hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 41 Afrikaans 1983 (AFR83)

Josef lê die farao se drome uit

1. Twee jaar later het die farao 'n droom gehad. Hy het gedroom hy staan langs die Nyl.

2. Uit die rivier kom daar toe sewe mooi vet koeie uit en hulle gaan wei in die vleigras.

3. Ná hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer en het langs die ander koeie op die rivierwal gaan staan.

4. Toe vreet die lelike maer koeie die sewe mooi vettes op.Daarna het die farao wakker geskrik.

5. Hy het weer aan die slaap geraak en weer gedroom. Hy het gesien hoe sewe mooi vol are opskiet aan een stingel.

6. Ná hulle kom daar toe sewe skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind.

7. Die skraal are sluk toe die sewe vol vet are in. Daarna het die farao wakker geskrik, en hy het besef hy het gedroom.

8. Die môre was die farao onrustig oor die drome. Hy het al die waarsêers van Egipte en ook die raadgewers almal laat roep en vir hulle sy droom vertel. Maar niemand kon dit vir hom uitlê nie.

9. Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Vandag moet ek u herinner aan die verkeerde ding wat ek vroeër gedoen het.

10. U het toe kwaad geword vir u dienaars, vir my en vir die hoof van die bakkers, en u het ons laat opsluit in die tronk in die huis van die hoof van u lyfwag.

11. “Daar het ons in een en dieselfde nag 'n droom gehad, elkeen sy eie droom met sy eie uitleg.

12. Saam met ons was 'n Hebreeuse jongman, 'n slaaf van die hoof van die lyfwag. Ons het toe ons drome vir hom vertel, en hy het dit vir ons uitgelê. Hy het dit uitgelê volgens elkeen se droom.

13. Soos hy dit vir ons uitgelê het, het dit daarna gebeur: vir my het hy in my amp laat herstel en die bakker het hy laat ophang.”

14. Toe het die farao vir Josef laat roep en hulle het hom gou uit die tronk gehaal. Nadat hulle hom geskeer en ander klere aangetrek het, is hy na die farao toe.

15. Die farao het vir Josef gesê: “Ek het 'n droom gehad, maar daar is niemand wat dit kan uitlê nie. Toe het ek van jou gehoor: jy lê 'n droom uit as jy hom hoor.”

16. Josef het vir die farao gesê: “Nie ek nie! God gee dié goeie antwoord vir u.”

17. Toe sê die farao vir Josef: “In my droom het ek op die wal van die Nyl gestaan.

18. Toe kom daar sewe mooi vet koeie uit die rivier uit en hulle gaan wei in die vleigras.

19. Ná hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer. Ek het nog nooit sulke lelike diere in Egipte gesien nie.

20. Toe vreet die lelike maer koeie die eerste sewe, die vettes, op.

21. Nadat hulle ingesluk was, kon jy dit nie aan die maeres merk nie: hulle het nog net so sleg gelyk as aan die begin.“Toe het ek wakker geskrik.

22. “Ek het daarna in 'n droom gesien: sewe mooi vol are het opgeskiet aan een stingel.

23. Ná hulle kom daar toe sewe droë, skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind.

24. Die skraal are sluk toe die sewe mooi are in.“Ek het dit vir die waarsêers vertel, maar niemand kon my iets sê nie.”

25. Toe sê Josef vir die farao: “U het maar net een droom gehad. Wat God wil doen, het Hy aan u meegedeel.

26. “Die sewe mooi koeie is sewe jaar en die sewe mooi are is sewe jaar. Dit is maar een en dieselfde droom.

27. Die sewe maer, lelike koeie wat daarna uit die rivier gekom het, en die sewe skraal are wat deur die oostewind verskroei is, is ook sewe jaar, sewe jaar hongersnood.

28. “Dit is wat ek bedoel het toe ek vir u gesê het dat God u laat sien het wat Hy wil doen.

