hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Heiligheid in persoonlike gedrag

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Sê vir die hele gemeenskap van Israel: Julle moet heilig wees, want Ek, die Here julle God, is heilig.

3. Elkeen van julle moet respek hê vir julle ma en pa. Julle moet ook my Sabbatdae van rus nakom, want Ek, die Here, is julle God.

4. Moenie op afgode vertrou of vir julleself gode van metaal maak nie. Ek, die Here, is julle God.

5. “Wanneer jy ’n maaltydoffer vir die Here offer, doen dit so dat dit van jou aanvaar sal word.

6. Jy moet dit eet op dieselfde dag waarop dit geoffer is, of op die laatste die volgende dag. Enigiets wat oorbly tot op die derde dag moet verbrand word.

7. As enige deel van die offer op die derde dag geëet word, is dit onrein en sal Ek dit nie aanvaar nie.

8. As jy dit eet op die derde dag, is jy verantwoordelik vir die sonde van verontreiniging van wat heilig vir die Here is en moet jy uit die gemeenskap verwyder word.

9. “Wanneer julle julle lande oes, moenie die graan tot teen die kante van die veld oes nie, en moet ook nie dit optel wat val nie.

10. Dieselfde geld vir die druiwe-oes. Moenie elke moontlike druiwetros afoes nie en moet ook nie druiwekorrels wat op die grond geval het, optel nie. Laat dit daar vir die armes en die vreemdelinge wat tussen julle woon, want Ek, die Here, is julle God.

11. “Moenie steel nie. Moenie mekaar kul nie. Moenie lieg nie.

12. “Moenie my Naam gebruik om vals te sweer en so die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die Here.

13. “Moenie iemand bedrieg of beroof nie. Betaal jou gehuurde werkers nog dieselfde dag.

14. “Wys jou eerbied vir God deur dowe mense met respek te behandel en moenie ’n blinde persoon laat struikel nie. Ek is die Here.

15. “Oordeel regverdig oor jou naaste. Moenie arm mense bevoordeel of ryk mense begunstig nie.

16. “Moenie skinderstories onder mense versprei nie. Moenie probeer om jouself te bevoordeel ten koste van jou buurman se lewe nie, want Ek is die Here.

17. “Moenie haat teen enigeen van jou familielede in jou hart vertroetel nie. Wees reguit en wys jou buurman op sy oortreding sodat jy nie ook skuldig is aan wat hy verkeerd doen nie.

18. “Moenie wraak soek of ’n grief teen iemand koester nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.

19. “Gehoorsaam al my gebooie. Moenie jou diere kruis met ander soorte diere nie. Moenie twee soorte saad op een land plant nie. Moenie klere dra wat van twee verskillende soorte materiaal gemaak is nie.

20. “Wanneer ’n man seksuele gemeenskap het met sy slavin wat reeds aan iemand anders belowe is, maar die koopsom is nog nie betaal nie, moet die man skadevergoeding betaal. Omdat sy egter nog nie vry was nie, hoef hulle nie doodgemaak te word nie.

21. Die man moet egter ’n ram as skuldoffer vir die Here bring by die ingang van die tent van ontmoeting.

22. Die priester sal dan versoening vir hom bring in die teenwoordigheid van die Here met die offerram as skuldoffer en die man sal vergewe word.

23. “Wanneer julle julle in die land gevestig het en vrugtebome plant, mag julle die vrugte daarvan vir drie jaar lank nie oes nie en is die vrugte verbode vir julle.

24. In die vierde jaar moet al die vrugte aan die Here gewy word as uitdrukking van dank en lof aan Hom.

25. In die vyfde jaar mag julle van die vrugte eet. Op hierdie manier sal die opbrengs van die bome meer word. Ek, die Here, is julle God.

26. “Moet nooit vleis eet wat nie uitgebloei is nie. Moenie julle ophou met waarsêery of towery nie.

27. “Moenie die heidense gebruik volg en die hare langs julle slape afsny of die kante van julle baarde knip nie.

28. “Moenie snye op julle liggame maak as rougebruik oor dooies nie. Moenie tatoeëermerke op julle vel maak nie, want Ek is die Here.

29. “Moenie jou dogter onrein maak deur van haar ’n prostituut te maak nie. Die land sal onsedelik word en vol van afskuwelike sondes.

30. “Gehoorsaam my Sabbatdae van rus en bewys eerbied vir my heiligdom, want Ek is die Here.

31. “Moenie op geeste en waarsêers vertrou nie, want hulle sal jou onrein maak. Ek, die Here, is julle God.

32. “Bewys jou eerbied vir God deur op te staan in die teenwoordigheid van oumense en bewys respek vir bejaardes. Ek is die Here.

33. “Moenie die vreemdelinge wat in jou land bly, uitbuit nie.

34. Hulle moet soos enigiemand anders behandel word en jy moet hulle liefhê soos jouself. Onthou dat julle ook vreemdelinge in Egipte was. Ek, die Here, is julle God.

35. “Moenie oneerlik wees wanneer julle meet of weeg of inhoud bepaal nie.

36. Julle skale en gewigte moet akkuraat wees. Julle houers waarmee julle droë goed of vloeistowwe meet, moet akkuraat wees. Ek, die Here, is julle God. Ek het julle uit Egipte gebring.

37. Julle moet al my gebooie en bepalings noukeurig gehoorsaam, want Ek is die Here.”