hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die teken van die kokende pot

1. Op 15 Januarie, in die negende jaar van koning Jojagin se ballingskap, het die Here vir my gesê:

2. “Mensekind, skryf vandag se datum op, want vandag het die koning van Babilon met sy aanval op Jerusalem begin.

3. Gee dan ’n gelykenis vir hierdie opstandelinge. Gaan sê vir hulle wat die oppermagtige Here sê:“Sit ’n pot water op die vuur om te kook.

4. Maak dit vol met die beste vleis, die boud en blad en die beste van die bene.

5. Gebruik net die beste skaapuit jou kudde en pak hout op die vuur onder die pot. Laat die pot kook, kook die bene saam met die vleis.

6. “Die oppermagtige Here sê: Rampe wag verseker vir Jerusalem, die stad vol moordenaars! Sy is ’n pot vol korrupsie. Vat dan die vleis stuk vir stuk, sonder om uit te soek.

7. Haar boosheid is vir almal duidelik. Sy maak sommer net dood en los die bloed op die rotse sodat almal dit kan sien. Sy probeer dit nie eens toesmeer nie.

8. Daarom sal Ek haar bloed op die rotse laat spat om te wys hoe kwaad Ek vir haar is. Niemand sal dit probeer toesmeer nie.

9. “Die oppermagtige Here sê: Rampe wag verseker vir Jerusalem,die stad vol moordenaars! Ek sal self hout op die vuur onder haar pak.

10. Ja, pak die vuur aan! Laat die vuur dreun tot die water kook. Kook die vleis goed, met baie speserye. Verbrand dan die bene.

11. Sit die leë pot op die kole en maak dit rooiwarm sodat die vuilheid en roes kan afbrand.

12. Maar dis hopeloos! Die roes wil nie van die pot afbrand nie. Daarom, gooi dit in die vuur!

13. “Die vuilheid is jou afskuwelike dade. Ek het jou probeer skoonmaak, maar jy het geweier. Daarom sal jy vuil bly tot my wraak teen jou afgekoel is.

14. Ek, die Here, het so gesê! Die tyd het gekom en niks kan dit terughou nie. Ek verander nie van gedagte nie. Ek sal jou nie weer jammer kry nie. Jy sal geoordeel word op grond van jou afskuwelike dade, sê die oppermagtige Here.”

Die dood van Esegiël se vrou

15. Toe het die Here vir my gesê:

16. “Mensekind, Ek gaan jou vrou, jou kosbaarste skat, van jou wegneem. Sy sal skielik doodgaan. Maar jy mag op geen manier wys dat jy hartseer is nie. Moenie huil nie. Jy mag nie ’n traan stort nie.

17. Jy mag sug, maar net saggies by jouself. Jy mag ook nie by haar graf huil nie. Moenie doen wat mense doen en eet wat hulle eet as hulle oor die dood van ’n geliefde rou nie.”

18. Ek het dit die volgende môre vir die mense gesê. Daardie aand het my vrou gesterf. Die volgende oggend het ek alles gedoen wat ek beveel is.

19. Die mense het my gevra: “Wat beteken dit alles? Wat probeer jy vir ons sê?”

20. Ek het toe gesê: “Die Here het vir my gesê

21. dat ek dié boodskap vir die mense van Israel moet gee. Dit is wat die oppermagtige Here sê: Ek gaan julle tempel, julle trots, julle vreugde en die blydskap van julle harte, ontheilig. Julle seuns en dogters wat in Judea oorbly, sal in die oorlog omkom.

22. Daardie dag sal julle soos Esegiël maak. Julle sal nie in die openbaar huil nie en julleself nie troos deur die kos te eet wat julle vriende bring nie.

23. Julle sal nie rouklere aantrek nie. En julle sal nie huil en treur nie. Nee, julle sal vergaan onder die straf vir julle sondes. Julle sal stilweg huil oor die bose dinge wat julle aangevang het.

24. Ja, Esegiël is die voorbeeld wat julle moet volg. Julle sal doen wat hy gedoen het. Wanneer dit gebeur, sal julle erken dat Ek die oppermagtige Here is.”

25. Die Here sê toe ook nog vir my: “Mensekind, die dag as Ek hulle vesting wegvat, hulle vreugde en glorie, hulle harte se begeerte en hulle kosbaarste besitting, sal Ek ook hulle seuns en dogters wegvat.

26. Op daardie dag sal iemand wat uit Jerusalem gevlug het, die nuus vir jou bring.

27. En as hy hier aankom, sal jy jou stem skielik terugkry sodat jy met hom sal kan praat. Jy sal ’n teken vir hierdie mense wees. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”