hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Verbod om bloed te eet

1. Toe het die Here vir Moses gesê:

2. “Gee vir Aäron en sy seuns en vir al die Israeliete hierdie bevele van die Here:

3. As enige Israeliet ’n bees of skaaplam of bok êrens binne of buite die kamp offer

4. en dit is nie ’n offer vir die Here wat hy na die ingang van die tent van ontmoeting bring nie, is hy skuldig aan bloedvergieting. So ’n persoon het bloed vergiet en moet uit die gemeenskap verwyder word.

5. Hierdie reëling sal ’n einde maak aan die Israeliete se gebruik om diere in die oop veld te offer. Dan sal hulle die offers na die priester by die ingang van die tent van ontmoeting toe neem sodat die priester dit as ’n maaltydoffer vir die Here kan bring.

6. Die priester moet dan die bloed teen die altaar sprinkel en die vet op die altaar van die Here by die ingang van die tent van ontmoeting brand. Dit sal vir die Here aangenaam wees.

7. Die volk mag nie langer ontrou aan die Here wees deur offers aan bose geeste in die oop veld te bring nie. Dit is ’n permanente vaste reël wat vir geslag na geslag nagekom moet word.

8. “Gee ook aan hulle hierdie bevel wat sal geld vir sowel die Israeliete as vir die vreemdelinge onder julle: As jy ’n brandoffer of enige ander offer bring,

9. en jy bring dit nie na die ingang van die tent van ontmoeting as ’n offer vir die Here nie, sal jy uit die gemeenskap verwyder word.

10. “Ek sal teen enige Israeliet of vreemdeling wat onder julle woon, draai wat op enige manier bloed eet of drink. Ek sal so ’n persoon uit die gemeenskap verwyder,

11. want die lewe van enige dier is in sy bloed. Ek het vir julle die bloed gegee om daarmee versoening te doen vir julle sondes. Bloed verteenwoordig lewe en dit bring versoening.

12. Dit is waarom Ek vir die Israeliete gesê het: ‘Julle en die vreemdelinge wat tussen julle woon, mag nooit bloed eet of drink nie.’

13. “’n Israeliet of vreemdeling wat tussen julle woon wat gaan jag en ’n dier of voël doodmaak wat geëet mag word, moet dit eers laat uitbloei en die bloed met grond toemaak.

14. Die lewe van elke dier is in sy bloed. Dit is waarom Ek vir die Israeliete beveel het om nooit bloed te eet of te drink nie, want die lewe van enige voël of dier is in die bloed. Wie dus bloed eet of drink, moet verwyder word.

15. “Hierdie gebod is van toepassing op die Israeliete en op die vreemdelinge wat onder julle woon. As jy eet van die karkas van ’n dier wat gevrek het of deur wilde diere doodgemaak is, moet jy jou klere was en in water bad. Jy sal tot die aand toe onrein wees, maar daarna sal jy rein wees.

16. As jy nie jou klere was of jouself bad nie, word jy verantwoordelik gehou.”