hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die sonde van Nadab en Abihu

1. Aäron se seuns Nadab en Abihu het gloeiende kole in hulle vuurpanne gesit en wierook daaroor gesprinkel. Op dié manier was hulle ongehoorsaam aan die Here omdat hulle ’n ander soort vuur voor Hom gebrand het as wat die Here beveel het.

2. Vuur het van die Here afgekom en hulle verbrand en hulle is daar voor die Here dood.

3. Moses sê toe vir Aäron: “Dit is wat die Here bedoel het toe Hy gesê het: Wie tot My nader, moet besef Ek is heilig.Ek word geëervoor die hele volk.” Aäron het net stilgebly.

4. Moses het toe vir Misael en Elisafan, twee neefs van Aäron, die seuns van Aäron se oom Ussiël, geroep en gesê: “Kom en dra die liggame van julle familielede weg van die heiligdom na ’n plek buite die kamp.”

5. Hulle het na vore gekom en hulle in hulle priesterklere weggedra na ’n plek buite die kamp soos Moses beveel het.

6. Moses sê toe vir Aäron en sy seuns Eleasar en Itamar: “Moenie rou deur julle hare los te laat hang of deur julle klere te skeur nie. As julle dit doen, sal julle sterf en sal die Here kwaad word vir die hele gemeenskap van Israel. Die res van die Israeliete, julle familielede, mag egter rou oor Nadab en Abihu wat die Here met vuur verteer het.

7. Maar julle mag glad nie die ingang van die tent van ontmoeting verlaat nie. Julle sal met die dood gestraf word as julle dit doen, want die Here se salfolie is op julle.”Hulle het gemaak soos Moses gesê het.

Instruksies vir die gedrag van

priesters

8. Die Here het vir Aäron gesê:

9. “Jy en jou seuns mag nooit wyn of enige ander alkoholiese drank drink voordat julle in die tent van ontmoeting ingaan nie. As julle dit doen, sal julle sterf. Hierdie is ’n permanente reëling vir jou en moet ook deur toekomstige geslagte nagekom word.

10. Jy is die een wat moet onderskei tussen dit wat heilig en onheilig is, tussen dit wat rein of onrein is.

11. Jy moet ook al die reëls wat die Here deur Moses aan die Israeliete gegee het, vir hulle leer.”

Aäron en sy ander twee seuns

12. Moses het vir Aäron en sy twee oorblywende seuns, Eleasar en Itamar, gesê: “Neem van die graanoffer wat oor is nadat die hand vol vir die Here gebring is met ’n vuuroffer. Sorg dat daar nie suurdeeg in is nie en eet dit daar langs die altaar, want dit is baie heilig.

13. Dit moet in ’n heilige plek geëet word, want dit is vir julle en julle nageslag gegee as julle regmatige deel van die vuuroffers aan die Here. Dit is die bevele wat aan my gegee is.

14. Maar die borsstuk en die boud wat vir die Here opgelig is, mag op enige plek wat rein is, geëet word. Dit is vir jou en jou seuns en dogters gegee as julle gereelde deel van die maaltydoffers wat die volk Israel vir die Here bring.

15. Die boud en die bors wat opgelig is, moet saam met die vet van die vuuroffer opgelig word vir die Here. Dit sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort, net soos die Here beveel het.”

16. Toe Moses navraag doen om te weet wat met die sonde-offerbok gebeur het, het hy ontdek dat dit verbrand is. Hy het baie kwaad geword vir die twee oorblywende seuns van Aäron, Eleasar en Itamar.

17. “Waarom het julle nie die sonde-offer in die heilige gebied geëet nie?” wou hy weet. “Dit is immers ’n heilige offer! Dit is bedoel om die skuld van die gemeenskap weg te neem en om versoening vir die volk voor die Here te bewerk.

18. Omdat die bloed van die offerdier nie in die heiligdom ingeneem is nie, moes julle die vleis in die heilige gebied geëet het soos ek julle beveel het.”

19. Aäron het toe namens sy seuns vir Moses geantwoord: “Vandag het my seuns beide hulle sonde-offer en brandoffer vir die Here gebring,” het hy gesê. “Hierdie soort ding het ook al met my gebeur. Sou die Here dit goedgekeur het as ek die een was wat vandag die sonde-offer geëet het?”

20. Toe Moses dit hoor, was hy tevrede.