hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Suiwer olie en heilige brood

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Beveel die Israeliete om vir jou suiwer olyfolie vir die lamp in die heiligdom te gee sodat dit kan bly brand.

3. Aäron moet sorg dat die lamp bly brand van die aand tot die volgende oggend voor die voorhangsel van die Allerheiligste plek in die teenwoordigheid van die Here. Dit is ’n permanente reëling vir julle en moet deur alle toekomstige geslagte nagekom word.

4. Die lampe op die goue lampstaander in die teenwoordigheid van die Here moet gereeld versorg word.

5. “Julle moet twaalf brode met meel bak. Gebruik drie kilogram meel vir elke brood.

6. Pak die brood op die goue tafel in die teenwoordigheid van die Here in twee rye, ses brode in elke ry.

7. Sprinkel suiwer wierook in elke ry. Dit sal dien as ’n gedenkoffer wat in die plek van die brood gebrand moet word as ’n vuuroffer wat vir die Here gegee word.

8. “Elke Sabbatdag moet hierdie brood in die teenwoordigheid van die Here vervang word ter wille van die Israeliete as ’n voortdurende verbond.

9. “Die brode wat vervang word, behoort aan Aäron en sy manlike nakomelinge. Hulle moet dit op ’n heilige plek eet, want dit verteenwoordig ’n besonder heilige gawe wat as vuuroffer vir die Here gegee word.”

’n Voorbeeld van regverdige straf

10. Op ’n dag het ’n man met ’n Israelitiese ma en ’n Egiptiese pa in ’n geveg betrokke geraak met een van die Israelitiese mans.

11. Midde-in die geveg het die seun van ’n Israelitiese vrou die Naam van die Here lasterlik gebruik. Die man is toe na Moses toe gebring om uitspraak te gee. Sy ma se naam was Selomit. Sy was die dogter van Dibri uit die stam van Dan.

12. Hulle het die man in aanhouding geplaas totdat die wil van die Here in dié verband duidelik sou word.

13. Toe het die Here vir Moses gesê:

14. “Neem hierdie lasteraar uit die kamp uit. Sê vir almal wat hom hoor laster het om hulle hande op sy kop te lê. Laat die hele gemeenskap hom dan stenig.

15. “Sê dan vir die volk Israel: Hy wat die Naam van die Here lasterlik gebruik, sal die gevolge van sy skuld dra en sal gestraf word.

16. “Hy wat die Naam van die Here lasterlik gebruik, moet deur die hele gemeenskap van Israel gestenig word. Enige Israeliet of vreemdeling wat die Naam van die Here lasterlik gebruik, moet doodgemaak word.

17. “Enigeen wat die lewe van ’n ander persoon neem, moet doodgemaak word.

18. “Enigeen wat ’n ander persoon se dier doodmaak, moet die persoon ten volle vergoed. Hy moet die dier wat doodgemaak is, vervang met ’n lewende dier.

19. “Enigeen wat ’n ander persoon beseer, moet behandel word ooreenkomstig die besering wat hy veroorsaak het –

20. ’n beenbreuk vir ’n beenbreuk, ’n oog vir ’n beseerde oog, ’n tand vir ’n gebreekte tand. Presies wat iemand gedoen het toe hy ’n ander persoon seer gemaak het, moet nou met hom gemaak word.

21. “Wie ’n dier doodmaak, moet dit ten volle vergoed, maar wie ’n ander persoon se lewe neem, moet doodgemaak word.

22. “Hierdie bepalings is van toepassing op gebore Israeliete en op die vreemdelinge wat tussen julle woon. Ek, die Here, is julle God.”

23. Nadat Moses al hierdie instruksies vir die Israeliete gegee het, het hulle die godslasteraar uit die kamp gevat en hom gestenig, net soos die Here vir Moses beveel het.