29. “Daar sal in die hele Egipte sewe jaar groot oorvloed kom.

30. Dan breek daar sewe jaar hongersnood aan. Die mense sal die voorspoed wat daar in die hele Egipte was, vergeet en die hongersnood sal die land op sy knieë bring.

31. Die hongersnood sal so straf wees dat 'n mens later niks meer van die oorvloed sal merk nie.

32. “Die droom het twee keer na u toe gekom omdat die saak vas staan by God. Hy sal dit binnekort uitvoer.

33. “Ek beveel aan dat u 'n verstandige en wyse man kies en hom in beheer plaas van die hele Egipte.

34. Die farao moet dít doen: u moet beamptes vir die hele land aanstel en die land tydens die sewe jaar van oorvloed behoorlik organiseer.

35. Hulle moet al die graan van die goeie jare wat aan die kom is, insamel en dit in graanskure bêre en bewaak sodat daar kos tot u beskikking is.

36. Die graan moet vir die land in reserwe gehou word, dit moet vir die sewe jaar van hongersnood beskikbaar wees in Egipte. Dan sal die hongersnood nie die land uitroei nie.”

37. Die farao en al sy amptenare het Josef se raad goedgevind.

38. Toe sê die farao vir sy amptenare: “Waar kry ons so iemand, 'n man met die verstand van 'n god?”

39. Die farao het daarop vir Josef gesê: “God het jou dit alles bekend gemaak. Daaruit is dit duidelik dat niemand soveel verstand en wysheid as jy het nie.

40. Ek stel jou aan oor my paleis.“My volk moet jou gehoorsaam. Net ek sal meer mag hê as jy.”

41. Die farao het verder nog vir Josef gesê: “Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipte.”

42. Toe haal die farao sy seëlring af en steek dit aan Josef se vinger. Die farao het vir Josef linneklere laat aantrek en 'n goue ketting om sy nek gehang

43. en hom laat ry op die tweede beste wa van die farao. Daar is voor Josef uitgeroep: “Betoon hom eer!”So is Josef oor die hele Egipte aangestel.

44. Toe het die farao vir Josef gesê: “Ek bly die farao, maar sonder jou toestemming mag niemand in Egipte 'n vinger verroer of 'n voet versit nie.”

45-46. Die farao het Josef Safenat-Paneag genoem en vir hom Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, as vrou gegee. Josef was dertig jaar oud toe hy in die diens van die farao die koning van Egipte getree het. Josef is van die farao af weg en het die land deurgegaan, die hele Egipte.

47. Tydens die sewe jaar van oorvloed het die land 'n buitengewone groot oes gegee,

48. en Josef het al die graan wat daar in hierdie jare in Egipte was, bymekaargebring en in graanskure gebêre: in elke stad is die graan uit die lande van daardie omgewing gebêre.

49. Josef het so baie koring bymekaargemaak dat dit net soveel was as die sand van die see. Hy het later opgehou om aan te teken hoeveel daar was, want dit was te veel om te tel.

50. Reeds voor die jare van hongersnood begin het, is daar vir Josef twee seuns gebore. Sy vrou Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, het hulle vir Josef in die wêreld gebring.

51. Hy het die oudste Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.”

52. Josef het sy ander seun Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.”

53. Na die sewe jaar voorspoed in Egipte

54. het die sewe jaar hongersnood begin. So het Josef dit destyds aangekondig. In al die lande was daar hongersnood, maar in die hele Egipte was daar kos,

55. want toe die hongersnood Egipte tref en die mense vir die farao kos vra, het hy vir al die Egiptenaars gesê: “Gaan na Josef toe en doen wat hy sê.”

56. Oor die hele wêreld was daar hongersnood, en toe dit straf word in Egipte, het Josef die graanskure oopgesluit en wat daarin was, aan die Egiptenaars begin verkoop.

57. En toe die hongersnood straf word in die ander lande, het die mense van die hele wêreld Egipte toe gekom om koring te koop by Josef.