hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die reiniging van velsiektes

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Die volgende instruksies moet gevolg word deur die mense wat gereinig word ná ’n aansteeklike velsiekte. Die persone wat gesond geword het, moet na die priester gebring word.

3. Hy sal hulle by ’n plek buite die kamp ondersoek. As die priester sien dat iemand gesond geword het van die velsiekte,

4. sal hy ’n reinigingseremonie uitvoer. Die priester moet dit doen met twee eetbare wilde voëls, ’n stukkie sederhout, ’n rooi-pers lap en ’n hisoptakkie.

5. Die priester sal dan bevel gee dat een van die voëls oor ’n kleipot met vars fonteinwater geslag moet word.

6. Hy sal dan die lewende voël saam met die stukkie sederhout, die rooi-pers lap en die hisoptakkie vat en in die bloed van die voël wat geslag is, dompel.

7. Die priester sal ook van die dooie voël se bloed vat en sewe keer sprinkel oor die persoon wat gereinig moet word. Die priester sal dan die persoon rein verklaar. Aan die einde van die seremonie sal die priester die lewende voël vrylaat sodat dit in die oop veld kan wegvlieg.

8. “Die persone wat gereinig word, moet die reinigingseremonie voltooi deur hulle klere te was, al hulle hare af te skeer en in water te bad. Dan sal hulle rein wees en mag hulle weer na die kamp terugkeer. Hulle moet egter vir nog sewe dae buite hulle tente bly.

9. Op die sewende dag moet hulle weer al hulle hare afsny, insluitende die baard en wenkbroue. Dan moet hulle hulle klere was en ook in water bad. Dan sal hulle rein verklaar word.

10. “Die volgende dag, die agtste dag, moet elke persoon wat gesond geword het van die velsiekte, twee rammetjies en ’n jaaroud ooilam sonder enige liggaamsgebrek bring, saam met vyf liter uitgesoekte meel, gemeng met olyfolie en 300 milliliter olyfolie.

11. Die diensdoende priester sal die persoon saam met die offers in die teenwoordigheid van die Here bring om by die ingang van die tent van ontmoeting gereinig te word.

12. Die priester sal dan een van die lammers en die olyfolie neem en dit as ’n skuldoffer offer deur die offer in die teenwoordigheid van die Here op te lig.

13. Hy sal dan die lam slag in die heilige gebied waar die skuldoffers en die brandoffers geslag word. Net soos met die sonde-offer, sal die skuldoffer vir die priester gegee word. Dit is ’n baie heilige offer.

14. Die priester sal dan van die bloed van die skuldoffer neem en dit aan die persoon se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon smeer.

15. “Die priester sal van die olyfolie in die palm van sy eie linkerhand gooi.

16. Hy sal sy regtervinger in die olie druk en dit sewe keer in die teenwoordigheid van die Here sprinkel.

17. Die priester sal dan van die olie in sy linkerhand aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die gesonde persoon smeer, bo-oor die bloed van die skuldoffer.

18. Die olie wat in die priester se hand oorbly, sal hy dan oor die kop van die gesonde persoon uitgooi. Op dié manier sal die priester versoening bring in die teenwoordigheid van die Here vir die persoon wat gereinig word.

19. “Die priester moet dan die sonde-offer bring en weer die versoeningseremonie herhaal vir die persoon wat gesond geword het van die velsiekte. Daarna sal die priester die hele brandoffer slag

20. en dit op die altaar saam met die graanoffer offer. Op dié manier sal die priester versoening bewerk vir die persoon wat gereinig is en sal die gesonde persoon rein wees.

21. “Enigiemand wat nie twee lammers kan bekostig nie, moet een rammetjie as skuldoffer bring saam met twee liter keurgraad meel gemeng met olyfolie as ’n graanoffer en 300 milliliter olyfolie. Die skuldoffer sal dan gebring word deur dit op te lig en so versoening te bring vir die persoon wat gereinig is.

22. Die persoon wat gereinig is, moet ook twee tortelduiwe of twee jong duiwe bring, wat hy ook al kan bekostig. Een paar moet as ’n sonde-offer en die ander paar as ’n hele brandoffer gebruik word.

23. Op die agtste dag moet die persoon wat gereinig is die offers vir die priester bring sodat die reinigingseremonie voltooi kan word in die teenwoordigheid van die Here by die ingang van die tent van ontmoeting.

24. Die priester sal dan die rammetjie met die olyfolie vir die skuldoffer neem en dit in die teenwoordigheid van die Here oplig as ’n offer vir Hom.

