hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 33 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jakob en Esau ontmoet mekaar

1. Toe Jakob deur die spruit was, het hy vir Esau in die verte sien aankom met vier honderd man by hom. Jakob het die kinders onder Lea en Ragel en die twee persoonlike slavinne verdeel

2. en die slavinne met hulle kinders op die voorpunt gesit. Lea met haar kinders was agter hulle en Ragel en Josef heel agter.

3. Hy self het verbygegaan tot heel voor en toe hy nader na sy broer toe kom, het hy sewe keer diep gebuig.

4. Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Esau het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil.

5. Esau het opgekyk en die vrouens en kinders gesien en toe sê hy: “Wie is al hierdie mense by jou?”Jakob het geantwoord: “Dit is die kinders wat God in sy liefde aan my gegee het.”

6. Die persoonlike slavinne het met hulle kinders nader gekom en gebuig

7. en toe het ook Lea met haar kinders nader gekom en gebuig. Josef en Ragel was heel agter en ook hulle het nader gekom en gebuig.

8. Toe vra Esau: “En wat is jou bedoeling met al daardie goed wat ek gekry het?” en Jakob antwoord: “Dit is om u vriendskap te wen.”

9. Maar Esau sê vir hom: “Broer, ek besit self baie. Wat joune is, moet joune bly.”

10. Toe sê Jakob: “Nee, as u my goedgesind is, moet u my geskenk aanvaar. Ek het na u toe gekom om u goedgesindheid te wen net soos wanneer 'n mens in die teenwoordigheid van God verskyn. En u het my vriendelik ontvang.

11. Aanvaar tog my geskenk wat vir u gebring is, want God was goed vir my en ek het oorgenoeg.”Jakob het by Esau daarop aangedring, en toe aanvaar hy die geskenk.

12. Hy het vir Jakob gesê: “Breek kamp op dat ons verder kan trek. Ek sal vooruit trek om jou te beskerm.”

13. Maar Jakob het hom geantwoord: “U sien tog self die ou kindertjies is maar klein en die lammertjies en die kalwers by my is nog swak. As 'n mens hulle net een dag te hard aandryf, is die hele klomp dood.

14. Trek u maar vooruit voor my en dan kom ek op my gemak agterna. Ek sal volgens die pas van die vee en van die kinders na u toe kom in Seïr.”

15. Toe sê Esau: “Dan los ek 'n paar van my manne by jou,” maar Jakob vra: “Waarom wil u dit doen? U is my tog goedgesind?”

16. Esau is daardie dag nog terug op sy pad Seïr toe.

17. Jakob het gaan tent opslaan by Sukkot en daar het hy vir hom 'n huis gebou. Hy het ook takkrale vir sy vee gemaak, en daarom word die plek Sukkot genoem.

Jakob koop grond naby Sigem

18. Nadat Jakob uit Paddan-Aram weg is, het hy veilig by Sigem in Kanaän aangekom. Hy het net buite die stad kamp opgeslaan.

19. Toe koop hy die stuk grond waar sy tent staan, vir honderd geldstukke by die seuns van Gamor, die pa van Sigem.

20. Jakob het daar 'n altaar gebou en dit genoem: Die God van Israel is God.