hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Waardes wanneer losgekoop

word

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Gee die volgende instruksies vir die Israeliete: Wanneer jy met ’n spesiale gelofte iemand aan die Here gewy het en sy loskoopwaarde wil bepaal,

3. moet die volgende skaal van waardes gebruik word. ’n Man tussen twintig en 60 jaar is 50 stukke silwer werd,

4. ’n vrou van daardie selfde ouderdom is 30 stukke silwer werd.

5. Iemand tussen vyf en twintig jaar oud is twintig stukke silwer werd en ’n dogter van daardie selfde ouderdom is tien stukke silwer werd.

6. ’n Seun tussen die ouderdom van een maand en vyf jaar is vyf stukke silwer werd en ’n dogter van daardie ouderdom is drie stukke silwer werd.

7. ’n Man ouer as 60 is vyftien stukke silwer werd en ’n vrou ouer as 60 is tien stukke silwer werd.

8. As iemand so ’n gelofte gemaak, maar nie kan bekostig om die afkoopsom te betaal nie, moet hy die persoon saamvat na die priester toe. Hy sal dan die bedrag bepaal. Hy sal dan die bedrag wat die priester bepaal het, betaal.

9. “As jou gelofte gaan oor ’n rein dier, een wat aanvaarbaar is as ’n offer vir die Here, dan word dit die Here se eiendom.

10. Die dier mag nooit geruil of vervang word met ’n ander een nie, nie ’n goeie vir ’n slegte dier nie en ook nie ’n slegte vir ’n goeie dier nie. As so ’n ruil wel gemaak word, word beide die oorspronklike en die dier wat geruil is, albei die Here se eiendom.

11. As jou gelofte gaan oor ’n onrein dier, een wat nie aanvaarbaar is as ’n offer vir die Here nie, moet jy die dier na die priester toe bring.

12. Hy sal die waarde van die dier bepaal en sy beslissing is finaal.

13. As jy die dier wil loskoop, moet jy sy waarde soos deur die priester bepaal, plus twintig persent betaal.

14. “As jy ’n huis aan die Here wil wy, moet die priester kom om die waarde van die huis te bepaal. Die priester se beslissing sal finaal wees.

15. As jy die huis wil loskoop, moet jy die waarde soos bepaal deur die priester betaal plus twintig persent. Dan sal die huis weer aan jou behoort.

16. “As jy ’n stuk familiegrond aan die Here wil wy, word die waarde daarvan bepaal deur die hoeveelheid saad wat nodig is om dit te beplant. Vir elke 100 kilogram gars moet 50 stukke silwer gegee word.

17. As die grond aan die Here gewy word tydens die Jubeljaar, is die volledige loskoopwaarde van toepassing.

18. As die grond aan die Here gewy word in die jaar ná die Jubeljaar, moet die priester die waarde van die grond bepaal in verhouding tot die aantal jare tot die volgende Jubeljaar.

19. As jy besluit om die gewyde grond los te koop, moet jy die waarde van die grond soos bepaal deur die priester betaal, plus twintig persent.

20. As jy besluit om die grond nie los te koop nie, of die priesters het die grond reeds aan iemand anders verkoop, kan dit nie meer losgekoop word nie.

21. As die grond gedurende die Jubeljaar losgekoop is, is dit heilige grond wat spesiaal vir die Here afgesonder is. Dit word dan die eiendom van die priesters.

22. “As jy ’n stuk grond aan die Here wy wat nie deel is van jou familiegrond nie,

23. moet die priester die waarde daarvan bepaal op grond van die aantal jare tot die volgende Jubeljaar. Jy moet dan die waarde van die grond nog daardie dag betaal. Dit word die eiendom van die Here.

24. In die Jubeljaar sal die grond dan teruggaan na die oorspronklike eienaar toe van wie jy dit gekoop het.

25. “Al die waardebepalings moet gedoen word volgens die standaardgewig van die heiligdom.

26. “Julle mag nie die eersteling van ’n koei of skaap aan die Here wy nie omdat die eersteling al klaar aan die Here behoort.

27. As dit egter die eersteling van ’n onrein dier is, mag julle dit loskoop deur aan die priester die waarde daarvan te betaal, plus twintig persent. As julle dit nie loskoop nie, mag die priester dit verkoop aan iemand anders teen sy vasgestelde waarde.

28. Enigiets wat spesiaal afgesonder is aan die Here, of dit nou ’n persoon, ’n dier of ’n stuk grond is, mag nooit verkoop of losgekoop word nie. Enigiets wat op dié manier vir die Here afgesonder is, behoort aan Hom.

29. ’n Persoon wat spesiaal afgesonder is vir die Here om geban te word, mag nie losgekoop word nie. So ’n persoon moet doodgemaak word.

30. “’n Tiende van die opbrengs van die land, of dit graan of vrugte is, behoort aan die Here en moet vir Hom as heilig afgesonder word.

31. As jy die Here se tiende van die graan of vrugte wil loskoop, moet jy die waarde daarvan betaal, plus twintig persent.

32. Elke tiende dier van jou beeste en skape behoort aan die Here.

33. Daar mag nie vir die tiende dier onderskeid gemaak word tussen goeie of slegte diere nie. Hulle mag ook nie uitgeruil word nie. As hulle wel omgeruil word, sal albei diere as die Here se eiendom beskou word en kan hulle nie losgekoop word nie.”

34. Dit is die bevele wat die Here vir Moses op die Sinaiberg vir die Israeliete gegee het.