hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die sonde-offer

1. Toe het die Here vir Moses gesê:

2. “Sê vir die Israeliete: Wanneer hulle onopsetlik sondig deur iets te doen wat die Here in sy gebooie verbied het, moet hulle soos volg optree.

3. “As die hoëpriester sondig en so die hele volk skuldig maak, moet hy ’n jong bul sonder liggaamsgebrek vir die Here bring.

4. Hy moet die bul vir die Here by die ingang van die tent van ontmoeting bring, dan moet hy sy hand op die kop van die bul lê en dit daar in die teenwoordigheid van die Here slag.

5. Die hoëpriester moet van die bloed van die bul in die tent van ontmoeting invat,

6. sy vinger in die bloed steek en dit sewe keer in die teenwoordigheid van die Here teen die gordyn van die Allerheiligste sprinkel.

7. Die priester sal dan van die bloed op die horings van die wierookaltaar in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting smeer. Die res van die bul se bloed moet teen die onderkant van die brandofferaltaar by die ingang van die tent van ontmoeting uitgegooi word.

8. Die priester moet vervolgens alle vet verwyder rondom die binnegoed van die bul,

9. die twee niere met die vet rondom en ’n deel van die lewer.

10. Dit moet hy op die brandofferaltaar verbrand, net soos wat met die bul of koei vir die maaltydoffer gedoen word.

11. Maar die res van die bul – sy vel, vleis, kop, pote, binnegoed en mis –

12. moet weggevat word na ’n afgesonderde plek buite die kamp, die plek waar die as gegooi word. Hy sal dit alles in ’n houtvuur op die ashoop verbrand.

13. “As die hele gemeenskap van Israel iets doen wat deur die Here verbied word en dit ontgaan die gemeenskap, is almal skuldig.

14. Wanneer hulle hulle sonde agterkom, moet die leiers van die gemeenskap ’n jong bul as ’n sonde-offer na die ingang van die tent van ontmoeting bring.

15. Die leiers moet dan hulle hande op die kop van die bul lê en dit daar in die teenwoordigheid van die Here slag.

16. Die hoëpriester sal van die bloed na die tent van ontmoeting toe neem,

17. sy vinger in die bloed steek en dit sewe keer in die teenwoordigheid van die Here teen die gordyn sprinkel.

18. Hy sal van die bloed op die horings van die wierookaltaar in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting smeer. Die res van die bloed moet teen die onderkant van die brandofferaltaar by die ingang van die tent van ontmoeting uitgegooi word.

19. Die priester moet al die vet van die dier uitsny en dit op die altaar verbrand,

20. soos met die sonde-offer vir die priester gedoen word. Op dié manier sal die priester versoening doen vir die volk en hulle sal vergewe word.

21. Die priester moet dan dit wat van die bul oor is na die buitekant van die kamp toe vat en dit daar verbrand, net soos gedoen word met die sonde-offer van die hoëpriester. Dit is die sonde-offer vir die hele gemeenskap van Israel.

22. “As een van Israel se leiers iets doen wat deur die Here sy God verbied word, is hy skuldig selfs al het hy dit onopsetlik gedoen.

23. Sodra hy bewus word van sy sonde, moet hy ’n bokram sonder liggaamsgebrek as offer bring.

24. Hy moet sy hand op die bok se kop lê en dit in die teenwoordigheid van die Here slag by die plek waar brandoffers geslag word. Dit is sy sonde-offer.

25. Die priester sal dan sy vinger in die bloed van die sonde-offer steek, dit aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res teen die onderkant van die altaar uitgooi.

26. Hy moet al die vet van die bok op die altaar verbrand, net soos wat met die maaltydoffer gemaak word. Op dié manier sal die priester vir die sonde van die leier versoening doen en sal hy vergewe word.

27. “As enige burger van Israel iets doen wat deur die Here verbied word, is hy skuldig selfs al sondig hy onopsetlik.

28. As hulle bewus word van hulle sonde, moet hulle ’n bokooi sonder gebrek as ’n offer bring. Die bok sal dan vir hulle sonde geoffer word.

29. Hulle moet hulle hand op die kop van die sonde-offer lê en dit slag op die plek waar die brandoffer geslag word.

30. Die priester sal dan sy vinger in die bloed steek en dit aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res van die bloed teen die onderkant van die altaar uitgooi.

31. Hy sal die vet van die bok verwyder, net soos wat met die maaltydoffer gemaak word. Dan sal hy die vet op die altaar verbrand en dit sal vir die Here aangenaam wees. So sal die priester vir hulle versoening doen en hulle sal vergewe word.

32. “As enigeen van die volk ’n skaap as ’n sonde-offer bring, moet dit ’n skaapooi sonder liggaamsgebrek wees.

33. Hy moet sy hand op die kop van die sonde-offer lê en dit slag op die plek waar die brandoffers geslag word.

34. Die priester sal dan sy vinger in die bloed steek en dit aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res van die bloed teen die onderkant van die altaar uitgooi.

35. Dan word al die vet van die skaap verwyder, net soos wat met die maaltydoffer gedoen word. Die priester verbrand die vet op die altaar bo-op die vuuroffers vir die Here. Op dié manier sal die priester versoening doen vir hulle en hulle sal vergewe word.”