hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 52 Afrikaans 1983 (AFR83)

Sedekia. Die val van Jerusalem

1. Sedekia was een en twintig toe hy koning geword het en hy het elf jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Gamutal, 'n dogter van Jeremia, uit Libna.

2. Sedekia het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van Jojakim gevolg.

3. Die toorn van die Here was op Jerusalem en Juda; Hy wou hulle wegvee uit sy teenwoordigheid.Sedekia het in opstand gekom teen die koning van Babel,

4. en in die negende regeringsjaar van Sedekia, op die tiende van die tiende maand, het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër met 'n aanval op Jerusalem begin. Hy het kamp opgeslaan by die stad en 'n beleëringswal rondom die stad gebou.

5. Die stad is beleër tot in die elfde regeringsjaar van koning Sedekia.

6. Teen die negende dag van die vierde maand was die hongersnood in die stad so erg dat daar nie meer kos vir die bevolking was nie.

7. Toe is daar 'n opening in die muur gebreek, en al die soldate het gevlug. Hulle is in die nag deur die poort tussen die twee mure langs die Koningstuin, hoewel daar Galdeërs rondom die stad was. Die soldate het in die rigting van die Jordaanvallei gevlug,

8. maar die Galdese leër het vir koning Sedekia agtervolg en hom ingehaal op die Jerigovlakte. Sy hele leër was toe al uitmekaar gejaag, weg van hom af,

9. en hy is gevang en na die koning van Babel toe gevat in Ribla, in Hamat. Die koning van Babel het vir Sedekia verhoor

10. en toe sy seuns voor sy oë laat doodmaak. Hy het ook al die Judese amptenare laat doodmaak daar in Ribla,

11. Sedekia se oë laat uitsteek, hom met bronskettings laat boei en hom na Babel toe gevat en daar in die tronk laat sit tot sy dood toe.

12. In die vyfde maand, op die tiende van die maand, in die negentiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar van Babel, het Nebusaradan by Jerusalem aangekom. Hy was hoof van die lyfwag en in die persoonlike diens van die koning van Babel.

13. Hy het die huis van die Here, die paleis en al die huise in Jerusalem, elke groot gebou, afgebrand.

14. Al die Galdese soldate wat onder sy bevel was, het die muur om Jerusalem heeltemal afgebreek.

15. Party van die armste mense, en verder die mense wat in die stad oor was, ook dié wat na die koning van Babel toe oorgeloop het, en die ambagsmanne wat oor was, is gevange weggevoer deur Nebusaradan, die hoof van die lyfwag.

16. Party van die armste mense van die land het hy laat agterbly om die wingerde en die lande te bewerk.

17. Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die huis van die Here was, stukkend geslaan en al die brons na Babel toe gevat.

18. Hulle het die potte, die skoppe, die skêre, die komme vir besprinkeling en die panne saamgevat, en al die ander bronsgoed wat in die tempeldiens gebruik is.

19. Die hoof van die lyfwag het die bakke, die vuurpanne, die komme vir besprinkeling, die potte, die kandelare, die panne, die offerkomme, alles wat goud of silwer was, buitgemaak.

20. Die brons van die twee pilare, van die waterbak met die twaalf beeste onder, en van die waentjies wat koning Salomo gemaak het vir die huis van die Here was soveel dat dit nie geweeg kon word nie.

21. Wat betref die pilare, elke pilaar was nege meter hoog en ses meter in die omtrek en was hol met 'n wand van nege sentimeter dik.

22. Die bronskapiteel bo-op was twee en 'n half meter hoog. Die rooster met die granate om die kapiteel was heeltemal van brons. Die ander pilaar met die granate was net so.

23. Daar was ses en negentig granate sigbaar, maar daar was altesaam honderd granate rondom aan die rooster.

24. Die hoof van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, die priester tweede in rang, Sefanja, en die drie drumpelwagte gevange saamgevat.

25. Uit die stad het hy die offisier gevange geneem wat in bevel was van die soldate. Daar was ook nog sewe van die koning se vertrouelinge in die stad, die sekretaris van die hoof van die leër wat vir die oproep van die burgers verantwoordelik was, en sestig van die burgers.

26. Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, het hulle gevange geneem en hulle na die koning van Babel toe in Ribla gevat.

27. Die koning van Babel het hulle laat doodmaak daar in Ribla, in Hamat.So is Juda dan uit sy land uit weggevoer.

28. Die getal mense wat deur Nebukadnesar weggevoer is, is soos volg: in die sewende jaar: 3 023 Judeërs,

29. in die agtiende regeringsjaar van Nebukadnesar: 832 mense uit Jerusalem,

30. in die drie en twintigste jaar: 745 Judeërs, weggevoer deur die hoof van die lyfwag Nebusaradan. Dit was altesaam 4 600 mense.

Jojagin word bevoorreg

31. In die sewe en dertigste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die vyf en twintigste van die twaalfde maand, het Ewil-Merodak wat pas koning van Babel geword het, vir koning Jojagin van Juda uit die gevangenis vrygelaat.

32. So het hy hom begenadig en hom hoër status gegee as die ander konings wat by hom in Babel was.

33. Jojagin kon sy tronkklere uittrek en het so lank hy gelewe het, aan die koning se tafel geëet

34. en Jojagin het tot sy dood toe van die koning van Babel 'n permanente toelae ontvang vir sy daaglikse behoeftes.