hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Amasia word koning oor Juda

1. In die tweede regeringsjaar van koning Joas van Israel, seun van Joahas, het Amasia seun van koning Joas van Juda op die troon gekom.

2. Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jehoaddan, uit Jerusalem.

3. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar nie heeltemal soos sy voorvader Dawid gedoen het nie; hy het alles gedoen wat Joas, sy pa, gedoen het.

4. Hy het net nie van die hoogtes ontslae geraak nie: die volk het nog diereoffers en wierookoffers gebring op die hoogtes.

5. Nadat hy goed gevestig was in sy koningskap, het hy die amptenare laat doodmaak deur wie sy pa, die koning, vermoor is.

6. Hy het nie die kinders van die moordenaars ook laat doodmaak nie, soos dit op bevel van die Here geskrywe staan in die wetboek van Moses: “Vaders mag nie oor die optrede van kinders en kinders nie oor die optrede van vaders doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde die doodstraf kry.”

7. Hy het tien duisend Edomiete in die Soutvlakte verslaan en Sela in die oorlog verower en dit Jokteël genoem, soos dit vandag nog bekend staan.

Amasia maak oorlog teen Joas van Israel

8. Amasia het 'n boodskap gestuur na koning Joas van Israel, seun van Joahas, seun van Jehu: “Kom ons veg teen mekaar.”

9. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda terug laat weet: “Die doringbos op die Libanon laat weet vir die seder op die Libanon: ‘Laat jou dogter met my seun trou,’ en toe kom die wilde diere van die Libanon verby en trap die doringbos plat.

10. Noudat jy Edom 'n groot neerlaag toegedien het, soek jy meer roem. Bly liewer by die huis. Waarom wil jy jou in die ongeluk stort en tot 'n val kom, jy en Juda saam met jou?”

11. Koning Amasia van Juda het nie geluister nie. Hy het teen koning Joas van Israel opgetrek en in Bet-Semes in Juda het hulle slaags geraak.

12. Juda het 'n neerlaag gely teen Israel, en die manskappe het op die vlug geslaan, elkeen na sy huis toe.

13. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda, seun van Joas seun van Ahasia, gevange geneem in Bet-Semes.Toe Joas in Jerusalem kom, het hy 'n stuk muur van Jerusalem laat afbreek van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort, honderd en tagtig meter.

14. Hy het al die goud en silwer gevat en al die ander goed wat hy in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis kon kry, en dit saam met gyselaars na Samaria toe gebring.

15. Die ander verhale oor Joas en wat hy gedoen het, sy dapperheid en hoe hy teen koning Amasia van Juda geveg het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

16. Joas is oorlede, en hy is begrawe in Samaria by die ander konings van Israel. Sy seun Jerobeam het hom as koning opgevolg.

Die dood van Amasia

17. Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het ná die dood van koning Joas van Israel, seun van Joahas, nog vyftien jaar geleef.

18. Die ander verhale oor Amasia is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

19. Toe hulle in Jerusalem teen hom saamgesweer het, het hy na Lakis toe gevlug, maar hulle het mense agter hom aan gestuur daarheen, en hulle het hom daar doodgemaak.

20. Hulle het sy lyk met perde teruggebring, en hy is begrawe in sy familiegraf in die Dawidstad.

21. Die hele Judese volk het vir Asarja gevat en hom in die plek van Amasia, sy pa, koning gemaak. Hy was toe sestien jaar oud

22. en het Elat herbou en onder die gesag van Juda teruggebring nadat die koning van daardie gebied dood is.

Koning Jerobeam die Tweede van Israel

23. In die vyftiende regeringsjaar van koning Amasia van Juda, seun van Joas, het Jerobeam seun van koning Joas van Israel op die troon gekom. Hy het een en veertig jaar in Samaria oor Israel geregeer

24. en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgesien van enige van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

25. Hy het die grense van Israel herstel, van Lebo-Hamat af tot by die see in die Jordaanvallei. Dit was in ooreenstemming met wat die Here die God van Israel gesê het deur sy dienaar Jona seun van Amittai, die profeet uit Gat-Gefer.

26. Die Here het die bittere ellende van Israel raakgesien: Israel was volkome weerloos en sonder enige helper.

27. Die Here het nie gesê dat Hy die naam van Israel onder die hemel sou uitwis nie, daarom het Hy hulle deur Jerobeam seun van Joas gered.

28. Die ander verhale oor Jerobeam en alles wat hy gedoen het, oor hoe dapper hy geveg het en hoe hy Damaskus en Hamat weer onder die gesag van Israel gebring het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

29. Jerobeam is oorlede, en sy seun Sagaria het hom as koning opgevolg.