hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die sondes van Jerusalem

1. Die Here het vir my gesê:

2. “Mensekind, is jy gereed om Jerusalem te oordeel? Is jy gereed om die stad vol moordenaars te oordeel? Konfronteer die stad dan met sy verskriklike dade.

3. Sê vir hom die oppermagtige Here sê: Stad van moordenaars, jy het die oordeel oor jouself gebring. Stad vol afgode, jy het jouself besoedel.

4. Jy is skuldig aan moord en afgodsdiens. Jou dag van vernietiging het aangebreek! Jy het aan die einde van jou lewe gekom. Ek maak jou iets waarmee mense oor die hele wêreld sal spot.

5. Mense van naby en van ver sal met jou die spot dryf, stad vol onreinheid en verwarring.

6. “Elke leier in Israel wat in jou bly, is daarop uit om moord te pleeg.

7. Julle behandel julle pa’s en ma’s met minagting. Julle verdruk vreemdelinge wat tussen julle woon. Julle mishandel en onderdruk weeskinders en weduwees.

8. Julle sien neer op heilige dinge. Julle minag my Sabbatdae.

9. Mense kla mekaar valslik aan en sorg dat hulle onskuldig doodgemaak word. Jy is vol afgodsdienaars en mense wat afskuwelike dade pleeg.

10. Mans slaap saam met hulle pa’s se vroue en vroue wat menstrueer.

11. In jou bly daar mans wat met getroude vroue egbreuk pleeg, ander wat saam met hulle skoondogters slaap of hulle eie halfsusters verkrag.

12. Daar is mense wat hulleself uithuur om moord te pleeg, hulle vat rente en woekerwins, hulle pleeg bedrog en loop mense in. Hulle dink nie eers aan My en steur hulle nie aan my wil nie, sê die oppermagtige Here.

13. “Nou slaan Ek my hande saam oor die oneerlike wins wat jy maak en die moorde wat jy pleeg.

14. Hoe selfversekerd sal jy in die dag van afrekening wees? Ek, die Here, vra jou. Ek gaan doen wat Ek gesê het:

15. Ek verstrooi jou tussen die nasies, oor die hele wêreld. Ek maak jou skoon van al jou boosheid.

16. En wanneer julle tussen die nasies onrein geword het, sal julle weet dat Ek die Here is.”

Die Here is ’n smeltoond

17. Toe het die Here vir my gesê:

18. “Mensekind, die mense van Israel is waardelose metaalskuim wat agterbly ná die silwer gesmelt is. Hulle is die onsuiwerheid wat agterbly, ’n nuttelose mengsel van koper, tin, yster en lood.

19. Daarom moet jy vir hulle sê die oppermagtige Here sê: Omdat jy waardelose metaalskuim is, bring Ek jou na die smeltoond in Jerusalem.

20. Daar sal Ek jou smelt in die hitte van my woede, nes koper, tin, yster en lood in die smeltoond gesmelt word.

21. Ek sal jou bymekaarmaak in die vuur van my woede. En jy sal gesmelt word.

22. Jy sal soos silwer smelt in hoë hitte. Dan sal jy erken dat dit Ek, die Here, is wat my wraak oor jou uitgegiet het.”

Die sondes van Israel se leiers

23. Die Here het nog ’n keer met my gepraat:

24. “Mensekind, sê vir die mense van Israel Ek sê: In die dag wat my toorn oor julle losbreek, sal julle soos ’n woestyn word waar geen reën val nie.

25. Jou leiers smee komplotte in jou, nes leeus wat hulle prooi bekruip. Hulle vreet onskuldige mense op en vat hulle skatte en rykdom vir hulleself. Hulle maak baie vroue weduwees.

26. Jou priesters steur hulle nie aan my wette nie. Hulle onteer dinge wat vir My heilig is, en maak nie ’n onderskeid tussen wat heilig en onheilig is nie. Hulle leer ook nie die mense wat die verskil tussen rein en onrein is nie. Hulle steur hulle nie aan my Sabbatdae nie. Mense minag My deur wat hulle doen.

27. Jou leiers is nes wolwe wat hulle slagoffers uitmekaarskeur. Hulle vernietig mense se lewens vir wins!

28. En jou profete maak gekraakte mure reg deur kalk daaroor te smeer. Hulle kondig gesigte aan wat hulle nie gesien het nie, en bring vals boodskappe. Hulle sê: ‘So sê die oppermagtige Here,’ terwyl die Here nie ’n enkele woord met hulle gepraat het nie!

29. Selfs gewone mense verdruk die armes, besteel behoeftiges en verdruk vreemdelinge sonder om die reg in ag te neem.

30. “Ek het gesoek na iemand wat die muur wat die land beskerm, kon herbou, na iemand wat voor My in die gaping in die muur kon staan sodat Ek nie die land hoef te vernietig nie, maar Ek het niemand gekry nie.

31. Daarom gaan Ek nou my wraak oor hulle uitgiet en hulle in die vuur van my woede verbrand. Hulle kry wat hulle verdien het, sê die oppermagtige Here.”