hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 37 Afrikaans 1983 (AFR83)

Josef en sy drome

1. Jakob het in Kanaän gebly, die land waar sy voorvaders ook as vreemdelinge gebly het.

2. Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob.Josef was nog jonk, sewentien, toe hy kleinvee opgepas het saam met sy broers, die seuns van Bilha en Silpa, sy pa se vrouens. Josef het slegte stories oor sy broers by hulle pa aangedra.

3. Van al sy seuns was Israel die liefste vir Josef, die seun wat in sy ouderdom gebore is, en daarom het hy vir Josef lang klere met moue gemaak.

4. Toe sy broers sien dat hulle pa vir Josef liewer het as vir enige van hulle, het hulle 'n afkeer van Josef gekry en het hulle niks goeds oor hom gesê nie.

5. Op 'n keer het Josef gedroom en dit vir sy broers vertel. Daarna was hulle afkeer van hom nog groter.

6. Hy het vir hulle gesê: “Luister na die droom wat ek gehad het. Ons was op die land besig om gerwe te bind

7. en skielik gaan staan my gerf regop en julle gerwe gaan staan daar rondom en hulle buig voor myne.”

8. Toe sê sy broers vir hom: “Jy verbeel jou jy sal oor ons koning word. Dink jy dalk jy sal oor ons regeer?”Oor sy drome en sy praatjies het hulle 'n nog groter afkeer van hom gekry.

9. Hy het ook nog 'n ander droom gehad en hy het dit vir sy broers vertel. Hy het gesê: “Ek het weer gedroom. Die son en die maan en elf sterre het voor my kom buig.”

10. Toe hy dit vir sy pa en sy broers vertel, het sy pa hom berispe en vir hom gesê: “Wat vir 'n soort droom is dit wat jy gehad het? Verbeel jy jou ek en jou ma en jou broers moet voor jou kom buig?”

11. Sy broers was afgunstig op hom, en sy pa het aan die droom bly dink.

Josef word 'n slaaf

12. Josef se broers het hulle pa se kleinvee gaan oppas in Sigem.

13. Toe sê Israel vir Josef: “Kyk, jou broers pas die kleinvee op in Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.”Josef het geantwoord: “Goed, Pa!”

14. Toe sê Israel vir hom: “Gaan kyk of alles nog reg is by jou broers en met die kleinvee en kom vertel my alles.”Israel het hom van die laagte by Hebron af gestuur na Sigem toe.

15. Hy het daar in die veld rondgesoek, en toe kom 'n man by hom en dié vra vir hom: “Wat soek jy?”

16. Josef antwoord hom: “Ek soek my broers. Kan jy my dalk sê waar hulle die kleinvee oppas?”

17. Toe sê die man: “Hulle het van hier af versit. Ek het gehoor hulle sê hulle wil na Dotan toe gaan.”Josef is toe agter sy broers aan en hy het hulle by Dotan gekry.

18. Hulle het hom al van ver af gesien en voor hy by hulle gekom het, het hulle ooreengekom om hom dood te maak.

19. Hulle het naamlik vir mekaar gesê: “Kyk, daar kom die ou dromer aan.

20. Kom ons maak hom dood en gooi hom in 'n put. Ons kan sê 'n roofdier het hom opgevreet. Dan sal ons sien wat word van sy drome.”

21. Ruben het hulle hoor praat en omdat hy vir Josef wou red, het Ruben gesê: “Nee, ons moet hom nie doodmaak nie.

22. Moenie moord pleeg nie. Gooi hom liewer in hierdie put hier in die veld. Moenie sy lewe neem nie.” Ruben het dit gesê sodat hy vir Josef kon red en hom na sy pa toe kon terugstuur.

23. Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het,

24. en vat hom en gooi hom in die put. Dit was 'n droë put, sonder water.

25. Daarna het hulle gaan sit en eet, en toe hulle weer sien, kom daar 'n klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Hulle was op pad na Egipte toe en op hulle kamele was daar gom, balsem en hars gelaai.

26. Toe sê Juda vir sy broers: “Watter nut het dit vir ons om ons broer dood te maak en dit dig te hou?

27. Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie sy lewe neem nie, hy is ons broer, hy is bloedfamilie.”Juda se broers het na hom geluister,

28. en toe daar van die Midianitiese handelaars verbykom, het die broers vir Josef uit die put uit opgetrek en vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop en dié het hom Egipte toe gevat.

29. Toe Ruben terugkom by die put, was Josef nie daar nie. Ruben het sy klere geskeur

30. en teruggegaan na sy broers toe en vir hulle gesê: “Die kind is weg! Wat moet ek nou doen?”

31. Maar sy broers het 'n boklam geslag en die klere van Josef gevat en in die bloed gedoop.

32. Toe stuur hulle Josef se klere met 'n boodskap vir hulle pa: “Ons het dít opgetel. Kyk of dit dalk u seun se klere is.”

33. Israel het dit herken en gesê: “Dit is my seun se klere. 'n Roofdier het hom opgevreet. Josef is opgevreet!”

34. Jakob het sy klere geskeur en rouklere aangetrek. Hy het lank oor sy seun getreur.

35. Al sy kinders het vir Jakob probeer troos, maar hy wou hom nie laat troos nie. Hy het gesê: “Ek sal bly treur oor my seun tot ek by hom in die dood is.”So het Josef se pa bly treur oor hom.

36. Die Midianiete het vir Josef in Egipte verkoop aan Potifar. Hy was aan die farao se paleis verbonde as hoof van die lyfwag.