hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Rebekka word Isak se vrou

1. Abraham was al baie oud, en die Here het hom in alles geseën.

2. Abraham het vir sy slaaf gesê, vir die vernaamste in sy huis, die een wat in beheer was van sy besittings: “Sit jou hand onder my heup

3. dat jy vir my met 'n eed in die Naam van die Here die God van die hemel en die aarde kan beloof dat jy nie my seun sal laat trou met 'n dogter van die Kanaäniete by wie ek nou woon nie;

4. jy moet na my land toe gaan, die land waar ek gebore is, en daar 'n vrou gaan haal vir my seun Isak.”

5. Die slaaf het vir Abraham gevra: “En as die vrou nie saam met my hierheen wil kom nie? Moet ek dan u seun laat teruggaan na die land toe waar u vandaan kom?”

6. Toe sê Abraham vir hom: “Sorg dat jy nie my seun daarnatoe laat teruggaan nie.

7. Die Here die God van die hemel het my weggevat uit my familie, uit die wêreld waar ek gebore is, en my met 'n eed beloof: ‘Ek gee hierdie land waar jy nou is, aan jou nageslag.’ Die Here sal sy engel voor jou uit stuur sodat jy vir my seun 'n vrou van my land af sal kan bring.

8. As die vrou nie saam met jou hierheen wil kom nie, is jy vrygestel van hierdie verpligting. Maar jy mag nie my seun laat teruggaan nie.”

9. Toe het die slaaf sy hand onder die heup van Abraham, sy eienaar, gesit en vir hom met 'n eed beloof om dit alles te doen.

10. Die slaaf het tien van sy eienaar se kamele gevat en ook allerlei mooi geskenke en vertrek na Mesopotamië toe, na die stad toe waar Nahor gewoon het.

11. Daar het hy die kamele by 'n fontein buite die stad laat kniel. Dit was laat middag, teen die tyd dat die vrouens uitkom om water te skep.

12. Hy het gebid: “Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat daar vandag iets met my gebeur; betoon tog u trou aan my eienaar Abraham.

13. Hier staan ek by die fontein waar die jongmeisies van die stad sal kom water skep.

14. As ek vir 'n meisie vra: ‘Hou tog jou waterkruik dat ek kan drink,’ en sy antwoord: ‘Drink gerus, en ek sal jou kamele ook water gee,’ dan is dit sy wat deur U gekies is vir u dienaar, vir Isak, en dan sal ek weet dat U trou betoon aan my eienaar.”

15. Voor hy nog klaar gebid het, kom Rebekka met die waterkruik op haar skouer daar aan. Sy was die dogter van Betuel, seun van Milka die vrou van Nahor, Abraham se broer.

16. Die meisie was baie mooi, 'n jongmeisie met wie 'n man nog nie gemeenskap gehad het nie. Sy het afgegaan tot by die fontein en haar kruik vol gemaak en teruggeklim.

17. Toe hardloop die slaaf haar tegemoet en sê vir haar: “Laat my tog 'n bietjie water uit jou kruik drink.”

18. En sy sê: “Drink gerus, Meneer!”Sy laat toe gou haar kruik rus op haar hand, en laat hom water drink.

19. Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek sal vir die kamele ook gaan water skep dat hulle genoeg kan drink.”

20. Sy het gou haar kruik in die krip leeg gemaak en toe fontein toe gehardloop om nog water te skep. Sy het vir al die kamele geskep.

21. Die man het haar in stilte aangekyk om vas te stel of die Here hom in sy onderneming laat slaag het of nie.

22. Toe die kamele klaar gedrink het, sit hy 'n goue ring van ses gram aan haar neus en twee goue armbande van honderd en vyftien gram aan haar arms,

23. en hy vra: “Wie se dogter is jy? Sê my tog, is daar in jou pa se huis plek vir ons om te oornag?”

24. Sy het hom geantwoord: “Ek is die dogter van Betuel, die seun wat deur Milka vir Nahor in die wêreld gebring is.”

25. Verder het sy gesê: “Ons het baie strooi en kameelvoer, en daar is plek om te oornag.”

26. Toe het die man gekniel en tot die Here gebid:

27. “Aan die Here die God van Abraham wie se slaaf ek is, kom die lof toe! Die Here het nie sy troue liefde van my eienaar weerhou nie en vir my het die Here reguit gelei na die huis van my eienaar se broer toe.”

28. Die meisie het na haar ma se huis toe gehardloop en alles gaan vertel.

29-30. Rebekka het 'n broer gehad met die naam Laban. Toe hy die neusring sien en die armbande aan sy suster se arms en haar hoor vertel wat die man alles vir haar gesê het, het hy na die man toe gehardloop by die fontein buite die stad. Toe hy by hom kom, het die man nog by die kamele gestaan, langs die fontein.

31. Laban het vir hom gesê: “Kom saam! Jy is 'n man wat deur die Here geseën is. Waarom bly jy hier buite staan? Ek het vir jou plek reggemaak in my huis, en daar is ook plek vir die kamele.”

32. Die man is toe saam huis toe, en Laban het die kamele laat afsaal en vir hulle voer gegee en strooi om op te lê. Vir die man het hy water gegee om sy voete te was en ook vir die mense by hom.

