hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 40 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jeremia word vrygelaat

1. Die woord wat van die Here af tot Jeremia gekom het nadat die hoof van die lyfwag Nebusaradan hom in Rama vrygelaat het. Nebusaradan het vir Jeremia laat uithaal tussen die gevangenes van Jerusalem en Juda wat as ballinge op pad was na Babel toe. Jeremia was met kettings geboei.

2. Die hoof van die lyfwag het vir Jeremia laat haal en vir hom gesê: “Die Here jou God het gesê hierdie ramp sal oor hierdie plek kom,

3. en Hy het dit laat gebeur soos Hy gesê het. Omdat julle gesondig het en ongehoorsaam was aan Hom, daarom het dié ramp julle getref.

4. Maar ek gaan nou die kettings aan jou hande losmaak. As jy wil, kom saam met my na Babel toe, ek sal vir jou sorg. As jy nie met my wil saamkom Babel toe nie, ook goed. Die hele land is tot jou beskikking. Jy kan gaan waar jy dit goedvind, waar dit jou pas.”

5. Nog voordat Jeremia kon antwoord, het Nebusaradan verder gesê: “Of gaan na Gedalja toe, seun van Agikam seun van Safan, wat deur die koning van Babel in bevel geplaas is van die stede van Juda. Bly by hom tussen jou mense, of gaan waar dit jou ook al pas.”Die hoof van die lyfwag het vir Jeremia kos en geskenke gegee en hom laat gaan.

6. Jeremia is toe na Gedalja seun van Agikam toe in Mispa. Hy het daar by hom gaan bly tussen die mense wat in die land oor was.

Die moord op Gedalja

7. Die bevelhebbers van die Israelitiese soldate wat nog in die veld was en hulle manskappe het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja seun van Agikam in bevel van die land geplaas het en dat hy die mans, vrouens en kinders wat van die armstes in die land was en wat nie na Babel toe verban is nie, aan Gedalja se sorg toevertrou het.

8. Die bevelhebbers en hulle manskappe is toe ook na Gedalja toe in Mispa. Onder hulle was Ismael seun van Netanja, Joganan en Jonatan seuns van Kareag, Seraja seun van Tangumet, die seuns van Efai uit Netofa, en Jaäsanja seun van iemand uit Maäka, hulle met hulle manskappe.

9. Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, het die manne met 'n eed die versekering gegee dat hulle nie bang hoef te wees om hulle aan die Galdeërs te onderwerp nie: “Bly in die land en onderwerp julle aan die koning van Babel, dit sal goed gaan met julle.

10. Ek gaan hier in Mispa bly om tot beskikking te wees van die Galdeërs wat hier na ons toe kom. Julle kan wyn, vrugte en olie bymekaarmaak en bêre en in die dorpe gaan woon wat julle beset.”

11. Al die Judeërs wat in Moab en tussen die Ammoniete en in Edom en in ander lande was, het gehoor dat die koning van Babel party mense in Juda laat bly het en dat hy vir Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, in bevel geplaas het oor hulle.

12. Al dié Judeërs het toe uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is, teruggekom na Juda toe en hulle het na Gedalja toe gegaan in Mispa. Hulle het 'n baie groot wyn- en vrugteoes ingesamel.

13. Joganan seun van Kareag en al die bevelhebbers van die soldate wat nog in die veld was, het na Gedalja toe gekom in Mispa

14. en vir hom gevra: “Weet jy dat koning Baälis van die Ammoniete vir Ismael seun van Netanja opdrag gegee het om jou te vermoor?”Maar Gedalja seun van Agikam het hulle nie geglo nie.

15. Joganan seun van Kareag het in die geheim aan Gedalja in Mispa 'n plan voorgelê: “Laat ek vir Ismael seun van Netanja gaan doodmaak. Niemand sal weet dat jy iets daarmee te doen het nie. Waarom moet hy jou kom vermoor en moet al die Judeërs wat om jou versamel het, uitmekaargejaag word en waarom moet wat daar nog van Juda oor is, tot niet gaan?”

16. Maar Gedalja seun van Agikam het vir Joganan seun van Kareag gesê: “Jy doen dit nie! Dit is nie waar wat jy oor Ismael sê nie!”