hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die sonde van Manasse

1. Manasse was twaalf toe hy koning geword het, en hy het vyf en vyftig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Gefsiba.

2. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het die afskuwelike optrede van die heidennasies nagevolg wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak.

3. Hy het die hoogtes wat deur Hiskia, sy pa, verwoes is, weer opgebou, altare vir Baäl opgerig, 'n Asjerabeeld gemaak soos koning Agab van Israel gedoen het en al die hemelliggame aanbid en gedien.

4. Hy het selfs afgodsaltare gebou in die huis van die Here, die plek waarvan die Here gesê het: “In Jerusalem wil Ek my Naam vestig.”

5. In die twee voorhowe van die huis van die Here het hy altare vir al die hemelliggame gebou.

6. Hy het sy eie seun as offer verbrand, hom besig gehou met goëlery, waarsêery en toordery, en meegedoen aan die oproep en raadpleging van geeste. Hy het baie verkeerde dinge gedoen in die oë van die Here en Hom uitgetart.

7. Die Asjerabeeld wat hy laat maak het, het hy opgestel binne-in die tempel, die plek waarvan die Here vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie tempel en in Jerusalem wat Ek onder al die Israelitiese stamme uitgekies het, vestig Ek my Naam vir altyd.

8. As Israel alles doen wat Ek hulle beveel het, in ooreenstemming met die hele wet wat my dienaar Moses vir hulle neergelê het, sal Ek hulle voete stewig geplant hou op die grond wat Ek aan hulle voorvaders gegee het.”

9. Maar hulle het nie geluister nie. Manasse het Juda die verkeerde pad laat loop, sodat hulle erger aangegaan het as die nasies wat deur die Here uitgeroei is om vir Israel plek te maak.

10. Die Here het deur sy dienaars, die profete, gesê:

11. “Omdat koning Manasse van Juda hierdie afskuwelike dinge gedoen het en erger aangegaan het as al die Amoriete voor sy tyd, en hy ook vir Juda laat sondig het met sy stinkende afgode,

12. daarom, so sê die Here die God van Israel: Ek gaan nou rampe bring oor Jerusalem en Juda wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit.

13. Ek gaan Jerusalem met dieselfde maat meet as dié waarmee Ek Samaria en die koningshuis van Agab gemeet het; Ek gaan Jerusalem skoonvee soos 'n mens 'n skottel skoonvee en dan omkeer.

14. Wat oor is van die volk wat aan My behoort, gaan Ek verwerp en hulle oorgee in die mag van hulle vyande. Hulle sal deur al hulle vyande geplunder en uitgeroei word.

15. Dit sal gebeur omdat hulle gedoen het wat verkeerd is in my oë en My uitgetart het van die dag af dat hulle voorvaders uit Egipte getrek het tot vandag toe.”

16. Behalwe die sonde wat Manasse Juda laat doen het, wat verkeerd was in die oë van die Here, het Manasse ook nog baie onskuldige mense laat doodmaak. Jerusalem was van hoek tot kant vol bloed.

Manasse se dood

17. Die ander verhale oor Manasse en alles wat hy gedoen het, en die sonde wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

18. Manasse is oorlede, en hy is begrawe in die tuin by sy paleis, die tuin van Ussa. Sy seun Amon het hom as koning opgevolg.

Amon

19. Amon was twee en twintig toe hy koning geword het, en hy het twee jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Mesullemet, 'n dogter van Garus, uit Jotba.

20. Amon het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos Manasse, sy pa, gedoen het.

21. Hy het in alles die voorbeeld van sy pa gevolg, die stinkende afgode gedien wat deur sy pa gedien is, en hulle aanbid.

22. Hy het die Here die God van sy voorvaders verlaat en nie die wil van die Here gedoen nie.

23. Amptenare van koning Amon het 'n sameswering teen hom gesmee en hom in sy paleis doodgemaak.

24. Daarna het die burgers van die land almal doodgemaak wat saamgesweer het teen koning Amon, en hulle het sy seun Josia in sy plek koning gemaak.

25. Die ander verhale oor Amon en wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

26. Hy is begrawe in sy graf in die tuin van Ussa, en sy seun Josia het hom as koning opgevolg.