hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Ag, was my kop maar vol water en my oë 'n fontein met trane, dan sou ek dag en nag huil oor my volksgenote wat gesneuwel het.

2. Ag, was daar maar in die woestyn 'n herberg dat ek my volk hier kon agterlaat en van hulle af kon weggaan daarnatoe. Hulle is almal egbrekers, 'n klomp ontrou mense.

Ek sal hulle deur die smeltkroes laat gaan

3. Hulle woorde tref mense soos pyle: bedrog het die oorhand in die land, nie die waarheid nie. Hulle gaan van kwaad tot erger, en My ken hulle nie, sê die Here.

4. Wees selfs vir 'n vriend op jou hoede, moenie eens 'n broer vertrou nie. Elke broer is 'n onderkruiper en elke vriend 'n kwaadsteker.

5. Hulle bedrieg mekaar, hulle praat nooit die waarheid nie, hulle is gewoond om te lieg, hulle kan nie ophou sonde doen nie.

6. Verdrukking volg op verdrukking, bedrog op bedrog, hulle weier om My te erken, sê die Here.

7. Daarom, so sê die Here die Almagtige, sal Ek hulle deur die smeltkroes laat gaan. Hoe kan Ek anders maak met my volk?

8. Hulle tong is 'n dodelike pyl, dit lieg en bedrieg. Hulle praat met mekaar asof niks verkeerd is nie, maar in hulle binneste beplan hulle mekaar se ondergang.

9. Sou Ek nie hieroor rekenskap van hulle eis nie? sê die Here. Sou Ek My nie wreek op so 'n nasie nie?

10. Ek sal huil en kla oor die berge, Ek sal 'n klaaglied sing oor die weivelde in die woestyn. Hulle is verwoes, niemand kom daar verby nie, 'n mens hoor daar geen diere nie; al die voëls en diere het padgegee.

11. Ek sal Jerusalem 'n hoop klippe maak, 'n woonplek van jakkalse. Ek sal die stede van Juda verlate plekke maak sonder inwoners.

12. Waar is die wyse man wat dít kan verstaan? Met wie het die Here gepraat dat dié dit kan vertel? Waarom het die land te gronde gegaan, waarom is dit verwoes dat dit soos 'n woestyn is waar niemand verbygaan nie?

13. Die Here het gesê: Dit is omdat hulle my wet verlaat het wat Ek hulle gegee het; hulle het nie na My geluister nie en my wet nie nagekom nie,

14. hulle het agter hulle eie harde koppe aangegaan en agter die Baäls aan soos hulle voorvaders hulle geleer het.

15. Daarom, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel, gee Ek hierdie volk wildeals om te kou en gifwater om te drink.

16. Ek sal hulle verstrooi onder nasies vir wie nóg hulle nóg hulle voorvaders geken het. Ek sal hulle met die swaard laat agtervolg totdat Ek hulle almal laat uitroei het.

17. So sê die Here die Almagtige:Luister goed! Roep al die klaagvroue dat hulle kom,laat kom die vroue wat weet hoe om klaagliedere te sing.

18. Hulle moet gou maak en 'n klaaglied oor ons sing,sodat die trane uit ons oë loop,ons oë nat is van die trane.

19. Hoor hoe kla dit uit Sion;hoe het die verwoesting ons getref,hoe is ons verslaan!Ons moet die land verlaat, ons huise word omgestoot.

20. Vrouens, luister na die woord van die Here,neem alles in wat Hy sê.Leer julle dogters om te kla,laat hulle mekaar klaagliedere leer:

21. “Die dood het by ons vensters ingeklim,in ons mooi huise ingekom,dit roei die kinders uit op die strate,die jongmense op die pleine.”

22. Jy moet sê: So sê die Here:Die lyke van die mense wat val,sal soos hopies mis lê op die veld,soos gerwe agter dié wat oes,maar niemand sal hulle optel nie.

23. So sê die Here:Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie,die soldaat nie in sy krag nie,die ryk man nie in sy rykdom nie.

24. Laat hom wat wil roem, daarin roemdat hy insig het en My ken.Ek is die Here.Ek bewys liefde, reg en geregtigheid op die aarde,want dit is wat Ek wil hê, sê die Here.

25. Daar kom dae, sê die Here, dat Ek selfs almal wat besny is, gaan straf,

26. of dit nou Egipte, Juda, Edom, die Ammoniete of Moab is, of die woestynbewoners wat hulle koppe aan die kante kaal skeer, want al hierdie volke is tog maar onbesnede, en die hele Israel is onbesnede van hart, hulle is ontrou aan My.