hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Sabbatsjaar

1. Terwyl Moses op die Sinaiberg was, het die Here vir hom gesê:

2. “Gee hierdie instruksies vir die Israeliete: Wanneer julle die land binnetrek wat Ek as ’n erfdeel vir julle gee, moet die land self elke sewe jaar ’n Sabbat vir die Here hou.

3. Vir ses jaar mag julle julle landerye beplant, julle wingerde snoei en julle lande oes,

4. maar die sewende jaar sal vir die Here ’n Sabbatsjaar van rus vir die land wees. Moenie plant nie en moet ook nie julle wingerde snoei gedurende die hele jaar nie.

5. Julle mag ook nie oes wat natuurlik groei of die druiwe gebruik van julle ongesnoeide wingerde nie. Die land moet vir ’n jaar lank heeltemal rus.

6. Julle, julle slawe en slavinne en enige vreemdelinge wat tussen julle woon, mag egter van die produkte eet wat natuurlik groei gedurende die Sabbatsjaar.

7. Julle diere en die wilde diere mag ook eet van wat die land oplewer.”

Die Jubeljaar

8. “Tel sewe Sabbatsjare af, sewe maal sewe, ’n totaal van 49 jaar.

9. Op die Versoendag in die 50ste jaar moet die trompette hard en lank oor die hele land geblaas word.

10. Die jaar sal dan afgesonder word as heilig, dit is ’n tyd wanneer al die bewoners van die land vrygelaat moet word. Dit sal ’n Jubeljaar wees, ’n jaar wanneer elkeen van julle mag terugkeer na die land wat aan julle voorouers behoort het, ’n jaar wanneer elkeen met sy familiegroep herenig word.

11. Die 50ste jaar sal ’n Jubeljaar vir julle wees. Gedurende dié jaar mag julle nie saad plant of afoes wat natuurlik groei, of die druiwe gebruik van julle ongesnoeide wingerde nie.

12. Dit sal ’n Jubeljaar wees vir julle en julle moet dit as ’n spesiale en heilige tyd nakom. Julle mag gedurende die jaar van die opbrengs eet wat die veld vanself oplewer.

13. Gedurende die Jubeljaar moet elkeen van julle terugkeer na die land wat aan julle voorouers behoort het.

14. “Wanneer julle ’n ooreenkoms met ’n buurman aangaan om grond te koop of te verkoop, mag julle mekaar nooit uitbuit nie.

15. Wanneer julle grond van ’n buurman koop, moet die prys van die grond gebaseer word op die aantal jare sedert die laaste Jubeljaar. Die verkoper sal ’n prys vra op grond van die aantal oesjare wat nog oor is tot die volgende Jubeljaar.

16. Hoe groter die aantal jare voor die hersteljaar, hoe hoër die prys. Hoe minder die aantal jare, hoe laer die prys. Die verkoper van die grond verkoop mos eintlik ’n sekere aantal oeste.

17. Wys julle eerbied vir God deur mekaar nie uit te buit nie. Ek, die Here, is julle God.

18. “As julle veilig in die land wil woon, hou my gebooie en gehoorsaam my reëlings.

19. Dan sal die land goeie oeste lewer, julle sal goed eet en veilig in die land leef.

20. Julle kan miskien vra: ‘Wat sal ons gedurende die sewende jaar eet, aangesien ons in daardie jaar niks mag plant of oes nie?’

21. Die antwoord is: ‘Ek sal my seën oor julle gebied stuur in die sesde jaar sodat die land ’n baie goeie oes oplewer, genoeg om julle vir drie jaar lank te onderhou.

22. Wanneer julle weer saad plant in die agtste jaar, sal julle nog steeds van die opbrengs van die vorige jaar eet. Julle sal nog steeds van die ou oes kan eet totdat die nuwe oes eers in die negende jaar kom.’

23. “Onthou dat die land nooit op ’n permanente basis verkoop mag word nie, want eintlik behoort die land aan My. Julle is eintlik net vreemdelinge en huurders wat by My bly.”

Die terugkoop van eiendom

24. “Met elke grondtransaksie moet dit gestipuleer word dat die grond weer te eniger tyd teruggekoop mag word.

25. As enige van julle Israelitiese familielede bankrot speel en so gedwing word om van die geërfde grond te verkoop, mag ’n naby familielid – ’n losser – die grond vir hom terugkoop.

26. As daar niemand van sy familie is om die grond terug te koop nie, maar die persoon wat dit verkoop het, slaag daarin om genoeg geld in die hande te kry om die grond terug te koop,

27. het die persoon die reg om die grond terug te koop van die persoon wat dit aanvanklik gekoop het. Die prys van die grond sal baseer word op die aantal jare tot die volgende Jubeljaar. Nadat die grond teruggekoop is, mag die oorspronklike eienaar terugkeer na sy grond toe.

