie voorbeelde nie.

30. Nou weet ons dat U alles weet. Dit is nie nodig dat ons vir U vrae moet vra nie. Ons glo nou dat U van God kom.”

31. Jesus het vir hulle gesê: “Julle sê julle glo nou,

32. maar daar kom ’n tyd wanneer julle sal swaarkry. Daardie tyd is klaar hier. Die mense sal julle jaag na al die kante toe en julle sal na julle huise vlug. Julle sal My alleen los, maar Ek sal nie regtig alleen wees nie, want die Vader is by My.

33. Ek sê dit alles vir julle sodat julle vrede kan hê omdat julle aan My behoort. Die mense van die wêreld sal julle laat swaarkry, maar julle moenie moedeloos word nie. Ek het die wêreld klaar oorwin.”