33. Toe hulle vir die man kos bring om te eet, sê hy: “Ek sal nie eet voor ek my opdrag uitgevoer het nie.”Laban het gesê: “Praat gerus!”

34. Toe sê die man: “Ek is 'n slaaf van Abraham.

35. Die Here het my eienaar baie geseën en hy is ryk. Die Here het hom kleinvee en grootvee gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies.

36. Sara, die vrou van my eienaar, het op gevorderde leeftyd vir hom 'n seun in die wêreld gebring, en hy is die erfgenaam.

37. My eienaar het my 'n eed laat aflê toe hy vir my gesê het: ‘Jy mag nie my seun laat trou met 'n dogter van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie.

38. Nee, jy moet na my pa se huis toe gaan, na my familie toe, en vir my seun 'n vrou gaan haal.’

39. Ek het vir my eienaar gesê: ‘Dalk sal die vrou nie saam met my wil kom nie,’

40. en toe sê hy vir my: ‘Ek leef naby die Here. Hy sal sy engel saam met jou stuur en jou in die onderneming laat slaag sodat jy 'n vrou vir my seun sal kan gaan haal by my familie, by my pa se huis.

41. Jy sal slegs van jou eed vrygestel wees as jy na my familie toe gaan en hulle nie instem nie. Dan is jy vry.’

42. “Toe ek vandag by die fontein kom, het ek gebid: Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat my tog slaag in my onderneming.

43. Hier staan ek by die fontein waar 'n jongmeisie van die stad sal kom water skep. Ek sal vir haar vra om my 'n bietjie water uit haar kruik te laat drink,

44. en as sy vir my sê: ‘Drink gerus maar, en ek sal vir jou kamele ook water skep,’ is sy die vrou wat deur U gekies is vir die seun van my eienaar.

45. “Voor ek nog klaar was om saggies te bid, kom Rebekka daar aan met 'n waterkruik op haar skouer en sy gaan af tot by die fontein en skep, en toe vra ek vir haar: ‘Gee my tog 'n bietjie water!’

46. Sy laat toe gou haar kruik van haar skouer af sak en sê: ‘Drink gerus! Ek sal u kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink en sy het die kamele ook water gegee.

47. Ek het haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ en sy het geantwoord: ‘Die dogter van Betuel seun van Nahor en Milka.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms.

48. Ek het gekniel en tot die Here gebid. Ek het Hom, die God van Abraham wie se slaaf ek is, geloof omdat Hy my reg gelei het om die dogter van die broer van my eienaar te kry as vrou vir sy seun.

49. “As u nou u verantwoordelikheid as familie teenoor my eienaar wil nakom, sê my dan. As u weier, sê my dit sodat ek kan omdraai, waarheen ook al.”

50. Toe antwoord Laban en Betuel: “Wat gebeur het, is van die Here. Ons het vir jou daaroor niks te sê nie.

51. Rebekka is hier by jou. Vat haar saam en gaan terug. Sy moet die vrou word van die seun van jou eienaar. Dit is wat die Here gesê het.”

52. Toe Abraham se slaaf hoor wat hulle sê, het hy diep voor die Here gebuig.

53. Daarna het die slaaf silwer- en goue goed en klere vir Rebekka gegee, en ook duur geskenke vir haar broer en haar ma.

54. Toe het die slaaf en die mense wat by hom was, geëet en daar oornag. Die volgende môre het hulle opgestaan en toe sê hy: “Laat my vertrek na my eienaar toe.”

55. Rebekka se broer en haar ma het egter gesê: “Laat die dogter nog 'n dag of tien by ons bly en dan kan sy gaan.”

56. Maar die slaaf het hulle geantwoord: “Moet my nie ophou nie. Die Here het my in my doel laat slaag. Laat my gaan sodat ek na my eienaar toe kan gaan.”

57. Hulle het geantwoord: “Kom ons roep die dogter en vra haar wat sy verkies.”

58. Hulle het vir Rebekka geroep en vir haar gevra: “Wil jy saam met hierdie man gaan?”Sy het geantwoord: “Ja!”

59. Hulle het hulle suster Rebekka en die vrou wat haar grootgemaak het, saam met die slaaf van Abraham en sy mense laat gaan.

60. Hulle het vir Rebekka met seënwense gegroet en vir haar gesê:“Ons suster, mag jou nageslag tienduisende word,mag hulle die stede van hulle vyande verower!”

61. Toe het Rebekka en haar slavinne op die kamele geklim en agter die man aan gegaan. Hy het haar saamgevat en hy is terug huis toe.

62. Isak het van Lagai-Roï-fontein af gekom. Hy het destyds in die Suidland gewoon.

63. Hy het teen die aand se kant in die veld gaan stap en toe sien hy meteens kamele aankom.

64. Rebekka het vir Isak gesien en van die kameel afgespring

65. en vir Abraham se slaaf gevra: “Wie is die man wat daar oorkant in die veld na ons toe aankom?”Die slaaf het geantwoord: “Dis my eienaar.” Toe vat sy haar sluier en trek dit oor haar gesig.

66. Die slaaf het vir Isak alles vertel wat gebeur het, en

67. Isak het vir Rebekka in die tent van Sara, sy ma, laat woon en met Rebekka getrou. Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad. So is Isak vertroos ná sy ma se dood.