hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die geboorte van Isak

1. Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het. Hy het sy belofte aan haar nagekom.

2. Sy het swanger geword en in Abraham se ouderdom vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Dit het gebeur op die tyd wat God vir Abraham beloof het.

3. Hy het die seun wat vir hom gebore is, die een wat deur Sara in die wêreld gebring is, Isak genoem.

4. Soos God vir Abraham beveel het, het hy vir Isak besny toe hy ag dae oud was.

5. Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak gebore is.

6. Sara het toe gesê: “God het gemaak dat mense vir my lag: elkeen wat van Isak hoor, sal vir my lag.”

7. Sy het verder nog gesê: “Wie sou vir Abraham kon sê dat Sara seuns aan haar bors sal voed? Ek het in sy ouderdom 'n seun in die wêreld gebring.”

Abraham stuur vir Hagar weg

8. Die kind het grootgeword en die dag toe hy gespeen is, het Abraham 'n groot fees gehou.

9. Toe Sara die seun wat Hagar die Egiptiese slavin vir Abraham in die wêreld gebring het, sien lag,

10. sê sy vir Abraham: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg. Die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erf nie.”

11. Abraham het ter wille van sy seun Ismael baie sleg gevoel oor wat sy gesê het,

12. maar God het vir Abraham gesê: “Moenie sleg voel oor die kind en oor jou slavin nie. Luister na alles wat Sara vir jou sê, want uit Isak sal jou nageslag gebore word.

13. Tog sal Ek die seun van die slavin 'n nasie laat word, want hy is jou kind.”

14. Vroeg die volgende môre het Abraham kos gevat en 'n velsak water en dit vir Hagar gegee. Hy het dit saam met die kind op haar rug gesit en haar weggestuur. Sy is toe weg en het in die Bersebawoestyn rondgeswerf.

15. Toe die water in die velsak opraak, het sy die kind onder 'n doringbos neergesit

16. en 'n entjie daarvandaan gaan sit, omtrent so ver as 'n mens met 'n pyl en boog kan skiet, want sy het gedink: ek wil nie sien as die kind doodgaan nie. Terwyl sy so daar sit, het sy begin huil.

17. God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor.

18. Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom 'n groot nasie laat word.”

19. Toe het God haar oë oopgemaak en sy het 'n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en vir die kind water gegee.

20. God was by die kind en hy het groot geword. Hy het in die woestyn gewoon en het handig geword met die pyl en boog.

21. Hy het in die Paranwoestyn gewoon, en sy ma het hom met 'n vrou uit Egipte laat trou.

Abraham en Abimelek sluit 'n ooreenkoms

22. Destyds het Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, na Abraham toe gegaan, en Abimelek het vir hom gesê: “God is by jou in alles wat jy aanpak.

23. Beloof my dan nou met 'n eed in die Naam van God dat jy nie vals sal optree teen my of my kinders of my kleinkinders nie, dat jy net so eerbaar sal optree teenoor my en teenoor die land waarin jy nou woon, as wat ek teenoor jou opgetree het.”

24. Toe het Abraham gesê: “Ek beloof dit.”

25. Abraham het toe by Abimelek beswaar gemaak oor die waterput wat deur Abimelek se slawe afgevat is.

26. Toe sê hy vir Abraham: “Ek weet nie wie dit gedoen het nie. Jy het my dit ook nie voorheen vertel nie. Ek hoor nou eers daarvan.”

27. Daarna het Abraham kleinvee en grootvee gevat en vir Abimelek gegee, en hulle twee het 'n ooreenkoms gesluit.

28. Abraham het ook nog sewe skaaplammers uit sy trop uitgekeer,

29. en Abimelek het vir hom gevra: “Wat wil jy maak met die sewe skaaplammers wat jy uitgekeer het?”

30. Abraham het geantwoord: “Jy moet hierdie sewe lammers by my vat en daarmee erken dat ek hierdie put gegrawe het.”

31. Die plek word Berseba genoem, want daar het hulle twee 'n eed teenoor mekaar afgelê.

32. Nadat hulle die ooreenkoms by Berseba gesluit het, het Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, teruggegaan na die land van die Filistyne toe,

33. en Abraham het 'n tamarisk by Berseba geplant en daar die Naam van die Here, die ewige God, aangeroep.

34. Abraham het lank in die land van die Filistyne gewoon.