hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jeremia koop grond

1. Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die tiende regeringsjaar van koning Sedekia van Juda. Dit was die agtiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar

2. van Babel wie se leër juis toe vir Jerusalem beleër het. Die profeet Jeremia was in daardie tyd ingeperk in die binneplaas van die paleiswag van Juda.

3. Koning Sedekia van Juda het vir Jeremia daar ingeperk en gevra: “Waarom sê jy die dinge as profeet? Jy sê: So sê die Here: Ek gee hierdie stad in die mag van die koning van Babel. Hy sal dit verower.

4. Koning Sedekia van Juda sal nie vrykom uit die mag van die Galdeërs nie. Hy sal beslis uitgelewer word aan die koning van Babel en persoonlik met hom praat en hom met sy eie oë sien.

5. Die koning van Babel sal vir Sedekia na Babel toe vat, en hy sal daar bly, sê die Here. Dit is my straf vir hom. As julle teen die Babiloniërs oorlog maak, sal julle die neerlaag ly.”

6. Jeremia het vir Sedekia geantwoord: “Die woord van die Here het tot my gekom:

7. Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: ‘Koop my stuk grond wat in Anatot is vir jou, want volgens die lossingsreg moet jy dit koop.’

8. “Soos die Here gesê het, het my neef Ganamel na my toe gekom in die binneplaas van die paleiswag en vir my gesê: ‘Koop tog my stuk grond wat in Anatot is in die gebied van Benjamin. Dit is jou reg om dit te besit, jy het die lossingsreg. Koop dit vir jou.’ Ek het toe geweet dit is die woord van die Here

9. en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by my neef Ganamel gekoop. Ek het vir hom twee honderd gram silwer afgeweeg.

10. Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op 'n skaal.

11. Toe het ek die koopkontrak met die voorwaardes en die bepalings daarop, die kontrak met die seël en die afskrif sonder seël, gevat

12. en in die teenwoordigheid van my neef Ganamel en van die getuies wat dit geteken het en van al die Judeërs wat in die binneplaas van die paleiswag gesit het, vir Baruk seun van Nerija, seun van Magseja, gegee.

13. “In hulle teenwoordigheid het ek vir Baruk beveel:

14. ‘So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Vat hierdie dokumente, die koopkontrak met die seël en die afskrif sonder seël en sit hulle in 'n kleipot sodat hulle lank kan hou,

15. want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.’

16. “Nadat ek die koopkontrak vir Baruk seun van Nerija gegee het, het ek tot die Here gebid:

17. Ag, Here my God, U het die hemel en die aarde gemaak deur u groot mag. Niks is vir U onmoontlik nie.

18. U bewys u troue liefde aan duisende geslagte, maar U straf kinders vir die sondes van hulle ouers. Groot en magtige God, u Naam is Here die Almagtige.

19. U besluite is magtig, u dade groot. U sien alles wat die mense doen. U gee aan elkeen wat hom toekom, U beloon elkeen volgens sy dade.

20. Die tekens en wonders wat U in Egipte gedoen het, doen U nou nog in Israel en onder die mense. So maak U vir U 'n Naam tot vandag toe.

21. “U het u volk Israel uit Egipte laat wegtrek met tekens en met wonders, met magtige dade en met wonderlike groot dade waarvoor mense vreesbevange was.

22. U het hierdie land vir u volk gegee, die land wat U met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning.

23. U volk het gekom en dit in besit geneem, maar hulle was ongehoorsaam. Hulle het nie u wet onderhou nie, hulle het nie gedoen wat U hulle beveel het om te doen nie. Daarom het U al hierdie rampe oor hulle laat kom.

24. Daar is beleëringswalle teen die stad opgegooi om dit te verower, en die stad is deur die swaard en hongersnood en pes oorgegee in die mag van die Galdeërs wat daarteen veg. Wat U gesê het, gebeur nou. U sien dit self.

25. En tog sê U, Here my God, vir my: ‘Gaan koop vir jou 'n stuk grond met silwer en sorg dat jy getuies het,’ en dít noudat die stad in die mag van die Galdeërs gegee is.”

Ek sal my volk terugbring

26. Die woord van die Here het tot Jeremia gekom:

27. Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?

28. So sê die Here: Ek gee hierdie stad in die mag van die Galdeërs, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel. Hy sal dit verower.

29. Die Galdeërs wat teen hierdie stad veg, sal dit aan die brand kom steek en dit afbrand, ook die huise waar die inwoners My getart het toe hulle vir Baäl wierook gebrand het op die dakke en waar hulle drankoffers vir ander gode uitgegiet het.

30. Die mense van Israel en Juda het van jongs af net gedoen wat verkeerd is in my oë. Die Israeliete het My getart met goed wat hulle self gemaak het, sê die Here.

31. Van die dag af dat hierdie stad gebou is, tot nou toe het dit my gloeiende toorn so laat ontvlam dat Ek die stad wil wegvee voor My.

32. Die mense van Israel en Juda het My getart met al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, hulle, hulle konings, hulle amptenare, hulle priesters, hulle profete, elkeen in Juda, al die inwoners van Jerusalem.

33. Hulle het hulle rug na My toe gedraai, nie hulle gesigte nie. Ek het hulle vroeg en laat geleer om goed te luister, maar hulle wou nie hoor nie, hulle wou nie uit straf leer nie.

34. Hulle het hulle afskuwelike afgode in die huis gesit waaroor my Naam uitgeroep is en so het hulle my huis verontreinig.

35. Hulle het hoogtes vir Baäl gebou in die Ben-Hinnomdal om hulle seuns en dogters vir Molek as offers te laat verbrand. Ek het hulle dit nie beveel nie; so 'n afskuwelike gedagte om vir Juda te laat sonde doen, het nie eens by My opgekom nie.

36. Tog, so sê die Here die God van Israel vir hierdie stad waarvan julle sê dit sal deur die swaard en hongersnood en pes in die mag van die koning van Babel gegee word:

37. Ek sal hulle bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek hulle verjaag het in my gloeiende toorn en in my groot woede. Ek sal hulle hierheen terugbring en hulle sal hier rustig kom woon.

38. Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees.

39. Ek sal hulle 'n onverdeelde hart en 'n vaste koers gee: hulle sal My altyd dien vir hulle eie beswil en vir dié van hulle kinders na hulle.

40. Ek sal 'n blywende verbond met hulle sluit. Ek sal nooit ophou om aan hulle goed te doen nie en Ek sal in hulle die begeerte lê om My te dien en nie van My af weg te draai nie.

41. Ek sal dit geniet om goed te doen aan hulle in my trou; met alles wat Ek is, sal Ek hulle weer in dié land vestig.

42. So sê die Here: Soos Ek hierdie groot ramp oor hierdie volk gebring het, so sal Ek ook al die goeie wat Ek hulle beloof het, na hulle toe bring.

43. Daar sal weer grond gekoop word in hierdie land waarvan julle sê: “Dit is verwoes, sonder mens of dier, oorgegee in die mag van die Galdeërs.”

44. Grond sal vir silwer gekoop word, kontrakte sal geskryf word met seëls daarop en getuies daarvan. Dit sal gebeur in die gebied van Benjamin en in die omgewing van Jerusalem, in die stede van Juda: in die stede van die Bergland en van die Laeveld en in die stede van die Suidland. Ek sal hulle lot verander, sê die Here.