hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 37 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Babiloniërs sál Jerusalem verbrand

1. Sedekia seun van Josia het vir Jojagin seun van Jojakim wat deur koning Nebukadnesar van Babel as koning van Juda aangestel is, as koning opgevolg.

2. Sedekia en sy amptenare en die landsburgers het nie geluister na wat die Here vir hulle gesê het deur die profeet Jeremia nie.

3. Koning Sedekia het vir Jukal seun van Selemja saam met die priester Sefanja seun van Maäseja na die profeet Jeremia toe gestuur om te vra: “Bid tog vir ons tot die Here ons God.”

4. Jeremia kon vrylik tussen die volk rondbeweeg, want hy was toe nog nie in die tronk gesit nie.

5. Die leër van die farao het uit Egipte vertrek, en toe die Galdeërs deur wie Jerusalem beleër is, dit hoor, het hulle van Jerusalem af weggetrek.

6. Die woord van die Here het tot die profeet Jeremia gekom:

7. So sê die Here die God van Israel: Julle moet vir die koning van Juda deur wie julle na My toe gestuur is om My te raadpleeg, sê: Pasop! Die farao se leër wat vertrek het om julle te kom help, sal terugtrek na sy land Egipte toe.

8. Die Galdeërs sal omdraai en teen hierdie stad kom veg en dit inneem en verbrand.

9. So sê die Here: Julle moet julle nie mislei en dink die Galdeërs het beslis van ons af padgegee nie. Hulle gee nie pad nie,

10. en selfs al sal julle die leër van die Galdeërs verslaan wat teen julle kom veg, en daar bly net swaar gewondes in hulle tente oor, sal húlle kom en hierdie stad verbrand.

Jeremia word in die tronk gesit

11. Nadat die leër van die Galdeërs van Jerusalem af padgegee het uit vrees vir die leër van die farao,

12. wou Jeremia uit Jerusalem gaan op pad na die gebied van Benjamin toe om sy erfgrond in ontvangs te neem by die mense daar.

13. Toe Jeremia by die Benjaminpoort uit Jerusalem wou uitgaan, het die wagte se leier, Jirija seun van Selemja, seun van Gananja, die profeet Jeremia gevange geneem en gesê: “Jy loop oor na die Galdeërs toe.”

14. Maar Jeremia het vir hom gesê: “Dis 'n leuen! Ek loop nie oor na die Galdeërs toe nie.”Maar Jirija wou nie na hom luister nie en het hom gevange geneem en na die koning se amptenare toe gebring.

15. Hulle was kwaad vir Jeremia en het hom geslaan en toe in die staatsekretaris Jonatan se huis wat in 'n tronk verander is, in die tronk gesit.

16. Daar is Jeremia in 'n put met sytonnels gesit waar hy lank gebly het.

17. Later het koning Sedekia hom laat haal en in die geheim in die paleis vir hom gevra: “Is daar 'n woord van die Here af?”Jeremia het hom geantwoord: “Daar is. Jy sal in die mag van die koning van Babel uitgelewer word.”

18. Toe vra Jeremia vir koning Sedekia: “Watter misdaad het ek teen u gepleeg, of teen u amptenare of teen hierdie volk dat julle my in die tronk gesit het?

19. Waar is die profete wat vir julle as profete opgetree het en gesê het die koning van Babel sal nie teen julle en teen hierdie land kom oorlog maak nie?

20. Maar luister tog nou na my, U Majesteit die Koning, dat ek my versoek tot u kan rig: Moet my tog nie terugstuur na die huis van die staatsekretaris Jonatan toe nie. Ek wil nie daar sterf nie!”

21. Koning Sedekia het toe beveel dat hulle vir Jeremia moet aanhou in die binneplaas van die paleiswag en elke dag vir hom brood moet gee uit Bakkerstraat totdat die stad se brood op was. Jeremia het toe in die binneplaas van die paleiswag gebly.