hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Asarja koning van Juda

1. In die sewe en twintigste regeringsjaar van koning Jerobeam van Israel het Asarja, seun van koning Amasia van Juda, op die troon gekom.

2. Hy was sestien toe hy koning geword het en hy het twee en vyftig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jekolja, uit Jerusalem.

3. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy pa gevolg.

4. Hy het net nie van die hoogtes ontslae geraak nie. Die volk het nog op die hoogtes diereoffers en wierookoffers gebring.

5. Die Here het die koning met melaatsheid getref. Hy was melaats tot die dag van sy dood en het in 'n plek van afsondering gewoon. Sy seun Jotam het die paleis bestuur en oor die hele land geregeer.

6. Die ander verhale oor Asarja, oor alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

7. Asarja is oorlede, en hulle het hom begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Jotam het hom as koning opgevolg.

Sagaria koning van Israel

8. In die ag en dertigste regeringsjaar van koning Asarja van Juda het Sagaria seun van Jerobeam oor Israel koning geword en ses maande in Samaria geregeer.

9. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here soos sy voorvaders. Hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

10. Sallum seun van Jabes het teen hom saamgesweer, hom voor die oë van die volk aangeval en doodgemaak en hom toe as koning opgevolg.

11. Die ander verhale oor Sagaria is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

12. Daar was 'n uitspraak van die Here waarin Hy vir Jehu gesê het: “Jy sal seuns hê tot in die vierde geslag wat op die troon van Israel sal sit.”So het dit ook gebeur.

Sallum koning van Israel

13. Sallum seun van Jabes het koning geword in die nege en dertigste jaar van koning Ussia van Juda. Hy het 'n maand en 'n paar dae in Samaria geregeer.

14. Menahem seun van Gadi het uit Tirsa getrek en in Samaria gekom, en hy het vir Sallum seun van Jabes in Samaria aangeval, hom doodgemaak en hom as koning opgevolg.

15. Die ander verhale oor Sallum en die sameswering wat hy gesmee het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

16. Destyds het Menahem vir Tifsag aangeval. Omdat hulle nie die poorte vir hom wou oopmaak nie, het hy al die inwoners van die stad en almal uit die omgewing van Tirsa doodgemaak. Hy het al die swanger vrouens laat oopsny.

Menahem koning van Israel

17. In die nege en dertigste regeringsjaar van koning Asarja van Juda het Menahem seun van Gadi koning oor Israel geword en hy het tien jaar in Samaria geregeer.

18. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here: hy het vir die volle duur van sy regering nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

19. Toe koning Pul van Assirië teen die land opgeruk het, het Menahem vier en dertig ton silwer betaal. Pul sou hom dan ondersteun in die handhawing van sy koningskap.

20. Menahem het elke burger in Israel 'n heffing opgelê om die koning van Assirië te kan betaal: vyf honderd en sewentig gram silwer per man. Toe het die koning van Assirië sy leër uit die land onttrek en teruggegaan.

21. Die ander verhale oor Menahem en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

22. Menahem is oorlede en sy seun Pekahia het hom as koning opgevolg.

Pekahia koning van Israel

23. In die vyftigste regeringsjaar van koning Asarja van Juda het Pekahia seun van Menahem koning oor Israel geword en hy het twee jaar in Samaria geregeer.

24. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here; hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

25. Sy adjudant, Peka seun van Remalja, het teen hom saamgesweer en hom aangeval in die toring van die paleis in Samaria. Met die hulp van vyftig man uit Gilead het Peka vir Argob, Arje en die koning doodgemaak en hom as koning opgevolg.

26. Die ander verhale oor Pekahia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

Peka koning van Israel

27. In die twee en vyftigste regeringsjaar van koning Asarja van Juda het Peka seun van Remalja koning oor Israel geword en hy het twintig jaar in Samaria geregeer.

28. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here: hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

29. Tydens die regering van koning Peka van Israel het koning Tiglat-Pileser van Assirië die land ingeval. Hy het Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes, Hasor, Gilead en Galilea, die hele land Naftali, ingeneem en die inwoners het hy na Assirië toe weggevoer.

30. Hosea seun van Ela het teen Peka seun van Remalja saamgesweer, hom aangeval en doodgemaak en hom as koning opgevolg in die twintigste regeringsjaar van Jotam seun van Ussia.

31. Die ander verhale oor Peka en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

Jotam koning van Juda

32. In die tweede regeringsjaar van koning Peka van Israel, seun van Remalja, het Jotam seun van koning Ussia van Juda op die troon gekom.

33. Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het sestien jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jerusa, 'n dogter van Sadok.

34. Jotam het gedoen wat reg is in die oë van die Here en hy het in alles die voorbeeld van sy pa gevolg.

35. Die volk het egter nie afgesien van die hoogtes nie: hulle het nog diereoffers en wierookoffers op die hoogtes gebring. Jotam het die boonste poort van die huis van die Here laat bou.

36. Die ander verhale oor Jotam en wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

37. In daardie tyd het die Here vir die eerste keer vir koning Resin van Aram en vir Peka seun van Remalja gestuur om Juda aan te val.

38. Jotam is oorlede, en hy is in die familiegraf by sy voorvaders begrawe in die Dawidstad. Sy seun Agas het hom as koning opgevolg.