hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Verdere aanwysings vir die

skuldoffer

1. “Dit is die voorskrifte vir die skuldoffer, wat ’n baie heilige offer is.

2. Die dier wat geoffer word as ’n skuldoffer, moet geslag word waar die brandoffers geslag word. Die bloed moet teen die kante van die altaar gesprinkel word.

3. Die priester sal dan al die vet op die altaar offer, dit beteken die vet van die stert, die vet aan die binnegoed,

4. die twee niere met die vet rondom hulle naby die kruis, en die punt van die lewer, wat saam met die niere verwyder moet word.

5. Die priester sal al sy dele op die altaar verbrand as ’n vuuroffer vir die Here.

6. Alle manlike lede van ’n priester se familie mag van die vleis eet en dit moet op ’n gewyde plek geëet word, want dit is ’n baie heilige offer.

7. “In die geval van beide die sonde-offer en die skuldoffer behoort die vleis van die offerdier aan die priester in beheer van die versoeningseremonie.

8. In geval van die brandoffer behoort die vel van die offerdier ook aan die priester.

9. Enige graanoffer wat in ’n oond gebak is of in ’n pan gaargemaak is of op ’n plaat voorberei is, behoort aan die priester wat die offer aanbied.

10. Alle ander graanoffers, met of sonder olyfolie, moet verdeel word onder al die priesters en hulle seuns.”

Verdere instruksies vir die

maaltydoffer

11. “Hier volg die instruksies vir die verskillende soorte maaltydoffers wat vir die Here gebring mag word.

12. As jy ’n maaltydoffer as ’n dankoffer bring, moet die gebruiklike offerdiere saam met verskillende soorte brood sonder enige suurdeeg gebring word. Dit moet in olyfolie gedoop word. Dit kan ringbrood, of dun broodjies of roosterkoeke wees.

13. By hierdie maaltydoffer wat as danksegging gebring word, moet daar ook brode wees wat met suurdeeg gemaak is.

14. Een van elke soort brood moet as ’n gawe vir die Here gegee word. Hierdie brood sal dan aan die priester behoort wat die altaar met die bloed van die offerdier besprinkel het.

15. Die vleis van die offerdier moet op dieselfde dag as wat dit geslag is, geëet word. Niks mag oorbly tot die volgende oggend toe nie.

16. “As jy egter ’n offer bring om ’n gelofte na te kom, of as jy ’n vrywillige offer bring, moet die vleis op dieselfde dag geëet word. Vleis wat oorbly, mag wel ook op die volgende dag geëet word.

17. Enigiets wat oorbly tot op die derde dag moet heeltemal verbrand word.

18. As enige vleis van die maaltydoffer op die derde dag geëet word, sal die Here dit nie aanvaar nie. Dit sal geen waarde as ’n offer hê nie en dit sal ook nie in die guns tel van die een wat die offer gebring het nie. Op daardie stadium sal die vleis al sleg wees en as jy dit eet, sal jy verantwoording moet doen vir jou sonde.

19. “Vleis wat aan enigiets wat onrein is, geraak het, mag nie geëet word nie, dit moet heeltemal verbrand word. Vleis wat geëet mag word, mag net geëet word deur iemand wat rein is.

20. Iemand wat onrein is, maar wat vleis van ’n maaltydoffer vir die Here geëet het, moet uit die gemeenskap verwyder word.

21. As iemand aan iets raak wat onrein is, of dit nou iets onreins aan ’n mens of van ’n onrein dier is, en so ’n persoon eet vleis van offers vir die Here, moet so iemand uit die gemeenskap verwyder word.”

Die eet van vet en bloed word

verbied

22. Die Here het vir Moses gesê:

23. “Gee vir die Israeliete hierdie instruksies: Julle mag nooit vet eet nie, nie die vet van osse of skape of bokke nie.

24. Die vet van ’n dooie dier of van ’n dier wat deur roofdiere gevang is, mag nooit geëet word nie. Dit mag egter wel vir ander doeleindes gebruik word.

25. Enigiemand wat vet van ’n dier eet wat as vuuroffer vir die Here gegee word, moet uit die gemeenskap verwyder word.

26. Selfs in julle huise mag julle nooit die bloed van enige voël of dier eet nie.

27. Enigiemand wat bloed eet, moet uit die gemeenskap verwyder word.”

’n Deel vir die priesters

28. Toe het die Here vir Moses gesê:

29. “Gee hierdie verdere instruksies vir die Israeliete: Wanneer jy ’n maaltydoffer vir die Here bring, bring ’n deel daarvan as ’n spesiale gawe vir die Here.

30. Gee dit vir Hom met jou eie hande as ’n vuuroffer vir die Here. Bring die vet van die dier, saam met die bors, en gee dit vir die Here deur dit voor Hom op te lig.

31. Die priester sal dan die vet op die altaar verbrand, maar die bors sal aan Aäron en sy seuns behoort.

32. Jy moet die regterboud van die maaltydoffer as ’n gawe aan die priester gee.

33. Die regterboud moet altyd aan die priester wat die bloed sprinkel en die vet van die maaltydoffer offer, gegee word.

34. Ek het die bors en die regterboud vir die priesters bepaal. Dit is hulle deel van die maaltydoffers wat die Israeliete bring. Dit is ’n vaste instelling.

35. Dit is hulle deel. Van die vuuroffers wat vir die Here gebring word, is dit opsy gesit vir Aäron en sy afstammelinge vanaf die tyd dat hulle aangewys is om die Here as priesters te dien.

36. Die Here het die Israeliete beveel om hierdie dele vir die priesters te gee as hulle regmatige deel. Dit geld van die tyd dat die priesters gesalf is. Hierdie reëling geld ook vir die geslagte wat nog kom.”

37. Dit is die instruksies vir die brandoffer, die graanoffer, die sonde-offer, die skuldoffer, die wydingsoffer en die maaltydoffer.

38. Die Here het hierdie instruksies vir Moses op die Sinaiberg gegee toe hy die Israeliete beveel het om hulle offers vir die Here in die Sinaiwoestyn te bring.