hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die siekte en herstel van Hiskia

1. In dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en gesê: “So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie.”

2. Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here:

3. “Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.”Hiskia het bitterlik gehuil.

4. Jesaja was nog nie die binneplein van die stad oor nie toe die woord van die Here tot hom kom en sê:

5. “Gaan terug en sê vir Hiskia, die leier van my volk: So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek gaan jou gesond maak, en jy sal oormôre weer na die huis van die Here toe kan gaan.

6. Ek sal jou lewe met vyftien jaar verleng en jou en dié stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal dié stad beskerm, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.”

7. Jesaja het toe opdrag gegee dat hulle 'n vyekoek moet bring en op die sweer moet sit, en die koning het beter geword.

8. Toe vra Hiskia vir Jesaja: “Wat is die teken dat die Here my sal gesond maak en dat ek oormôre weer na die huis van die Here toe sal gaan?”

9. Jesaja het geantwoord: “Die Here gee jou die volgende teken dat Hy sal doen wat Hy gesê het: moet die skaduwee tien trappe vorentoe gaan of tien terugkom?”

10. Hiskia sê toe: “Dit is maklik vir die skaduwee om tien trappe vorentoe te skuif. Nee, laat dit tien trappe terugkom.”

11. Die profeet Jesaja het die Here aangeroep, en Hy het die skaduwee wat reeds teen die trap van Agas afgesak het, tien trappe laat terugskuif.

Die gesante uit Babel

12. In dié tyd het koning Merodak-Baladan van Babel, seun van Baladan, briewe en geskenke na Hiskia toe gestuur omdat hy gehoor het van Hiskia se siekte.

13. Hiskia het die gesante te woord gestaan en hulle daarna al sy skatkamers gewys met die silwer, die goud, die kruie en die geurige olie, sy wapenkamer en alles wat in sy voorraadkamers was. Daar was niks in sy paleis en in sy koninkryk wat Hiskia die gesante nie laat sien het nie.

14. Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskia toe en vra vir hom: “Wat het daardie mense gesê en waarvandaan kom hulle?”Hiskia het geantwoord: “Uit 'n ver land, uit Babel.”

15. “Wat het hulle in jou paleis gesien?” vra Jesaja.En Hiskia antwoord: “Hulle het alles gesien wat in my paleis is. Daar is niks van my skatte wat hulle nie gesien het nie.”

16. Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Luister wat sê die Here:

17. Daar kom 'n tyd dat alles wat in jou paleis is, weggedra sal word na Babel toe, al die skatte wat jou voorvaders en jy versamel het. Daar sal niks oorbly nie, sê die Here.

18. Van jou eie seuns wat uit jou gebore is, sal gevat word, en hulle sal diens doen in die paleis van die koning van Babel.”

19. Hiskia het vir Jesaja gesê: “Die woord van die Here wat jy aan my oorgedra het, is goed.” Hiskia het bygevoeg: “As daar maar net in my tyd vrede en veiligheid is!”

Die dood van Hiskia

20. Die ander verhale oor Hiskia, oor sy moedige optrede en oor die dam en die kanaal wat hy gebou het om die water in die stad in te bring, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

21. Hiskia is oorlede, en sy seun Manasse het hom as koning opgevolg.