hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Oordeel oor die vals profete

1. Die Here het vir my gesê:

2. “Mensekind, profeteer teen die vals profete van Israel wat almal hulle eie profesieë uitdink. Sê vir hulle dat hulle na die Here moet luister.

3. So sê die oppermagtige Here: Verwoesting wag vir die vals profete wat geen visioene gesien het nie, maar wat praat volgens hulle verbeelding!

4. “Mense van Israel, hierdie profete van julle is soos jakkalse wat in die puinhope rondgrawe.

5. Hulle het niks gedoen om die gapings in die muur te help opbou nie. En hulle het nie ’n muur om Israel gebou sodat hy regop kan staan in die oorlog wanneer die Dag van die Here aanbreek nie.

6. Hulle het visioene gesien wat nie waar is nie. Hulle voorspellings is leuens. Hulle sê: ‘Die Here sê so en so,’ al het Hy hulle nie gestuur nie. En dan verwag hulle dat Hy moet laat gebeur wat hulle voorspel het!

7. Is jou visioene nie vals en jou voorspellings nie leuens as jy sê: ‘Hierdie boodskap is van die Here!’, as Ek nie eens met jou gepraat het nie?

8. “Daarom sê die oppermagtige Here: Ek word jou vyand omdat jy leuens verkondig en jou visioene vals is. So sê die oppermagtige Here:

9. Ek lig my vuis teen elke profeet wat lieg, en hulle sal verban word uit die gemeenskap van Israel. Ek krap hulle name uit Israel se annale. Hulle sal nooit weer hulle eie land sien nie. Dan sal hulle agterkom dat Ek die oppermagtige Here is!

10. “Hierdie bose profete mislei my volk as hulle sê: ‘Daar is rus en kalmte!’ terwyl daar geen vrede is nie! Dit is asof mense vir hulleself ’n dun muur bou, en nou probeer hierdie profete dit sterker maak deur dit met kalk af te wit.

11. Sê vir die mense wat die muur afgewit het dat hulle muur binnekort gaan omval. ’n Groot reënstorm met baie haelstene en sterk winde sal die muur omgooi.

12. En wanneer die muur val, sal mense uitroep: ‘Waar is die kalk waarmee julle dit afgewit het nou?’

13. “Daarom sê die oppermagtige Here: Ek sal jou witgewaste muur wegvoer in ’n storm van verontwaardiging, met ’n vloed van woede en haelstene van toorn.

14. Julle muur wat julle ewe netjies afgewit het, breek Ek af tot op die fondasie. En wanneer dit inmekaarstort, sal dit julle verpletter. Dan sal julle erken dat Ek die Here is.

15. Eers dan sal my woede teen die muur en die mense wat dit afgewit het, afgekoel wees. Dan sal Ek vir julle sê: Die muur én die mense wat dit afgewit het, is daarmee heen.

16. Hulle is die profete wat oor Jerusalem geprofeteer het en vertel het hoe goed dit sal gaan, terwyl daar geen vrede was nie, sê die oppermagtige Here.”

Oordeel teen vals vroueprofete

17. “Mensekind, waarsku ook teen die vroue wat net profeteer wat in hulle verbeelding opkom. Profeteer oor hulle.

18. Sê vir hulle: So sê die oppermagtige Here: Verwoesting wag vir die mense wat toorbande om mense se gewrigte vasmaak en vir jonk en oud sluiers laat dra in ’n poging om mense in hulle mag te kry. Kan julle my volk in ’n lokval lei sonder om julleself te vernietig?

19. Julle laat my volk van My af wegdraai vir ’n paar hande vol gars of vir ’n stukkie brood. So het julle dié doodgemaak wat nie moes doodgaan nie. En julle het lewe belowe aan dié wat nie moes lewe nie. Julle het gelieg vir my volk wat baie graag na leuens luister.

20. “So sê die oppermagtige Here: Ek is teen julle toorbande omdat julle dit gebruik om mense soos voëls te vang. Ek ruk dit van julle arms af. Dan maak Ek my volk, wat julle soos voëls gevang het, vry.

21. Ek sal ook die sluiers afruk en my volk uit julle mag red. Hulle sal nie meer julle slagoffers wees nie. Dan sal julle erken dat Ek die Here is.

22. Julle het regverdige mense met julle leuens moedeloos gemaak. Ek wou nie hê dat hulle ly nie. En julle het die goddeloses aangemoedig om nie met hulle sondige dade te breek en so hulle lewe te red nie.

23. Daarom sal julle nie langer praat oor visioene wat julle kamtig sien terwyl dit nie so is nie. En julle sal ook nie verder voorspellings waag nie, want Ek sal my volk uit julle mag red. Dan sal julle weet dat Ek die Here is.”