hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hiskia koning van Juda

1. In die derde regeringsjaar van koning Hosea van Israel, seun van Ela, het Hiskia seun van koning Agas van Juda op die troon gekom.

2. Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Abi, 'n dogter van Sagaria.

3. Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg.

4. Hiskia het die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. Hy het ook die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, laat stukkend slaan, want tot nou toe het die Israeliete die koperslang met offers vereer. Die slang is Negustan genoem.

5. Hiskia het op die Here die God van Israel vertrou. Nie een van al die konings van Juda voor of na Hiskia was soos hy nie.

6. Hy was getrou aan die Here en het nie van Hom af weggedraai nie. Hiskia was gehoorsaam aan die gebooie wat die Here aan Moses gegee het.

7. Die Here was by Hiskia, en Hiskia was voorspoedig in alles wat hy onderneem het.Hy het in opstand gekom teen die koning van Assirië en was nie meer aan hom onderdanig nie.

8. Hy het die Filistyne verslaan en hulle teruggedryf, wagpos vir wagpos, vestingstad vir vestingstad, tot by Gasa en die gebied daar rondom.

Die val van Samaria

9. In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia, die sewende regeringsjaar van koning Hosea van Israel, seun van Ela, het koning Salmaneser van Assirië teen Samaria opgetrek en die stad beleër.

10. Hy het die stad na drie jaar ingeneem, in die sesde regeringsjaar van Hiskia. In die negende regeringsjaar van koning Hosea van Israel is Samaria verower.

11. Die koning van Assirië het die inwoners van Israel as gevangenes na Assirië toe weggevoer en hulle hervestig in Galag en aan die Gaborrivier in Gosan en in die stede van Medië.

12. Dit was omdat die inwoners van Israel nie gehoorsaam was aan die Here hulle God nie. Hulle het die verbondsverpligtinge wat die Here op hulle gelê het, alles wat Moses die dienaar van die Here hulle beveel het, oortree. Hulle was ongehoorsaam en het die bevele nie uitgevoer nie.

Die bedreiging van Jerusalem deur Sanherib

13. In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië al die vestingstede in Juda aangeval en verower.

14. Koning Hiskia van Juda het toe vir die koning van Assirië in Lakis laat weet: “Ek het verkeerd gedoen. Trek u manskappe terug, ek sal betaal wat u vra.”Die Assiriese koning het koning Hiskia van Juda toe beboet met iets meer as tien ton silwer en een ton goud.

15. Hiskia moes al die silwer wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis was, afgee.

16. Terselfdertyd moes hy die goudbeslag wat hy self laat aanbring het, van die deure van die tempel van die Here en van die deurposte afstroop om die koning van Assirië te betaal.

17. Daarna het die koning van Assirië die hoof van sy leër en sy hoofamptenaar en sy hoofadjudant met 'n groot leërmag uit Lakis na koning Hiskia toe in Jerusalem gestuur. Hulle het na Jerusalem toe opgetrek en toe hulle daar aankom, het hulle posisie ingeneem langs die kanaal van die boonste dam, langs die pad na die Bleikveld toe.

18. Hulle het na die koning geroep, en toe het die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf na hulle toe gegaan.

19. Toe sê die hoofadjudant vir hulle: “Sê vir Hiskia: So sê die groot koning van Assirië: Waarop berus hierdie vertroue van jou?

20. Jy dink woorde alleen is genoeg vir strategie en militêre mag. Op wie vertrou jy dat jy in opstand is teen my?

21. Jy vertrou op Egipte, op 'n versplinterde riet wat jou in die hand steek en jou seermaak as jy op hom leun. Dit is wat die farao, die koning van Egipte, beteken vir almal wat op hom vertrou.

22. En as julle vir my wil sê julle vertrou op die Here julle God, dit is mos Hy wie se hoogtes en altare Hiskia laat verwoes het toe hy vir Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle moet net by hierdie altaar in Jerusalem aanbid.’

23. Wil jy 'n ooreenkoms aangaan met my koning, die koning van Assirië? Ek gee jou twee duisend perde: sal jy die ruiters vir hulle kan voorsien?

24. Hoe sal jy weerstand kan bied teen één goewerneur, één van my koning se onbelangrikste amptenare? En dan vertrou jy op Egipte vir strydwaens en perde!

25. Buitendien, ek het nie sonder die Here opgetrek teen hierdie plek om dit te verwoes nie; die Here het vir my gesê: Trek op teen daardie land en verwoes dit.”

26. Toe sê Eljakim seun van Gilkija, en Sebna en Joag vir die hoofadjudant: “Praat tog asseblief met ons Aramees, ons verstaan dit, maar moenie met ons Judees praat dat die manskappe op die muur dit kan verstaan nie.”

27. Maar die hoofadjudant sê vir hulle: “Dink julle my koning het my net na julle koning en na julle toe gestuur om dié dinge te sê, en nie ook na die manne wat op die muur sit nie? Hulle sal hulle eie ontlasting moet eet en hulle eie urine moet drink, net soos julle!”

28. Toe gaan staan die hoofadjudant en hy skree hard in Judees: “Luister wat die groot koning sê, die koning van Assirië!

29. So sê die koning: Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie uit my mag red nie.

30. En moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou nie. Hy sê: ‘Die Here sal ons sekerlik red; dié stad sal nie oorgegee word in die mag van die koning van Assirië nie.’

31. Moenie na Hiskia luister nie, want só sê die koning van Assirië: Maak vrede met my en kom uit na my toe, dan sal elkeen die vrugte van sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink

32. tot ek kom en julle wegvat na 'n land toe net soos julle land. Dit is 'n land met koring en wyn, 'n land met kos en wingerde, 'n land met olyfolie en heuning. Dan sal julle lewe, julle sal nie sterwe nie. Moenie na Hiskia luister nie. Hy bedrieg julle as hy sê die Here sal julle red.

33. Kon die gode van die ander nasies hulle lande red uit die mag van die koning van Assirië?

34. Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarwajim, Hena en Awwa? Kon hulle Samaria uit my mag bevry?

35. Wie van al die gode van die ander lande kon sy land uit my mag red? Dan sal die Here mos nie Jerusalem uit my mag kan red nie!”

36. Die manskappe het stilgebly en nie geantwoord nie, want die koning het hulle beveel om nie te antwoord nie.

37. Die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf het hulle klere geskeur en is terug na Hiskia toe om hom te vertel wat die hoofadjudant gesê het.