25. Dan sal die priester die rammetjie slag as ’n skuldoffer. Hy sal van die bloed op die persoon se regteroorlel, die regterduim en regtergroottoon smeer.

26. “Die priester sal ook van die olyfolie in die palm van sy eie linkerhand gooi.

27. Hy sal sy regtervinger in die olie druk en dit sewe keer in die teenwoordigheid van die Here sprinkel.

28. Die priester sal dan van die olyfolie in sy hand neem en dit aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon smeer bo en behalwe die bloed van die skuldoffer.

29. Die olie wat in die hand van die priester oor is, sal dan oor die kop van die persoon gegooi word. Op dié manier sal die priester versoening doen vir die persoon wat gereinig is.

30. “Die priester sal dan die twee tortelduiwe of die twee jong duiwe, wat die persoon ook al kan bekostig, offer.

31. Een is ’n sonde-offer en die ander is ’n hele brandoffer wat saam met die graanoffer gebring word. Op dié manier sal die priester in die teenwoordigheid van die Here versoening doen vir die persoon wat gereinig is.

32. Hierdie is die instruksies vir die reiniging van dié wat herstel het van ’n aansteeklike velsiekte, maar wat dit nie kan bekostig om die normale offers wat vereis word vir die reiniging te bring nie.”

Die behandeling van besmette

33. Toe het die Here vir Moses en Aäron gesê:

34. “Wanneer julle aankom in Kanaän, die land wat Ek aan julle as ’n erfdeel gee, kan Ek sommige van julle huise met ’n besmetlike swam besmet.

35. Die eienaar van so ’n huis moet dan na die priester toe gaan en sê: ‘Dit lyk of my huis ’n soort swamsiekte het.’

36. Hy moet die huis leegmaak voordat die priester die huis ondersoek, anders word alles in die huis onrein verklaar. Dan sal die priester ingaan en die huis ondersoek.

37. As hy helder groen of rooierige gate in die mure van die huis vind en dit lyk asof die besmetting dieper is as net die oppervlakte van die muur,

38. moet hy die huis verlaat en dit sewe dae lank toesluit.

39. Op die sewende dag moet die priester vir nog ’n ondersoek terugkeer. As die swamme teen die mure van die huis versprei het,

40. moet die priester bevel gee dat die besmette stene verwyder word. Die besmette materiaal moet dan in ’n gebied buite die stad wat as onrein aangedui is, weggegooi word.

41. Al die binnemure van die huis moet goed afgeskraap word en die afskraapsels moet in die onrein gebied buite die stad gegooi word.

42. Ander stene moet gebring word om die stene wat verwyder is te vervang, en die mure moet oorgepleister word.

43. “As die swamme weer groei ná al die dinge wat gedoen is,

44. moet die priester terugkeer en weer ’n ondersoek doen. As hy sien dat die aangetaste areas weer besmet is en die mure duidelik besmet is met swamme, is die huis onrein.

45. Dit moet afgebreek word en al die stene, houtwerk en pleister moet buitentoe gevat word na ’n plek wat as ’n onrein gebied aangedui is.

46. Enigiemand wat die huis sou binnegaan terwyl dit gesluit is, sal tot die aand toe as onrein beskou word.

47. Almal wat in die huis slaap of eet, moet hulle klere was.

48. “As die priester terugkom om inspeksie te doen en hy vind dat die swamme nie weer gegroei het nadat die nuwe pleister opgesit is nie, sal hy die huis rein verklaar aangesien die swamme duidelik weg is.

49. Om die huis rein te maak, het die priester twee voëls, ’n stukkie sederhout, ’n rooi-pers lap en ’n hisoptakkie nodig.

50. Hy sal een van die voëls slag oor ’n kleipot wat vol vars fonteinwater is.

51. Hy sal dan die sederhout, die hisoptakkie, die rooi-pers lap en die lewende voël in die bloed van die voël wat geslag is, druk en die huis sewe keer besprinkel.

52. Nadat hy die huis op dié manier gereinig het,

53. sal hy die lewende voël in die oop veld buite die stad vrylaat. Op dié manier sal die priester versoening doen vir die huis en sal dit rein wees.

54. “Dit is die instruksies wat geld vir die verskillende soorte aansteeklike velsiektes en aansteeklike skimmel en swamme,

55. of dit nou vir klere, ’n huis,

56. ’n geswelde deel van die vel, ’n uitslag of ’n seer op die vel is.

57. Hierdie instruksies moet gevolg word in geval van enige aansteeklike velsiekte of besmetlike skimmel om te bepaal wanneer iets rein of onrein is.”