hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Abraham trou weer

1. Abraham het weer getrou, met Ketura.

2. Sy het vir hom in die wêreld gebring: Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag.

3. Joksan was die vader van Skeba en Dedan. Die mense van Assur, Letus en Leüm was die nasate van Dedan.

4. Die seuns van Midian was: Efa, Efer, Ganok, Abida en Eldaä. Al hierdie mense het van Ketura afgestam.

5. Abraham het alles wat hy nagelaat het, aan Isak laat toekom,

6. maar terwyl Abraham nog geleef het, het hy geskenke aan die seuns van sy byvrouens gegee en die seuns weggestuur na Kedem toe in die ooste, weg van Isak af.

Abraham sterf

7-8. Abraham het op hoë ouderdom gesterf. Hy het honderd vyf en sewentig jaar oud geword en was 'n grysaard met 'n vol lewe agter die rug toe hy gesterf het.

9. Sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die Makpelagrot oos van Mamre op die stuk grond wat vroeër behoort het aan die Hetiet Efron seun van Sogar.

10. Abraham het hierdie stuk grond by die Hetiete gekoop, en hy en sy vrou Sara is albei daar begrawe.

11. Na Abraham se dood het die Here Abraham se seun Isak geseën, en Isak het by Lagai-Roï-fontein gaan woon.

Ismael se nageslag

12. Hier volg besonderhede oor die nageslag van Abraham se seun Ismael wat deur Hagar, die Egiptiese slavin van Sara, vir Abraham in die wêreld gebring is.

13. In volgorde van hulle geboorte was Ismael se seuns: Nebajot, Kedar, Adbeël, Mibsam,

14. Misma, Duma, Massa,

15. Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma.

16. Die name van hierdie seuns van Ismael is ook gegee aan hulle nedersettings en blyplekke. Hulle was die twaalf leiers van hulle stamme.

17. Ismael was honderd sewe en dertig jaar oud toe hy gesterf het en begrawe is.

18. Sy nageslag het gewoon in die gebied van Gawila af tot by Sur, oos van Egipte in die rigting van Assur, en hulle het met al Ismael se broerskinders oorlog gemaak.

Die tweeling Esau en Jakob

19. Hier volg besonderhede oor Isak seun van Abraham:Abraham was Isak se pa,

20. en toe Isak veertig jaar oud was, het hy met Rebekka getrou. Sy was die dogter van Betuel, 'n Arameër uit Paddan-Aram, en 'n suster van Laban die Arameër.

21. Isak het tot die Here gebid oor sy vrou, want sy was kinderloos. Die Here het sy gebed verhoor, en sy vrou Rebekka het swanger geword.

22. Die kinders het in haar teen mekaar gestamp, en toe sê sy: “Waarom gebeur so iets met my?”Sy het toe die Here gaan raadpleeg,

23. en Hy het vir haar gesê:“Daar is twee nasies in jou,twee volke uit jou sal van mekaar geskei word.Een sal sterker wees as die ander,die oudste sal die jongste dien.”

24. Toe Rebekka haar kinders in die wêreld bring, was dit tweelingseuntjies.

25. Die eerste is gebore: rooi, vol hare soos 'n veljas, en hy is Esau genoem.

26. Sy broer is na hom gebore en dié se hand het aan Esau se hakskeen vasgehou. Hy is Jakob genoem. Isak was sestig jaar oud toe hulle gebore is.

27. Die seuns het grootgeword. Esau was 'n ervare jagter, 'n man van die veld; Jakob was 'n rustige mens, hy het tuis gebly.

28. Isak het vir Esau voorgetrek, want Isak het van wildsvleis gehou. Rebekka weer het vir Jakob voorgetrek.

29. Op 'n dag terwyl Jakob lensiesop aan die kook was, kom Esau doodmoeg uit die veld daar aan

30. en sê vir Jakob: “Laat my gou van die rooi goed wegsluk, van daardie rooi goed. Ek is doodmoeg!”Daarom is hy Edom genoem.

31. Toe sê Jakob vir hom: “Verkoop eers jou reg as eersgeborene aan my.”

32. Esau het geantwoord: “Ek gaan tog sterf. Wat baat dit my om die eersgeborene te wees?”

33. Jakob sê toe vir hom: “Beloof my nou met 'n eed dat jy jou reg as eersgeborene aan my oormaak.”Esau het dit gedoen en so sy reg as eersgeborene aan Jakob verkoop.

34. Daarna het hy vir Esau brood en lensiesop gegee, en hy het geëet. Toe hy klaar was, het hy uitgestap.Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene.