hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Verbode seksuele praktyke

1. Die Here het ook vir Moses gesê:

2. “Sê vir jou volk, die Israeliete: Ek is die Here julle God.

3. Moenie maak soos die Egiptenaars by wie julle gewoon het of soos die Kanaäniete na wie toe Ek julle neem nie. Moenie hulle manier van lewe navolg nie.

4. Gehoorsaam eerder al my voorskrifte en kom my bepalings noukeurig na, want Ek, die Here, is julle God.

5. As jy my voorskrifte en bepalings gehoorsaam, sal jy deur hulle die lewe vind. Ek is die Here.

6. “Jy mag nie met ’n naby familielid seksuele gemeenskap hê nie, want Ek is die Here.

7. Moenie jou pa oneer aandoen deur gemeenskap te hê met jou ma nie, want Ek is die Here. Sy is tog jou ma, jy mag nooit met haar seksuele gemeenskap hê nie.

8. Jy mag ook nie seksuele gemeenskap hê met enigeen van jou pa se ander vroue nie, want dit sal oneer vir hom beteken.

9. “Jy mag ook nie seksuele gemeenskap met jou suster of jou halfsuster hê nie, of sy nou jou pa se dogter of jou ma se dogter is en of sy aan dieselfde familie behoort nie.

10. “Jy mag nie seksuele gemeenskap met jou kleindogter hê nie, of sy nou jou seun se dogter of jou dogter se dogter is, dit sal vir jou oneer beteken.

11. “Jy mag nie seksuele gemeenskap hê met die dogter van enige van jou pa se vroue nie, want sy is jou halfsuster.

12. “Jy mag nie seksuele gemeenskap hê met jou tante, jou pa se suster, nie, want sy is ’n naby familielid van jou pa.

13. “Jy mag nie seksuele gemeenskap hê met jou tante, jou ma se suster, nie, want sy is ’n naby familielid van jou ma.

14. Moenie jou oom, jou pa se broer, oneer aandoen deur seksuele gemeenskap met sy vrou te hê nie, want sy is ook jou tante.

15. Jy mag nie seksuele gemeenskap hê met jou skoondogter nie, want sy is die vrou van jou seun.

16. Jy mag nie seksuele gemeenskap hê met jou broer se vrou nie, want dit sal oneer vir jou broer beteken.

17. “Jy mag nie seksuele gemeenskap hê met ’n vrou en ook haar dogter nie. Jy mag nie met ’n vrou en haar kleindogter trou nie, of dit nou haar seun se dogter of haar dogter se dogter is. Hulle is naby familie en om dit te doen sal ’n afskuwelike daad wees.

18. “Jy mag nie met jou vrou se suster trou terwyl sy nog lewe nie. Dit sal hulle mededingers maak. As jou vrou egter sterf, is dit in orde om met haar suster te trou.

19. “Moenie ’n vrou oneer aandoen deur seksuele gemeenskap met haar te hê terwyl sy menstrueer en dus onrein is nie.

20. “Moenie jouself onrein maak deur met jou buurman se vrou seksuele gemeenskap te hê nie.

21. “Moenie enigeen van jou kinders as ’n offer aan Molek gee en so die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die Here.

22. “Moenie by ’n man slaap soos wat ’n man saam met ’n vrou slaap nie. Dit is ’n afstootlike sonde.

23. “’n Man mag homself nie onrein maak deur geslagsgemeenskap met ’n dier te hê nie. ’n Vrou mag haar ook nie aanbied om met ’n manlike dier geslagsgemeenskap te hê nie. Dit is ’n verskriklike ding.

24. “Moenie julleself onrein maak op enige van hierdie maniere nie, want dit is hoe die mense wat ek uit die Beloofde Land verdryf, hulleself onrein gemaak het.

25. Die hele land is deur hulle verontreinig. Dit is waarom Ek die mense wat daar woon, straf. Binnekort sal die land hulle opgooi.

26. Julle moet al die reëls en regulasies noukeurig gehoorsaam en nie een van hierdie afskuwelike goed doen nie. Dit geld vir julle as gebore Israeliete en vir die vreemdelinge wat onder julle woon.

27. “Al hierdie afskuwelike dinge het die mense gedoen van die land waarheen Ek julle neem, en die land het onrein geword.

28. Moenie die land nou rede gee om julle ook uit te spoeg omdat julle dit ook verontreinig soos die mense wat nou daar leef, uitgespoeg gaan word nie.

29. “Wie ook al enigeen van hierdie afskuwelike goed doen, sal uit die gemeenskap van Israel verwyder word.

30. “Wees dus versigtig en gehoorsaam my gebooie en moenie een van hierdie afskuwelike dinge doen nie. Moenie jouself onrein maak deur hierdie goed te doen nie, want Ek, die Here, is julle God.”