hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Josia

1. Josia was ag jaar toe hy koning geword het, en hy het een en dertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jedida, 'n dogter van Adaja uit Boskat.

2. Josia het gedoen wat reg is in die oë van die Here. Hy het in alles die pad van sy voorvader Dawid geloop en daar nie links of regs van afgewyk nie.

Die wetboek en die verbondsluiting

3. In die agtiende jaar van sy regering het Josia die staatsekretaris Safan, seun van Asalja seun van Mesullam, na die huis van die Here toe gestuur met die opdrag:

4. “Gaan na die hoëpriester Gilkija toe en laat hy die geld gereed kry wat ingebring is vir die huis van die Here, dié wat deur die drumpelwagte by die volk ingesamel is.

5. Die geld moet oorhandig word aan die mense wat vir die werk aan die huis van die Here moet sorg. Hulle moet daarmee die werkers betaal wat die huis van die Here moet herstel:

6. die vakmanne, die bouwerkers, die messelaars; hulle moet hout en gekapte klip koop om die tempel te herstel.

7. Daar hoef nie van hulle rekenskap gevra te word van die geld wat aan hulle oorhandig word nie, want hulle is betroubaar.”

8. Die hoëpriester Gilkija sê toe vir die staatsekretaris Safan: “Ek het die wetboek in die huis van die Here gekry.”Hy het die wetboek aan Safan oorhandig, en dié het dit gelees

9. en by die koning verslag gaan doen: “U amptenare het die geld wat hiervoor in die tempel beskikbaar was, uitgetel en dit oorhandig aan die mense wat vir die werk aan die huis van die Here moet sorg.”

10. Die staatsekretaris Safan het ook aan die koning die mededeling gedoen: “Die priester Gilkija het my 'n boek gegee,” en Safan het vir die koning gelees wat daarin staan.

11. Toe die koning hoor wat die wetboek sê, het hy sy klere geskeur

12. en opdrag gegee aan die priester Gilkija, aan Agikam seun van Safan, aan Akbor seun van Miga, aan die staatsekretaris Safan en aan Asaja die hoofamptenaar van die koning:

13. “Gaan raadpleeg die Here namens my en namens die hele volk Juda. Raadpleeg Hom oor die inhoud van hierdie boek wat gekry is. Ons voorvaders was ongehoorsaam aan die eise van hierdie boek en het nie gehandel in ooreenstemming met alles wat daarin staan nie. Daarom is die toorn van die Here wat teen ons gaan ontvlam, groot.”

14. Die priester Gilkija en Agikam, Akbor, Safan en Asaja is toe na die profetes Gulda toe. Sy was die vrou van die klerebewaarder Sallum seun van Tikwa, seun van Gasra, en het in die nuwe deel van Jerusalem gewoon. Hulle het haar vertel,

15. en sy het geantwoord: “So sê die Here die God van Israel: Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het:

16. So sê die Here: Ek bring onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, al die oordele in die boek wat die koning van Juda gelees het,

17. want hulle het My verlaat. Hulle het offers gebring vir ander gode en My uitgetart met allerhande maaksels van hulle eie hande. My toorn ontvlam teen hierdie plek, die vlam sal nie geblus word nie.

18-19. Maar sê vir die koning van Juda wat vir julle gestuur het om die Here te raadpleeg: So sê die Here die God van Israel: Ek het daarop ag geslaan dat jy in jou hart geraak is deur die woorde wat jy gehoor het en dat jy jou klere geskeur en gehuil het voor My, en dat jy berou getoon het voor My, die Here, toe jy hoor wat Ek sê oor hierdie plek en sy inwoners, naamlik dat verwoesting en straf oor hulle kom, sê die Here.

20. Daarom sal Ek jou in vrede laat sterwe en in jou graf laat ingaan; jy sal niks van al die onheil wat Ek oor hierdie plek bring, self beleef nie.”