28. As die oorspronklike eienaar egter nie kan bekostig om die grond terug te koop nie, sal dit tot die volgende Jubeljaar aan die nuwe eienaar behoort. In die Jubeljaar sal die grond dan teruggegee word aan die oorspronklike eienaar.

29. “As iemand ’n huis binne ’n ommuurde stad verkoop, het hy nog vir ’n jaar lank die reg om dit terug te koop. Gedurende dié tyd het die verkoper die reg om dit terug te koop.

30. As die huis nie binne ’n jaar teruggekoop word nie, word die huis binne ’n ommuurde stad die permanente eiendom van die koper. Dit word dan nie in die Jubeljaar aan die oorspronklike eienaar terugbesorg nie.

31. ’n Huis in ’n dorp – dit beteken ’n nedersetting sonder versterkte mure – word op dieselfde manier as eiendom in die oop veld beskou. So ’n huis mag te eniger tyd teruggekoop word en moet dan aan die oorspronklike eienaar terugbesorg word in die Jubeljaar.

32. “Die Leviete behou altyd die reg om ’n huis wat hulle in die stad verkoop het, weer terug te koop.

33. Enige eiendom wat deur die Leviete teruggekoop kan word – dit wil sê alle huise in Levitiese stede – moet aan hulle terugbesorg word in die Jubeljaar. Die Levitiese stede is tog die enigste eiendom wat hulle in Israel mag besit.

34. Die strook weiveld om elk van die Levitiese stede mag nooit verkoop word nie. Dit is hulle permanente eiendom.”

Die behandeling van armes en

slawe

35. “Wanneer enigeen van julle mede-Israeliete in armoede verval en van jou afhanklik raak, sorg vir hulle soos wat julle vir ’n vreemdeling sou sorg en laat hulle toe om by julle te bly.

36. Moenie wins uit hom maak of rente hef op die geld wat julle vir hulle leen nie. Wys julle vrees vir God deur hulle by julle te laat bly as julle bloedverwante.

37. Onthou, julle mag nie julle bloedverwante rente vra op enigiets wat julle aan hulle leen nie, of dit nou kos of geld is.

38. Ek, die Here, is julle God wat julle uit Egipte gebring het om aan julle hierdie land te gee en om julle God te wees.

39. “As enigeen van julle mede-Israeliete bankrot speel en hulleself as slawe aan julle moet verkoop, moet hulle nie as slawe behandel nie.

40. Behandel hulle eerder soos gehuurde werkers of soos vreemdelinge wat by julle bly. Hulle sal in julle diens wees tot die Jubeljaar toe.

41. Hulle en hulle kinders het dan geen verpligting teenoor julle nie en kan terugkeer na hulle familiegroep en eiendom toe.

42. Die volk Israel is in my diens, dit is vir hulle wat Ek uit die land Egipte gebring het. Hulle mag dus nooit weer as slawe verkoop word nie.

43. Wys julle respek vir God deur hulle goed te behandel. Moenie julle gesag oor hulle op ’n harde manier uitoefen nie.

44. “Julle mag slawe of slavinne koop van die nasies wat rondom julle bly.

45. Julle mag ook die kinders koop van die mense wat tydelik tussen julle bly, ook dié wat in julle land gebore is. Julle mag hulle as julle eiendom behandel

46. en hulle selfs aan julle kinders bemaak as ’n wettige erfporsie. Julle mag julle slawe so behandel, maar die volk Israel, julle bloedverwante, mag nooit so behandel word nie.

47. “As ’n vreemdeling wat onder julle woon sou ryk word, en as een van julle mede-Israeliete bankrot speel en hulleself verkoop aan so ’n vreemdeling,

48. behou hulle nog steeds die reg om teruggekoop te word. Hulle mag deur ’n naby familielid –

49. ’n oom, ’n neef of enige ander naby familielid – teruggekoop word. Hulle mag hulleself ook vrykoop as hulle die geld het.

50. “Die prys vir hulle vryheid sal bepaal word deur die aantal jare wat oor is tot by die volgende Jubeljaar – dit wil sê, hoeveel dit sal kos om vir daardie bepaalde tydsduur ’n slaaf te huur.

51. As daar nog baie jare oor is, sal die verkoopprys ’n groot deel van die oorspronklike koopprys wees.

52. As daar nie baie jare oor is nie, sal hulle ’n kleiner bedrag vir hulle vryheid moet betaal.

53. “Die vreemdeling moet hulle as werkers wat volgens ’n jaarkontrak werk, behandel. Julle mag nie toelaat dat ’n vreemdeling julle mede-Israeliete hard behandel nie.

54. As enige van die Israeliete nog nie teruggekoop is teen die tyd van die Jubeljaar nie, moet hulle en hulle kinders in die Jubeljaar vrygelaat word.

55. Die volk Israel is my dienaars wat Ek uit die land Egipte gebring het. Ek, die Here, is julle God.”