hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 29 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jakob werk vir Laban

1. Jakob het sy reis voortgesit na die land van die mense in die ooste toe.

2. Hy het onverwags uitgekom by 'n put in die veld waar drie troppe kleinvee lê. Die wagters het die kleinvee by hierdie put laat suip. Daar was 'n groot klip op die bek van die put,

3. en wanneer al die veetroppe daar bymekaar is, rol die wagters die klip weg en dan gee hulle vir die vee water. Daarna sit hulle weer die klip terug op sy plek op die bek van die put.

4. Jakob het hulle gevra: “Van waar is julle, my vriende?” Hulle het geantwoord: “Ons is van Haran.”

5. Toe vra hy vir hulle: “Ken julle vir Laban uit die geslag van Nahor?” en hulle antwoord: “Ons ken hom.”

6. Hy vra hulle toe: “Hoe gaan dit met hom?” en hulle antwoord: “Goed, hier kom sy dogter Ragel nou net aan met die kleinvee.”

7. Toe sê Jakob: “Die son sit nog hoog en dis nog nie tyd om die kleinvee in die kraal te jaag nie. Laat hulle suip en vat hulle om te wei.”

8. Maar die wagters antwoord: “Ons kan hulle nie laat suip voor al die troppe hier bymekaar is nie. Dan word die klip van die bek van die put afgerol en laat ons die vee suip.”

9. Terwyl hy nog met hulle staan en praat, kom Ragel daar aan met haar pa se kleinvee. Sy het hulle opgepas.

10. Toe Jakob vir Ragel, die dogter van sy ma se broer Laban, sien met haar pa se kleinvee, het Jakob nader gekom en die klip van die put af weggerol en Laban se kleinvee laat suip.

11. Daarna het Jakob vir Ragel gesoen en toe het hy begin huil.

12. Nadat hy vir haar gesê het hy is familie, Rebekka se seun, het sy gehardloop en dit vir haar pa gaan vertel.

13. Toe hy hoor dat Jakob sy susterskind is, het hy na hom toe gehardloop, hom omhels en gesoen. Laban het hom na sy huis toe gevat, en toe vertel Jakob hom alles.

14. Laban het geantwoord: “Dis reg. Jy is bloedfamilie!”Nadat Jakob 'n maand lank by hom gebly het,

15. het Laban vir Jakob gesê: “Jy is familie, maar dit beteken nie dat jy vir my verniet moet werk nie. Sê vir my wat moet ek jou betaal.”

16. Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel.

17. Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon.

18. Jakob het haar liefgehad en hy het vir Laban gesê: “Ek sal sewe jaar vir u werk vir u jongste dogter Ragel.”

19. Toe sê Laban: “Goed! Ek sal haar liewer met jou laat trou as met enige ander man. Bly hier by my.”

20. Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel, en dit was vir hom soos 'n paar dae, want hy het haar liefgehad.

21. Daarna het hy vir Laban gesê: “Gee my nou my vrou. Die tyd is verby. Ek wil nou met haar trou.”

22. Laban het al die mense van die omgewing bruilof toe genooi,

23. maar die aand van die troue het hy sy dogter Lea gevat en haar na Jakob toe gebring, en hy het met haar gemeenskap gehad.

24. Laban het sy slavin Silpa vir sy dogter Lea as persoonlike slavin saamgegee.

25. Die môre sien Jakob toe dis al die tyd Lea. Toe vra hy vir Laban: “Wat het u my aangedoen? Het ek nie by u gewerk vir Ragel nie? Waarom het u my bedrieg?”

26. Laban het geantwoord: “By ons is dit nie die gebruik dat 'n mens jou jongste dogter voor die oudste laat trou nie.

27. Wag net hierdie week, dan gee ek die jongste ook vir jou as jy nog sewe jaar by my sal werk.”

28. Jakob het ingestem en daardie week gewag. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir hom as vrou.

29. Laban het sy slavin Bilha vir sy dogter Ragel as persoonlike slavin saamgegee.

30. Jakob het ook met Ragel gemeenskap gehad. Hy het vir Ragel baie liewer gehad as vir Lea en nog sewe jaar by Laban gewerk.

Jakob se kinders

31. Toe die Here sien dat Jakob nie vir Lea liefhet nie, het die Here vir haar kinders gegee, terwyl Ragel kinderloos gebly het.

32. Lea het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring en hom Ruben genoem, “want,” het sy gesê, “die Here het my smart raakgesien. Nou sal my man my liefhê.”

33. Lea het weer swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring en sy het gesê: “Die Here het gehoor dat ek nie liefde ontvang nie. Daarom het Hy my hierdie seun gegee.” Sy het hom Simeon genoem.

34. Sy het weer swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Toe sê sy: “Na hierdie keer sal my man aan my gebind wees, want ek het nou al drie seuns vir hom in die wêreld gebring.” Daarom het sy die seun Levi genoem.

35. Sy het nog 'n keer swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Sy het gesê: “Hierdie keer prys ek die Here.” Daarom het sy die seun Juda genoem.Daarna het sy vir eers nie weer kinders gehad nie.